Nakathila: Niemand sal Stevenson kan red
Die Nakathila-span vertrek die einde van die week op hul missie na die boksmekka van die wêreld, Las Vegas.
Andrew Poolman – Net een van die twee vegters het 'n wenkans – en dis Jeremiah Nakathila.
Dié voorspelling kom van die Suid-Afrikaner Jeff Magagane, wat reeds vir meer as 'n maand die Namibiër se oefenmaat in Windhoek is in die aanloop tot sy groot boksgeveg op 12 Junie in Las Vegas teen Shakur Stevenson van Amerika.
By gister se nuuskonferensie is 'n mediavraag aan Nakathila gestel of daar enige vrees of twyfel in sy gemoed ontstaan wanneer hy hoor dat Stevenson onder andere sy onoorwonne landgenoot Terence Crawford asook MMA-vegters as skermmaats het, of dat die oudkampioen Mike Tyson reken die Namibiër staan geen kans nie.
“In die kryt sal dit net ek en hy wees – met geen Terence Crawford of Mike Tyson om hom te help nie,” het Nakathila blitsvinnig en vol vertroue teruggekap.
Volgens die promotor Nestor Tobias is Nakathila so goed voorbereid as wat hy moontlik kan wees. Die Nakathila-span vertrek Vrydag uit Windhoek na die VSA.
“Nakathila se program van skermmaats was topklas. Ons het Jeff Magagane reeds meer as 'n maand gelede ingebring, want hy veg ook vanuit die linkshandige posisie soos Stevenson. Jonas Matheus, Mateus Heita, Nestor Thomas, Lazarus Shaningwa, selfs die veel groter uitklopspesialis (junior middelgewig, 70 kg) Charles Shinima (12-0, agt uitklophoue).
“In skermgevegte het ons al sy opponente ná net twee rondes afgewissel om hulle deurentyd vars te hou. Sover dit skermoefening betref, was daar geen tekortkoming in Nakathila se voorbereiding nie,” het Tobias verduidelik.
Tobias het benadruk dat nie elke Amerikaanse bokser noodwendig perfek of onstuitbaar is nie.
“Voordat Paulus (The Hitman) Moses in Japan sy eerste wêreldtitel by Yusuke Kobori gaan afneem het, het almal ons ook probeer bangpraat oor hoe vinnig die Japanner is en hoedat MMA-vegters sy styl help afrond het.
“Niks kan Nakathila keer op sy pad nie; nie eens in Amerika nie.”
Nakathila (21-1, 17 uitklophoue) takel Stevenson (15-0) om die WBO se tussentydse superveergewigtitel (58.97 kg).
Die Namibiese vegter sê: “Ek het 'n uitstekende oefenkamp gehad. Dit is tyd vir Namibië en Afrika om te skitter. Hierdie geleentheid kom vir my op die regte tyd en ek is dankbaar daarvoor. My afrigters en skermmaats het hul kant gebring en ek het waardering.”
MTC Namibia se mnr. Tim Ekandjo sê: “Om jouself in posisie vir 'n wêreldtitelgeveg te bring, is 'n lang pad van minstens vyf tot sewe jaar en daar is geen kortpaadjies nie.
“Nakathila verdien hierdie geleentheid ten volle en is gereed om te volg in die voetspore van Namibië se vorige vier wêreldbokskampioene – Harry Simon, Paulus Moses, Paulus Ambunda en Julius Indongo.”
FOTO
Mnr. Tim Ekandjo (links) van MTC Namibia gister saam met Jeremiah Nakathila, sy Suid-Afrikaanse skermmaat Jeff Magagane, die promotor Nestor Tobias en die afrigters Nicky Natangwe en Siegfried Kaperu. Foto Andrew Poolman

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie