Nama, Ovaherero soek voorvaderlike grond
Nama, Ovaherero soek voorvaderlike grond

Nama, Ovaherero soek voorvaderlike grond

Hoewel die volksmoordkwessie weer in ‘n VSA-hof uitgestel is, voel die geraakte groepe hulle het ‘n sterk saak teen Duitsland.
Catherine Sasman
font face="Verdana" >

Catherine Sasman - Die Nama- en Ovaherero-groepe wat die Duitse regering voor ‘n hof in New York om vergoeding vir die volksmoord tussen 1904 en 1908 daag, sê hulle wil hul voorvaderlike grond terughê.

“Ons wil nie hospitale, skole of klinieke hê wat met Duitse hulp betaal word nie. Ons verwag ons regering moet dit met ons belastinggeld betaal. Ons wil vergoeding hê vir die skade wat berokken is. Ons wil ons grond hê, want dit is mag en rykdom.

“As dit nie fisiek teruggegee kan word nie, moet ons onderhandel oor hoeveel dit werd is. Gee dit terug aan die Nama en Ovaherero; ons weet wat om met die geld te doen,” het opperhoof Vekuui Rukoro gister by ‘n mediakonferensie gesê ná ‘n verteenwoordigende groep van New York af teruggekeer het.

Die hofgeding teen die Duitse regering was vir 12 Oktober geskeduleer maar is vir die derde keer uitgestel – tot 25 Januarie 2018 – omdat die hofstukke steeds nie op die Duitse staat bedien kon word nie.

Die hofsaak is ook in Maart en Julie uitgestel - weer eens omdat die groepe die hofstukke nie op Duitsland kon bedien nie.

In die eerste geval was die hofstukke op die Duitse ambassade in Washington, VSA, bedien, maar die Duitse regering het aangedring daarop dat dit in Berlyn bedien moes word.

Daarna het die Duitse regering geweier om dit in Berlyn te ontvang en het toe daarop aangedring dat dit deur ‘n diplomatieke diens bedien moet word.

Dit beteken die Namibiese gedingvoerders moet die hofstukke deur ‘n derde soewereine land aan Duitsland besorg.

Rukoro het gister die Duitse regering daarvan beskuldig dat hy die gedingvoerders se saak probeer bemoeilik en duurder probeer maak.

Die Nama- en Ovaherero-groepe het desnieteenstaande besluit om aan hierdie stappe te voldoen en hoop die Duitse regering sal die hofstukke só aanvaar.

Rukoro het namens die groepe gesê die Duitse regering het moontlik gedink hulle sal die hofstukke deur die Namibiese regering probeer bedien.

“Ons het besluit om dit nie deur die Namibiese regering te doen nie, want die twee regerings (van Namibië en Duitsland) is om die een of ander rede nou in dieselfde politieke bed,” het Rukoro gesê.

Hy het voorts gesê: “Ons is nie verbaas of teleurgesteld nie. Ons het vir meer as 100 jaar gewag om ons geskil met Duitsland óf in ‘n hof óf op die slagveld te beding. As vreedsame mense verkies ons om die roete van die howe te neem.”

Die groepe is vol vertroue dat Duitsland geen verdediging in die saak het nie.

“Wanneer Duitsland die hofsaal in die VSA betree en tot die finale oordeel bly sit, sal dit nie net skuldig bevind word en gevonnis word met ‘n swaar monetêre rekening nie, maar dit sal ook vir die eerste keer voor die wêreld blootgestel word as ‘n misdadige, skelm en onbeskaafde staat van moordenaars wat hulle moontlik steeds is omdat hulle steeds weier om ‘n verskoning te gee,” het Rukoro gesê.

AANKLAGTE TEEN DUITSLAND

Die saak voor die distrikshof in New York behels drie aanklagte teen Duitsland.

Die groepe eis dat die Duitse staat vir die misdaad van die volksmoord moet betaal, aangesien 80% van die Ovaherero en 50% van die Namas in dié oorlog gesterf het ingevolge luitenant-generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel.

Die groepe eis ook vergoeding vir die onteiening van “voorvaderlike” grond en vee onder die Duits-koloniale bewind.

“Die wettige leierskap van die Ovaherero en Nama in die volksmoordkwessie is vasberade om tot die laaste man te veg, maar geregtigheid sal geskied,” het Rukoro gesê.

Hy het gesê dit was die Ovaherero en Nama wat aan die begin van die 20ste eeu eerste teen Duitse kolonialisme baklei het en dat die vryheidstryd nie in die 1960’s begin het nie.

“Ons sal nie toelaat dat Duitsland deur middel van tjekboekdiplomasie en omkopery aan ons voorskryf hoe die situasie opgelos moet word nie,” het Rukoro gesê.

Die groepe dring steeds daarop aan dat hulle direkte verteenwoordiging in die onderhandelinge met die Duitse regering moet hê.

HOF IN NEW YORK

Die volksmoordsaak is voor die hof in New York gebring omdat Amerika een van ‘n handjievol lande is wat volke of individue die reg gee om ander regerings te dagvaar vir sekere misdade soos volksmoord - veral as dit gepaard gegaan het met die onteiening van grond en ander bates.

Sou die hofbevel ten gunste van die Nama- en Ovaherero-groepe wees, kan die VSA die uitspraak op Duitsland afdwing.

Die groepe se regsverteenwoordiger, mnr. Ken McCallion, het reeds op ‘n mediakonferensie in New York gesê hulle is reeds besig om die bates van die Duitse regering in die VSA op te teken ingeval die kwessie verder gevoer gaan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!