Nakale-soektog nou polisieondersoek
Nakale-soektog nou polisieondersoek

Nakale-soektog nou polisieondersoek

Die soektog is afgestel, hoewel nuwe inligting steeds nagespeur sal word.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die soektog na klein Mandela Nakale (3) is nou amptelik 'n polisieondersoek. 'n Saak van ontvoering is geopen.

Volgens die Namibiese polisie se koördineerder vir misdaadbekamping in die ||Karasstreek, hoofinspekteur Theodore Kotungondo, het die soektog na die seuntjie wat sedert einde Desember vermis word, weens 'n tekort aan mannekrag en ander hulpbronne gestop, terwyl die polisieondersoek binnekort sal afskop.

“Ons verander ons strategie na wat ek noem Fase 2. 'n Kriminele saak van ontvoering is geopen. Dit volg op die werk van die polisiehonde wat die seuntjie se spoor tot naby aan 'n strand gevolg het. Mense besoek die strand en een van hulle kon die seun gevat het en om een of ander rede nie aan die polisie of die familie terug­besorg het nie.

“Die saak is geopen, maar daar is steeds geen leidrade nie. Indien nuwe inligting opduik, kan ons die soektog ook hervat, maar intussen het ons besluit om ons fokus tot die ondersoek te beperk, ook omdat soveel tyd nou reeds verbygegaan het,” brei hy uit.

Die opsie om die nabye Tsau ||Khaeb Nasionale Park te deursoek, is ook iets wat veral Nakale se pa wil opvolg, sê Kotungondo.

“Die plek waar hy verdwyn het, is nie baie ver van die nasionale park nie. Dit is een moontlikheid wat ons nog nie ten volle uitgeskakel het nie. Ons sal dit ook nog dek,” sê hy.

Die polisieondersoek kry egter eers voorkeur. Die hoofkantoor in Windhoek is genader en by die hoof van die Namibiese polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, is toestemming versoek om 'n span van vier of vyf ervare speurders vanaf Keetmanshoop na Lüderitz te stuur om vir 'n volle week ondersoek te gaan instel, sê Kotungondo.

Dié span sal nuwe leidrade probeer opspoor, met betrokke persone ­onderhoude voer, beeldmateriaal van sekuriteitskameras deurkyk en ander ondersoektegnieke toepas – na verwagting vroeg in Februarie, sê hy.

Klein Nakale is laas omstreeks 12:00 op 28 Desember op Lüderitz gesien, toe hy met 'n vierjarige dogtertjie en ander kinders van die gebied langs die lughawepad, naby aan NHE en sowat 'n kilometer vanaf Area 7 gespeel het. Hy het 'n rooi T-hemp aan gehad, met 'n blou langbroek en sandale. Teen 18:00 is die meisie gekry met die ander kinders op soek na Nakale. Volgens die polisieverslag is dit onduidelik hoe hy van die groepie geskei is.

Enig­iemand met inligting word versoek om sy ouers by 081 695 4974 of 081 219 3691, of vir Kotungondo by 081 355 1422, of adjudant-offisier ­Kenahama by 081 317 6432 te kontak. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!