Nafau hoor mu00f4re oor Shoprite
Nafau hoor mu00f4re oor Shoprite

Nafau hoor môre oor Shoprite

Die vakbond sê die kettingwinkelreus gebruik seisoenwerkers om stakers te vervang.
Augetto Graig
Augetto Graig – Regter Shafimana Ueitele sal môre om 15:00 sy uitspraak lewer in terme van die dringende aansoek ingedien deur die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) teen Shoprite Namibia se gebruik van seisoenwerkers om stakende werkers te vervang.

Meer as 2 000 van Shoprite se 4 600-plus werknemers landswyd is sedert 23 Desember op staking. Die vakbond beskuldig Shoprite onder meer dat hy seisoenwerkers gebruik om die stakendes se werk te doen. Shoprite het 270 seisoenwerkers aangestel voordat die staking begin het, in lyn met lank bestaande praktyk.

Ueitele het gister in Windhoek se hoërhof na voorleggings van prokureurs aan albei kante geluister en het, volgens hom, die versoeking weerstaan om onmiddellik sy uitspraak te lewer, omdat hy die namiddag op verlof sou gaan.

Wat die regter sal besluit, kan nie voorspel word nie, veral nadat regter Nate Ndauendapo net voor Kersfees ’n vorige dringende aansoek tot dieselfde doel van die rol geskrap het, weens ’n tegniese punt met betrekking tot die magtiging van die aansoekrespondent en hoofsekretaris van Nafau, mnr. Jacob Penda.

Nogtans kan die stakende werknemers van Shoprite, Checkers en U-Save winkels landswyd hoop vind in regter Ueitele se benadering tot die meerderheid van die hoofargumente wat die reusekettingwinkelgroep se prokureurs voorgegee het. Adv. Tuhafeni Muhongo het opdraand gekry toe hy voor die regter moes uitbrei oor presies hoekom Shoprite die hoërhof se jurisdiksie oor die saak bevraagteken.

Ueitele het besonderhede gesoek in verband met Shoprite se beskuldigings dat Nafau-lede die staking se ooreengekome reëls oortree het en het min geduld getoon vir die argument dat die oortreding van stakingreëls geskei moet word van die oorspronklike geskil oor vergoeding en werksomstandighede.

Nog erger was toe die regter by die advokaat wou weet oor die bedoeling van Shoprite se aksies in verband met die impak van die wetlike staking. “’n Wettige staking bestaan om ’n sin of mate van gelykheid na onderhandelinge te bring,” het Ueitele gesê.

“Die kern van die saak, soos ek die hofdokumente verstaan, is of Shoprite die reëls van die staking omseil en so die staking ondermyn,” het Ueitele aan Muhongo gesê.

Ueitele is ook oortuig die regshulp gesoek deur die aansoek is wel gemik op Shoprite en nie op enige ander onverteenwoordigde party nie. Shoprite se standpunt dat seisoenwerkers al jare gedurende spitstye aangestel word, maak volgens Ueitele geen verskil nie. “Die karakterisering van die werknemer is onbelangrik,” het die regter gesê.

Verder moes Muhongo erken dat dit teen Namibië se arbeidswet artikel 76 is om werknemers te dwing om stakende werkers se werk te doen, of om ’n bestuurder opdrag te gee om self ’n handlanger se werk te doen.

“Het Shoprite nie ’n plig om die oortreding van die wet te verbied nie?” wou Ueitele by die advokaat weet.

Muhongo het saam met die prokureur mnr. Kennedy Haraseb Shoprite se saak gestel, terwyl Nixon Marcus van die openbare regsfirma met dieselfde naam, met die prokureur me. Uno Katjipuka-Sibolile vir Nafau verteenwoordig het. “Hierdie is ’n dringende kwessie van belang vir albei partye,” het Ueitele gesê voor hy die hof tot Vrydag verdaag het. Hy het beloof om die redes vir sy komende besluit teen einde Januarie of vroeg Februarie vry te stel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer