Nagbeeld u2019n voorspel tot u2019n jaar van voorspoed
Nagbeeld u2019n voorspel tot u2019n jaar van voorspoed

Nagbeeld ’n voorspel tot ’n jaar van voorspoed

Des Erasmus
Des Erasmus - Ek het ‘n droom gehad. Dit was helder soos die Sewegesternte toe die misbanke in ‘n nag van die ná-Desember oor die barre vlaktes van die see se Namib verdwyn het.

Net agter die duinegordel wat Swakopmund en Walvisbaai met sand verbind, is alleen in ‘n spleet gestaan waar die soutpad deur die stilte kloof. Op regs was Duin 7, maar die keer van marmer. Op links die vallei van die magtige Kuisebrivier uit die binneland. Op die kruin van die Sewesduin het ‘n kruis effens in die ligte nagwind geroer. In ‘n wiegie gevleg van biesies en riet het ‘n pasgebore seuntjie in die kaia van die veld gelê.

Voor my het ‘n lig oor die paddraai gevloei. Maar dié keer was dit ‘n weg van goud. Ver in die rigting van Rooikop was ‘n gloed asof van ‘n brandende wildebraam. In die newelwand was daar sang soos deur ‘n jongvroukoor.

“Die Heiland is gebore . . . ”

Uit suiwere respek het die suidwestewind my hoed van my kop gewaai. Plakkies is uitgeskop, want dit was kaalvoet op heilige grond.

Drome is gewoonlik gou vergete, maar dié een het helder gebly soos die groot ster wat in die ooste aan die kim gehang het. Selfs toe die slaap teruggekeer het, het die verskynsel uit die onderbewuste in die rigting van die werklikheid voortgerol.

Die verbeeldingsvlug van die tweede droom was die vlakte suid van Berseba waar die waarsegger, siener en profeet in vrede bly. Net Hans was sy naam, maar in die hoofletter H was die diepe respek vir die man. Hans het geweet dat ‘n swanger vrou ‘n seunskind dra, het die plekke uitgewys waar in die barre landskap die vlak waters vir die putgrawers skuil en het in die vlug van die reënvoëls geweet wanneer die groot reën gaan kom. In die Bybelse tye sou hy in die uitleg van ‘n vorstedroom ook wis dat die Nebukadneserbeeld se voete net van klei is.

Drie Namibiese identiteite was in Hans in een man saamgevang. Oor sy bruin gesig was ‘n volbaard lank en wit soos sneeu. Swart was die mantel wat hy immer dra. Sy wondere het hy nie opgeteken nie, maar het hy die dankbaarheid teenoor sy Skepper vir sy gawe in liefde gekoester en dit in eenvoud gedra. Hy was die hoofman se raadgewer en die vrind van die nomadiese boere se veewagters en herders van die velde.

Aan hom is die droom vertel.

Die vallei waarin beweeg is, is wat die Kalahari-manne die strate noem waar dit deur die duineveld kronkel, het Hans vertel. Dis die roete wat elke mens moet volg. Selfs met skatte kan ‘n omweg nie gekoop word nie en vir die armes is daar geen ontvlugtingsroete nie. Dis die tonnel waardeur alle lewe net moet gaan.

Die houtkruis op die marmerduin is soos die krip in die vallei simbole van die koms, die lewe en die dood van die Christuskind. Die uur van die nagtelike belewenis was die Kersgety van 2016 waardeur die mensdom nou beweeg. Dis ewige waarhede waaraan die moderne wêreld nie kan ontkom nie. Dis soos die groter ster in die ooste, die bos wat nie wil uitbrand nie en die engelekoor in die ligkring van sy vlam.

Die goue plaveisel van die nag se soutpad was ‘n uitbeelding van die weg na die ewige lewe in die sorg van die Vredevors. “Hy’s die skepper van die droom wat ook jou beskore was”.

En die gloed van die aankomende lig op die baan van suiwer goud?

So vra ek Hans.

“Dis nie ‘n gloed wat kom nie, dis een wat gaan,” sê Hans. “Dis soos ‘n winkende hand wat roep, ‘n voorteken van voorspoed wat wag waar die trane afgedroog gaan word en die siekes gesond gaan word.”

Soos my wens vir elke Namibiër vir 2017 is die voorspoed wat net agter die kruis op Duin 7 wag.

“Sien jou daar,” groet ou Hans.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!