Nakathila in kollig tydens vieringe
Die land se beroepsvegters is opnuut daarop uit om hul pad boontoe oop te veg.
Tielman van Lill - Die MTC Nestor Sunshine Tobias Boksakademie gaan op 28 Maart Namibië se 30ste jaar van onafhanklikheid met 'n boksfees soos min by die Windhoek Buiteklub gedenk.
'n Propvol program met elf watertandgevegte wag op boksliefhebbers.
Die ander agt voorgevegte is 'n lekker losmaker vir die groot kanonne soos Walter Kautondokwa (The Executioner), Mikka Shonena (Silent Assassin) en die hoofgeveg waarin Jeremiah Nakathila (Low Key) deur die kryttoue klim.
Dit is Kautondokwa se eerste geveg as supermiddelgewig (76 kg) nadat hy die middelgewigklas (72.5 kg) ontgroei het en nou sy drome in die uiters mededingende kategorie wil verwesenlik.
Die 35-jarige Laksman se laaste geveg was verlede jaar op 26 Oktober in Kazakstan teen Kanat Islam oor 12 rondes vir die Wêreldboksorganisasie (WBO) se internasionale middelgewigtitel.
Kautondokwa het wel die geveg met punte verloor, maar sy kamp reken die beslissing was opnuut sprekend van eenogige tellinghouers wat die Laksman van 'n welverdiende sege beroof het.
Alick Mwenda, sy 35-jarige teenstander van Malawi, beskik oënskynlik glad nie oor die nodige vernuf om Kautondokwa hok te slaan nie. 'n Uitklophou deur Die Laksman binne die eerste drie rondes word voorspel en lyk na 'n uitgemaakte saak vir dié vegter se getroue ondersteuners.
Hoewel Kautondokwa nie meer deur die WBO onder sy top-15 middelgewigte gereken word nie, is en bly hy 'n gevaarlike harde slaner met krag in beide vuiste wat 'n os sal neervel.
Weens sy ouderdom sal hy in sy volgende gevegte moet beïndruk, ook met die regte bewegings deur sy vegknopers, om hom in die supermiddelgewigklas weer op die WBO se wêreldranglys te plaas en in posisie vir 'n wêreldtitelgeveg te bring.
Die Amerikaner Billy Joe Saunders hou tans die WBO se wêreldtitel, met Erik Bazinyan (Kanada) as die eerste aanspraakmaker. Die Aussie Rohan Murdock (2de) en Brit Zach Parker (3de) wag ook hul kans af om Saunders te mag uitdaag.
SHONENA
Mikka Shonena (31) sal in die hoofvoorgeveg teen Twaha Kiduku (28) van Tanzanië sy WBO Afrika-weltergewigkroon (67 kg) verdedig.
Kiduku is geen beginner nie (15 gewen, ses verloor, een gelykop) en kan Shonena 'n moeilike tyd besorg.
Die stil en beskeie Shonena spog met 'n onoorwonne rekord en sal dit so teen die Tanzaniër wil hou. Die Silent Assassin pronk deesdae op die WBC se wêreldranglys as sesde aanspraakmaker op Terence Crawford se wêreldtitel – agter boksers soos Egidijus Kavaliauskas van Litoue (1ste) en die Amerikaners Jessie Vargas (2de) en Danny Garcia (3de).
Daar is 'n moontlikheid dat Shonena reeds einde Februarie tot die vierde plek op die WBO-ranglys kan klim. 'n Oorwinning op 28 Maart sal hom 'n stewige hupstoot op die wêreldranglys gee.
NAKATHILA
In die hoofgeveg sal Jeremiah Nakathila sy opmars in die superliggewigafdeling (63.5 kg) wil voortsit. Low Key is tans die tweede aanspraakmaker op die Amerikaner Jamel Herring se WBO-kroon, terwyl Oscar Valdez (Mexiko) 'n kortkop voor Nakathila as nommer een in die ry staan.
Nestor Tobias, vegknoper en mede-afrigter van Nakathila, hoop om hom later vanjaar in die kryt vir die wêreldtitel te kry. Tobias glo sy vegter is gereed om die bestes in sy afdeling die stryd aan te sê.
“Nakathila hou tans die WBO globale titel en is die tweede aanspraakmaker op die wêreldgordel. My gevoel is dat Low Key reeds vanjaar nog vir die wêreldtitel in die kryt gaan klim.”
Valdez kan binnekort vir die Wêreldboksraad (WBC) se wêreldtitel veg en dit beteken dat sy posisie as topaanspraakmaker vakant sal raak. Dit behoort Nakathila te laat opskuif, ongeag of Valdez wen of verloor.
“Indien die Valdez-geveg plaasvind, behoort ons in Oktober of November vir die wêreldtitel teen Herring te boks,” voorspel Tobias.
Nakathila sê: “Ek is sedert Januarie weer volstoom in die gimnasium aan die oefen. Ek is tans besig om Harry Simon Junior vir sy komende geveg in Suid-Afrika te help voorberei. Met dié skermoefening gaan ek meer as gereed wees om op 28 Maart my titel suksesvol te verdedig. Ek weet nie veel van my teenstander nie; ek dink hy weet op die oomblik meer van my as bokser as ek van hom.”
Die gevegprogram vir 28 Maart staan tans soos volg:
1 Veergewig (4 rondes): Phillipus Shaanika (5-0) tn NOG Een.
2 Superkapokgewig (4 rondes): Michael Bernard (7-0) tn NOG Een.
3 Superkapokgewig (4 rondes): Filipus Nghitumbwa (9-1) tn NOG Een.
4 Superkapokgewig (4 rondes): tn Fillemon Nghitenyane (5-0) tn NOG Een.
5 Junior middelgewig (6 rondes): Charles Shinima (10-0) tn Liberty Muwani (4-4) van Zimbabwe.
6 Junior middelgewig (4 rondes): Abed Shikongo (3-0) tn NOG Een.
7 Middelgewig (6 rondes): Paulinus Ndjolonimus (10-0) tn Charles Misanjo (29-18) van Malawi.
8 Liggewig (4 rondes): Paulus Amavila (4-0) tn NOG Een.
9 Supermiddelgewig (8 rondes): Walter Kautondokwa (18-2) tn Alick Mwenda (15-7) van Malawi.
10 WBO Afrika-weltergewigtitel (12 rondes): Mikka Shonena (15-0) tn Twaha Kiduku (15-6-1) van Tanzanië.
11 WBO globale superliggewigtitel (12 rondes): Jeremiah Nakathila (19-1) tn Rofhiwa Maemu (19-9-3) van Suid-Afrika.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie