Nagmerrie-reis beproef geduld

’n Namibiese onderwyser in die buiteland se repatriasie te midde van Covid-19 was ’n frustrerende ervaring.
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt



Petronella Erasmus het met die stomp kant van burokrasie te make gekry tydens haar terugreis na Namibië uit Kambodja, wat begin het sonder enige hulp of medewerking van die Namibiese owerhede.

Ter afsluiting was daar die verdere frustrasie om vir meer as 20 dae in kwarantyn gehou te word nadat haar Covid-19-toetsuitslag spoorloos verdwyn het.

“Dit is vir my baie onaanvaarbaar. Iewers moet iemand verantwoordelikheid vat vir wat gebeur het,” sê Erasmus oor die toetsuitslag.

Die 29-jarige Erasmus het sedert laasjaar as Engelse onderwyseres in Thailand gewerk, totdat die Covid-19 pandemie wêreldwyd paniek veroorsaak, landsgrense laat sluit en tot reisbeperkings gelei het.

In Mei vanjaar het Erasmus e-posse begin uitstuur na Namibië se hoë kommissaris in Maleisië vir bystand om terug te keer Namibië toe – sonder enige antwoord van hulle vir meer as ’n maand.

Erasmus en haar vriendin het in Kambodja ’n groep Suid-Afrikaanse burgers ontmoet wat op ’n repatriasievlug terug na die buurland bespreek was. Op geloof het die twee vroue hul vliegkaartjies op dieselfde vlug bespreek in die hoop om ’n antwoord en ’n toestemmingsbrief te kry van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (DIRCO) deur die Namibiese ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking (MIRCO).

Nadat hulle in Suid-Korea geland het, is Erasmus en haar vriendin se aansluitingsvlug gekanselleer vanweë dokumente en ’n brief wat geskort het. Vir bykans 18 uur was hulle in Suid-Korea in transito gestrand. Gedurende hierdie tydperk het Petronella net, soos in die week voor die reis, ’n angsaanval beleef – onder meer nadat die lugdiens hul vliegkaartjies wou kanselleer omdat hulle nie oor die toestemmingsbrief beskik het nie.

Van die Suid-Afrikaners het persoonlike kontakte by DIRCO gehad wat gehelp reël het vir die brief wat MIRCO klaarblyklik nie vir hulle kon kry nie.

By ontvangs van die brief was Erasmus se paspoortnommer egter verkeerd aangedui en haar vriendin se naam verkeerd gespel. Ná ’n gesukkel om dié foute reg te stel, was die vroue uiteindelik op pad terug na Suid-Afrika.

In die buurland het die vroue private vervoer deur Suid-Afrika gereël tot waar hulle by die Nakop- en Ariamsvlei-grensposte deur is.

In kwarantyn op Ais-Ais was dié twee op dag 11 getoets, waarna hulle vir sewe dae op hul toetsuitslae gewag het. Erasmus se vriendin het op 12 Augustus haar toetsuitslae gekry (dag 18 van kwarantyn) en is terug huis toe op Rehoboth.

Erasmus moes egter langer wag om vir die tweede keer getoets te word nadat haar toetsuitslag spoorloos verdwyn het, sonder enige verduideliking.

Volgens die Covid-19 regulasies in daardie stadium moes gerepatrieerde Namibiërs vir 14 dae in kwarantyn bly. Die gewysigde regulasie van sewe dae in kwarantyn het in werking getree terwyl hulle daar was.

Op dag 22 van kwarantyn is Erasmus se Covid-19-uitslag as negatief ontvang en sy is uit kwarantyn ontslaan. Haar toets – as dringend gemerk – is in Keetmanshoop ontleed en die uitslag is binne twee dae verkry.

Volgens Erasmus was die diens en die maaltye op Ais-Ais goed, ten spyte van die emosionele knou wat sy weens haar hele ervaring gekry het. Sy het wel haar misnoeë uitgespreek dat mense wat tot ’n week ná haar aangekom het vroeër as sy die kwarantyngerief kon verlaat.

Die dokter aan diens by Ais-Ais, sowel as betrokkenes by die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) kon nie bereik word vir kommentaar oor die proses waartydens die toetsuitslag weggeraak het nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!