Nag in Suide
Nag in Suide

Nag in Suide

Nampower het tientalle dorpe ‘n week gegee om miljoene dollar se agterstallige skuld te betaal.
Augetto Graig
Augetto Graig – Meer as 47 dorpe en nedersettings, die meeste in die Suide, sal volgende week in die donker gehul wees as NamPower hul krag weens agterstallige skuld afsny.
Die totale skuld beloop N$46,5 miljoen.

Volgens ‘n advertensie gister in ‘n dagblad sal kraglewering na dié plekke volgende Woensdag gestaak word indien uitstaande skuld teen 10:00 nie vereffen is nie. NamPower sê die besluit is geneem ná voortgesette gesprekke met die dorpe geen “positiewe resultate” gelewer het nie.

Mariental, Rehoboth, Maltahöhe, Bethanie, Gibeon en Tses, asook nedersettings soos Groot Wortel, Blouwes en Vaalgras is almal op NamPower se swartlys. So ook Kombat, Koës, Kalkrand, Berseba, Bloukras, Hatsamas, Kanubeb and Groot Aub.

TERUGVOER

By navraag het mnr. Paul Nghiwilepo, uitvoerende hoof van die Mariental-munisipaliteit, egter gesê inwoners het niks om te vrees nie.

“Ons het 'n ooreenkoms (met NamPower) bereik en ons skuld is minimaal,” het hy aan Republikein gesê.

Volgens Nghiwilepo beloop dié dorp se agterstallige skuld N$3,4 miljoen. In ag genome Mariental se gemiddelde maandelikse rekening van tussen N$4 miljoen en N$6 miljoen, is dié bedrag nie veel nie, meen hy.

“Ons sukkel,” sê hy. “Dit is die ministeries wat nie betaal nie. Hulle sê hulle het nie geld nie. Van hulle is twee of drie maande agterstallig. Ander skuld van Oktober af en sê hulle sal eers teen die einde van Februarie regmaak. Weens die finansiële probleme van die regering is hulle traag om ons te betaal,” sê hy.

Om hiervoor te vergoed, sal die munisipaliteit nou in sy beleggings moet delf, “wat nie goed vir ons toekoms is nie”. “Dit is baie moeilik en nie die beste opsie nie,” sê Nghiwilepo.

Gibeon

Onsekerheid heers oor Rehoboth se situasie. Die dorpsraad het gistermiddag tydens 'n beplanningsvergadering kort- en langtermynoplossings bespreek, het mnr. Christof /Uirab, die dorp se uitvoerende hoof, gesê.

Gibeon se uitvoerende hoof, me. Desire Theunissen, erken die dorp se agterstallige skuld van N$1,1 miljoen is aansienlik, maar sê dit het met tyd opgehoop.

“Ons het uitdagings op Gibeon. Daar is hoë werkloosheid en soms is dit onmoontlik vir die dorp om die hele bedrag in een maand te betaal.

“Ons onderhandel nou met NamPower, maar ons het 'n kontantvloeiprobleem. Ons is voorts besig met gesprek met die ministerie (van stedelike en landelike ontwikkeling) oor aanvraagkoste wat hulle nog nie betaal het nie.

“Ons kyk ook na interne maatreëls soos die invorder van erfbelasting. Die waardasieproses het verlede jaar begin en ons lig die gemeenskap in oor die koop van erwe en die verkryging van hul titelaktes. Hulle verwelkom dit, omdat ons skaalvoordele en bekostigbare tariewe in ag neem. Ek bly bekommerd oor die minderbevoorregtes hier,” sê Theunissen.

Kalkrand se waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Ruben Shipanga, sê betalings word gemaak.

“Ons het gereël vir 'n betaling van N$300 000, terwyl ons uitstaande bedrag N$600 000 is. Ons het NamPower vir genoeg tyd gevra om dit af te handel. Ons moes ook ons onder verskaffer, NamWater, betaal,” het hy gesê.

WATERPROBLEME

Kleiner plekke soos Noordoewer sal dubbel getref word wanneer die pompstasie wat water aan die dorpie voorsien, ook weens die kragonderbreking stilstaan.

Vrae aan die Karas-streeksraad waaronder dié grensdorpie val, was teen druktyd nog onbeantwoord.

Ander betrokke nedersettings wat direk onder die streeksraad val is Kosis-dorp, Koichas, Gainachas, Driehoek en Gabis, Ubib, PLO 224, Aubgaus, Bloedvlei, Nomexas, Constantia, Warmbad, Aus-dorp, Satco, Koichase 1B, Kutenhoas, Klein Wortel, Itzawisis, Ganigobus, Ariamsvlei, NamPower Village, Khomnarib, Weltevrede en Rooiwang.

Mnr. John Titus, direkteur van energie in die ministerie van myne en energie, het die ontvangs erken van vrae wat Republikein aan hom gerig het. Terugvoering in dié verband was teen druktyd nog nie ontvang nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!