NAC: Hande gevou terwyl Rome brand
NAC: Hande gevou terwyl Rome brand

NAC: Hande gevou terwyl Rome brand

Die lugvaartbedryf se aanbod om met verbeterings by die internasionale lughawe te help, is geïgnoreer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die plaaslike lugvaartbedryf probeer reeds twee jaar lank om die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) te help om kritieke sekuriteitsprobleme by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako te takel, maar dié gegewe perd is keer op keer in die bek gekyk.

Mnr. Phillip Ellis, president van die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging (Aopa), sê hulle het selfs argiteksketse en bourekenaarsberekeninge vir noodsaaklike strukturele veranderinge by die lughawe aan die NAC voorgelê.

“Ons het ook aangebied om ’n finansiële ooreenkoms aan te gaan ingevolge waarvan die bedryf die grootste deel van die koste sal dra en dit in die toekoms van landingsregte en passasiersfooie verhaal.

“Die NAC se reaksie was om ons te ignoreer totdat mnr. (Albertus) Aochamub as (waarnemende) uitvoerende hoof aangestel is. Ons het opnuut al die inligting en studies aan hom voorgelê en dit het gelyk of hy die kwessie verstaan en bereid is om ons voorstel te aanvaar. Die volgende wat gebeur het, is dat sy dienste beëindig is,” het Ellis gister aan Republikein gesê.

Hy het verduidelik een van die sleutelbekommernisse vir Aopa is dat passasiers wat invlieg van lodges af (sogenaamde niesteriele passasiers), meng met passasiers wat op geskeduleerde vlugte moet vertrek en reeds deur die skanderingsproses is (steriele passasiers).

“Icao (die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie) se sekuriteitsregulasies verbied eenvoudig só ’n situasie,” sê hy en voeg by dit is vir die koste van die nodige strukturele veranderinge aan die lughawegebou dat Aopa aangebied het om pa te staan.

Aochamub, voorheen pres. Hage Geingob se mediasekretaris, is vroeër vanjaar na dié warm stoel by die Lughawensmaatskappy geskuif, maar is enkele maande later, ná ’n goue handdruk, deur die direksie van sy pligte onthef.

Mnr. Lot Hafidi, wat voorheen as uitvoerende hoof waargeneem het, is toe wéér in ’n waarnemende hoedanigheid aangestel.

Verskeie hoëvlakvergaderings is die afgelope dae tussen belanghebbendes gevoer, terwyl paniek aan vele fronte oplaai oor die sekuriteitsoudit wat Icao ingevolge die Chicago-konvensie van 18 tot 28 November by dié lughawe sal uitvoer.

Icao is ’n organisasie van die Verenigde Nasies (VN) en tree as die internasionale waghondliggaam vir veiligheid in lugvaart op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!