Nam steeds onder topvyf
Namibië is een van twee lande in Afrika wat groot voordeel uit veranderinge in die ouderdomstruktuur van sy bevolking kan trek.
Jo-Maré Duddy – Namibië kan steeds met die beste ekonomieë in Afrika suid van die Sahara meeding en word deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) as een van twee lande beskou wat die beste gerat is om die vrugte van sy demografie te pluk.
In die WEF se jongste tweejaarlikse mededingingsindeks, wat gister vrygestel is, lê Namibië vyfde op die ranglys. Net Mauritius (eerste), Suid-Afrika (tweede), Rwanda (derde) en Botswana (vierde) word as meer kompeterend beskou.
In 2015 het Namibië dieselfde posisie beklee, terwyl dit in 2013 sesde geplaas was.
Die WEF se 2017-verslag fokus op die vasteland se “demografiese dividend” – versnelde ekonomiese groei wat spruit uit die verandering in die ouderdomstruktuur van 'n land se bevolking en dus 'n groter arbeidsmag. Volgens die WEF bied beleidsrigtings van gehalte en 'n verwagte hoë bevolkingsgroei die beste geleentheid vir 'n land om 'n goeie demografiese dividend te verdien.
Net Namibië, Rwanda en dalk Gaboen is tans gunstig geplaas om hieruit voordeel te trek, meen die WEF. Wat Namibië betref, is daar egter 'n “maar” betrokke.
Die WEF sonder Namibië uit as een van die lande waar meer as 'n derde van sy jeugbevolking nie werk, studeer of opleiding ontvang nie. “Die beskikbaarheid van goeie werkgeleenthede, veral dié wat gevorderde kundigheid vereis, is kritiek vir die oes van Afrika se demografiese dividend,” sê die WEF.
Namibië se onvoldoende opgeleide arbeidsmag is deur respondente in die verslag as die naasgrootste probleem vir besigheid uitgewys.
Met inligting- en kommunikasietegnologie (ICT) suip Namibië – soos die res van Afrika - ook aan die agterspeen. Volgens die WEF is ekonomieë in Afrika nie vir oorgang na die Vierde Nywerheidsrevolusie gerat nie. Selfs lande wat die mees ICT-bedrewe is – Suid-Afrika, Mauritius, Botswana, Namibië en Kenia – is steeds ligjare agter wat die gebruik van dié tegnologie betref, sê die WEF.
Vir Namibië se infrastruktuur en instellings het die WEF egter lof. Die gehalte van die land se paaie stem met dié van gevorderde ekonomieë ooreen en is die vierde beste in Afrika suid van die Sahara, aldus die forum. Wat instellings betref, lê Namibië derde.
Die WEF se Afrika-indeks is uit sy Global Competitiveness Index (GCI) vir 2016-'17 saamgestel wat verlede jaar vrygestel is. Hier is Namibië as die 84ste mees mededingende ekonomie uit 138 lande wêreldwyd gereken. In 2015 het Namibië die 85ste plek uit 140 lande beklee.
In die Vierde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP4) was die teiken dat Namibië teen 2017 die mees mededingende ekonomie in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) moes wees. Dit is in April verlede jaar met die Harambee-welvaartplan (HPP) vervang. Hiervolgens moet Namibië teen 2020 die mees mededingende ekonomie op die vasteland wees.
Toegang tot finansiering is vanjaar uitgesonder as die grootste struikelblok om sake in Namibië te doen. Sowat 17,7% van respondente wat aan die WEF se uitvoerende meningsopname deelgeneem het, sê dié kwessie is die vernaamste probleem. Ongeveer 14,8% meen die onkundige arbeidsmag is die grootste kopseer, terwyl 10,3% die regering se rompslomp as 'n reuse-belemmering ervaar.
Sowat 10,2% beskou die swak werksetiek van Namibië se arbeidsmag as 'n doring in die vlees en 7,2% het korrupsie as hul grootste probleem geïdentifiseer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie