Nakathila stuur boodskap aan WBO

In die hoofvoorgeveg het Mikka Shonena 'n duur nederlaag gely toe hy uitgeslaan is.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Jeremiah “Low Key” Nakathila (30) het Sondagoggend kort ná middernag by die Windhoek Buiteklub sy globale superveergewigtitel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) suksesvol met 'n uitklophou in die tweede ronde behou.

Nakathila (21 gewen, een verloor) wat die hoofgeveg uit die staanspoor teen die 21-jarige Emmanuel Amos (nou 15-4-1) van Tanzanië gedikteer het, het reeds in die eerste ronde sy stempel met mening afgedruk.

Low Key het kort voordat die eerste klok gelui het sy teenstander se knieë met 'n kragtige regter laat knak.

Amos was ná vyf tellings betyds op sy voete om deur die klok gered te word en het moedig voortgeveg, maar in die tweede ronde het Nakathila hom gepynig en Amos was snel aan die retireer en systap om 'n veilige afstand te probeer hou.

Hoewel die gekweste vegter alles probeer het om uit die Namibiese leeu se pad te bly, was sy tyd van korte duur.

Toe Nakathila, ooglopend in topvorm, vir Sniper Man vir die tweede keer in die tweede platslaan, het die skeidsregter beslis hy het genoeg straf verduur en die geveg beëindig.

Die jeugdige besoeker het ná die eerste paar houe nog heel onverstoord gelyk, maar kon nie die gesoute Nakathila se slaankrag hanteer nie.

Nakathila was voor dié geveg deur die WBO op sy wêreldranglys as derde aanspraakmaker op Jamel Herring se wêreldkroon aangedui. Die 23-jarige Shakur “Fearless” Stevenson (nr. 1) van die VSA en Oscar Valdez (nr. 2) van Mexiko sal beslis nou in die vasberade Nakathila se visier wees.

Beide Stevenson en Valdez is op grond van hul prestasies as veergewigte bo Nakathila ingeskuif die oomblik toe hulle na die swaarder klas opbeweeg het. Dit sal gewis insiggewend wees hoe die WBO in 2021 Nakathila en sy promotor Nestor Tobias se proteste hierteen hanteer, want die WBO ignoreer die Namibiër reeds vir 'n lang tyd. 'n Kans op 'n wêreldtitelgeveg sal welverdiend wees.



RAMP VIR SHONENA

In die hoofvoorgeveg het Mikka Shonena (Silent Assassin) se loopbaan 'n verwoestende terugslag gely. Die 25-jarige Brendon Denes van Zimbabwe het hom stelselmatig afgebreek totdat hy hom in die sesde ronde uitgeslaan het.

Die 32-jarige Shonena (nou 16-1) is nie net ontneem van die WBO Afrika-weltergewiggordel wat hy sedert Oktober 2017 gehou het nie, maar daarmee saam sy hoë posisie op die WBO-wêreldranglys en 'n kans om hom op 'n hoër vlak te toets.

In die derde ronde is Shonena, wat reeds vooraf nie fisiek op sy beste gelyk het nie, vir die eerste keer in sy beroepsloopbaan platgeslaan.

Sy steekhoue was gans te stadig om Denes te pla en die Zimbabwiër het sy aanvalle maklik gelees, om dan met akkurate teenhoue pyn uit te deel.

Die Silent Assasin en sy afrigter Nestor Tobias sal beslis Shonena se toekoms moet herbeplan.

• Harry Simon Junior (23) het teen Patson Mutengwa (29) van Zimbabwe in hul superliggewiggeveg vergoed vir sy vorige onoortuigende geveg teen sy geharde landgenoot Rafael Iita.

Simon (13-0, nege uitklophoue) het veel beter gelyk teen Mutengwa. Simon moes 'n paar keer sy keerwerk ken, maar het die besoeker in die derde ronde uitgeslaan en sal beslis mettertyd na beter teenstanders moet begin kyk.

Onmoontlike hoë verwagtinge sal straks deel van jou loopbaan bly solank jou naam Harry Simon Junior is en hoewel sy natuurliks boksvaardighede en beweeglikheid nie onder verdenking is nie, moet hy ooglopend nog heelwat ondervinding opdoen voordat hy soos sy oudkampioenpa teen wêreldgerekende opposisie kan oorheers.

Sal boksliefhebbers hom dalk eendag teen Julius “Blue Machine” Indongo, Namibië se gewese wêreldkampioen, in aksie sien?

• Die 18-jarige superkapokgewig Flame Nangolo (nou 5-0) het gewys hoekom daar reeds as amateur van hom ophef gemaak is. Hy het die harde Sam Mathews (6-2-1) van Grootfontein in die tweede ronde platgeslaan op pad na 'n indrukwekkende, eenparige puntebeslissing.

• In die swaarder gewigsklasse het Charles Shinima en Paulinus Ndjolonimus beide hul onoorwonne rekords met vreesaanjaende uitklopseges uitgebrei.



ANDER UITSLAE

Supervlieggewig (4 rondes): Fillemon Nghi­tenyane (7-0) klop Andreas Amupolo (2-2-1) eenparig met punte.

Junior middelgewig (4 rondes): Abed Shikongo (5-0) klop David Haufiku (0-2) met 'n eenparige puntetelling.

Superkapokgewig (4 rondes): Phillipus Shaanika (7-0) klop Morsande Johannes (2-1) eenparig met punte.

Superliggewig: Eslon Kalus (2-1) verras Usko Rehebiam (3-2-1) met 'n uitklophou in tweede ronde.

Veergewig (6 rondes): Nathaniel Sebastian (15-13) klop David Shinuna (7-6-3) met 'n eenparige puntetelling.

Junior middelgewig: Charles Shinima (12-0) klop Liberty Muwani (Zimbabwe, 9-5) met 'n uitklophou in die eerste ronde.

Middelgewig: Paulinus Ndjolonimus (11-0) slaan Tinashe Zihove (Zimbabwe, 8-5) in die eerste ronde uit.

Superkapokgewig: Phillipus Nghitumbwa (14-13) stuit Ronald Tamani (8-4) in die tweede ronde met 'n tegniese uitklophou.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!