Nakathila wil in Herring se gesig wees

Die promotor Nestor Tobias deins nie terug om groot te praat oor sy man se kanse nie.
Andrew Poolman
Jeremiah Nakathila, Namibië se WBO Afrika-kampioen, sê hy is oorgehaal om die Amerikaner Jamel Herring van sy nuutverworwe WBO superveergewig wêreldtitel te ontneem.

Herring het die naweek in Florida op indrukwekkende wyse die Japanner Masayuki Ito verslaan, met al drie beoordelaars wat geen twyfel oor die eensydige puntebeslissing (118-110, 118-110, 116-112) gehad het nie.

Die 33-jarige linkshandige Amerikaner was sterker en vaardiger as die Japanner en het sy opponent se sterk punte goed geneutraliseer.

Volgens CompuBox se telling het Herring met altesame 146 uit 528 (27.7%) van sy houe getref in vergelyking met 99 uit 498 (19.9%) deur Ito, wat 'n skrale agt uit 146 steekhoue kon plant (5.5%). Die Amerikaner se steekhoue was veel meer akkuraat (52 uit 248, 21.1%) en met sy kraghoue het hy ook 'n raps beter gevaar (94-91).

Nakathila word tans as die WBO se aanspraakmaker nommer 2 gereken, met sy mees onlangse oorwinning 'n indrukwekkende tegniese uitklophou teen Zoltan Kovac van Hongarye wat die WBO se nr. 15 was.

Nakathila se promotor Nestor Tobias sê in 'n nuusvrystelling sy bokser is 'n ernstige kandidaat in die 59 kilogram gewigsklas, vanweë sy spoed en kragtige houe.

“Nakathila is 'n toegewyde lid van die Namibiese polisie en spog met 'n indrukwekkende rekord van 19 gevegte, 14 uitklophoue en net een omstrede nederlaag teen Evgeny Chuprakov in Moskou in 2016,” sê.



'DIS MY BEURT'

Nakathila het sy gelukwensing aan Herring ná sy indrukwekkende oorwinning verklaar.

“Hy was vooraf 'n relatief onbekende buiteperd wat nie tevore op die WBO-ranglys (top-15) gereken was nie, maar hy het die wêreld geskok deur Ito te onttroon.

“Dít is wat ware kampioene doen – hulle triomfeer teen alle verwagtinge in. Herring moet nou teen my boks, voor enigiemand anders. Ek het my reg verwerf om vir die kampioen­skap te veg en ek hoop van harte dat die WBO sal beveel dat ons volgende ontmoet.”

Tobias, wat ook Nakathila se afrigter is, sê hy is oortuig dat hy die vierde Namibiër beet het wat onder sy vaandel 'n wêreldgordel gaan wen, ná Paulus (Hitman) Moses, Paulus (The Rock) Ambunda en Julius (Blue Machine) Indongo.

“Nakathila het 'n groot hart. Ek voorspel dat hy nie net vir Herring gaan klop om die nuwe wêreldkampioen te word nie, maar ook sy wêreldtitel minstens drie keer suksesvol sal verdedig. Ek het tevore met vele Afrika- en wêreldkampioene gewerk en ek kan jou sê hierdie jongman is die ware Jakob.”

Die Namibiese promotor sê: “Ek het Herring se emosionele lewensverhaal gelees, maar die voormalige Amerikaanse soldaat sal nou teen die Namibiese polisieman opgeweeg moet word.

“Ek kan jou sê dit sal 'n geveg wees wat die bokswêreld lank sal onthou.”

Tobias is ook nie beïndruk met die WBO se nommer een aanspraakmaker Lamont Roach Junior (19 gewen, 0 verloor, een gelykop, sewe uitklophoue) nie.

“Onthou, Nakathila was bykans die hele jaar in die WBO se topvyf gereken. Roach is nie Nakathila se gelyke nie en het nie ondervinding op wêreldvlak nie. Dit sou sin maak vir die WBO om Herring versus Nakathila te laat gebeur, sodat ons 'n werklike opwindende geveg kan sien.”

• Herring (33) se verowering van die wêreldtitel die afgelope naweek was op 'n betekenisvolle dag in sy lewe, naamlik wat die tiende verjaarsdag van sy dogter Ariyanah sou wees. Sy het op net twee maande vanweë skielike babadoodsindroom gesterf.

Herring het gedurende sy tyd as 'n Amerikaanse soldaat twee termyne in Irak gedien en het ná sy terugkeer met post-traumatiese stresversteuring gesukkel.

Nadat hy in 2012 die kaptein van die VSA se boksspan na die 2012 Londen Olimpiese Spele was, het hy eers later daardie jaar, op 27-jarige leeftyd, die professionele arena betree.

Sy oorwinning teen Ito was sy vierde geveg vandat hy die skuif gemaak het om onder Brian McIntyre (afrigter van die WBO weltergewigkampioen Terence Crawford) te begin oefen.

Hoewel hy vanaf liggewig (61.2 kg) na superveergewig afgeskuif het, was Herring (20 gewen, twee verloor, tien uitklophoue) glo nog nooit sterker of beter gekondisioneer as juis teen Ito nie.

– Bykomende inligting van newsday.com

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer