Nam, Zim en Botswana staan saam teen Cites
Nam, Zim en Botswana staan saam teen Cites

Nam, Zim en Botswana staan saam teen Cites

SADC-lande meen die stemproses in Augustus by COP 18 in Genève was 'n geknoeiery.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Namibië, Botswana en Zimbab­we gaan protesdokumente by die Konvensie van die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) inhandig om dié lande toe te laat om wettig met hul lewende oli­fante, renosters, kameelperde en ander wildprodukte handel te dryf.

Dié drie lande en vyf ander onbekende lande van die Suider-­Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het hulself onafhanklik van die beheermaatreëls van Cites se 18de Konferensie van Partye (COP18) verklaar.

Dit volg nadat Cites-lidlande in Augustus in Genève in Switserland teen die uitvoer en handel van sekere lewende wild en -produkte gestem het.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het Donderdagaand aan Republikein gesê “ons is nie gelukkig met Cites se COP18 nie en ook nie met COP17 nie. Ons word by elke Cites gestraf.”

Hy sê SADC-lande het ander vennote wat met hul ondersteuning van bewaring deur handel help.

“Ons wil nie donasies hê nie. Ons wil en moet handel dryf.”

Shifeta het benadruk die pad vorentoe is om aan Cites te onttrek en “nie deur lande wat self nie eens meer natuurlike hulpbronne het, voorgeskryf word wat om met ons eie natuurlike hulpbronne te doen nie”.

Op 'n vraag wie die vennote is, het hy geantwoord SADC-lande.

Die finale konsepverslag is onlangs tydens 'n SADC-vergadering tussen omgewingsministers in Tanzanië onderteken en sal op 26 November aan Cites voorgelê word.

Die verslag beveel aan dat alle SADC-lande protesteer teen die ­besluite van beperkte handel in spesies wat teen­strydig is met ­wetenskaplike getuienis wat daarop dui dat sulke beperkings onnodig is. Die lande meen dit is as gevolg van knoeiery met die stemselsel by Cites se COP18 in Augustus in Genève.

Bewaringsorganisasies van Westerse­ lande word daarvan ­be­skuldig dat hulle lande van Wes- en Oos-Afrika gemanipuleer het om teen SADC-­lande te stem. Hulle beskryf die stemproses by Cites as “bedorwe, 'n geknoeiery, en nie vry en ­regverdig nie.”

By Cites COP18 het Namibië, Botswa­na en Zimbabwe met hul oorbevolkte olifante 'n gesamentlike voorstel ingehandig om handel in hul duisende tonne opgepotte ivoor te dryf. Hulle is verslaan met 81% nee-stemme, met slegs 19% wat die voorstel gesteun het.

Zambië se voorstel om sy olifant­bevolking van Aanhangsel I na II af te gradeer vir slegs nie-kommersiële jagtrofeë, en velle en huide van olifante wat weens mens-dier-konflik gedood is, sonder handel in rou ivoor, is ook afgeskiet met 'n 82% nee-stem.

Eswatini het sy bod verloor om handel in sy opgepotte witrenosterhoring te dryf.

SADC-lande meen hulle ly saam hewige verliese en word gestraf deur hulle van hul soewereine reg van volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne te ontneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!