Namangol-baas in getuiebank
Namangol-baas in getuiebank

Namangol-baas in getuiebank

Getuienis oor die beweerde wanbestuur van 'n N$30 miljoen-belegging is verlede week in die hof gelewer.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die eienaar van die beleggingsmaatskappy Namangol Investments (Namangol), mnr. Nico Josea, het verlede week in Windhoek se hoërhof verduidelik wat van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) se beweerde N$30 miljoen-belegging in Avid Investment Corporation (Avid) geword het.

Josea het voor regter Christie Liebenberg verskyn in die verhoor waarin hy en ses medebeskuldigdes van die wanbestuur van die SSC se belegging in Avid beskuldig word.

Gedurende sy getuienis het Josea aan die hof gesê: “Ek het geen besigheid met Avid gedoen nie en ek het geen geld aan Avid geskuld nie.”

In getuienis gelei deur sy regsverteenwoordiger, mnr. Slysken Makando, het Josea gesê: “Ek het nooit van SSC gesteel nie.”

Volgens Josea het hy slegs met wyle mnr. Lazarus Kandara, voormalige besturende direkteur van Avid, besigheid gedoen. Beleggings is volgens Josea in Kandara, wat hom glo aan Josea voorgestel het as 'n besigheidsman met baie besighede in Namibië en die omringende buurstate, se persoonlike kapasiteit gedoen.

In 2004 het Josea 'n forex handelaarskursus gedoen en op grond van sy verduideliking van handel in ver­skeie handelsware het Kandara N$10 miljoen aan Josea betaal om deur 'n Suid-Afrikaanse aandelehandelaar, ene Alan Rosenberg, belê te word. Die rente op dié belegging sou 60% beloop, het Josea getuig. In Desember 2004 wou Kandara sy geld terughê en N$11 miljoen is glo aan hom terugbetaal.

Lazarus kandara

Daarna het Kandara hom weer genader om N$30 miljoen te belê, het Josea aan die hof vertel. N$29,5 miljoen is toe van Avid se rekening af in Namangol se rekening inbetaal. Kandara se instruksies was glo dat N$20 miljoen daarvan deur Rosenberg en ene Frik Blaauw in Suid-Afrika belê moes word en dat die balans onder Josea se beheer moes bly.

Rosenberg het net sowat N$15 miljoen van daardie geld aan Josea terugbetaal in Maart 2005, het die hof gehoor.

Teen die einde van Mei 2005 was Avid nie in staat om die N$30 miljoen-belegging en beloofde rente van N$1,4 miljoen aan die SSC terug te betaal nie, wat tot 'n hofondersoek na die beleggingstransaksie en die lot van die SSC se geld gelei het. Na die ondersoek is Josea, me. Inez /Gâses en vyf medebeskuldigdes formeel deur die staat aangekla.

Kandara het homself buite Windhoek se sentrale polisiekantoor op 24 Augustus 2005 geskiet, kort nadat hy in hegtenis geneem is in verband met die beweerde ­verduistering van

die SSC se belegging van N$30 miljoen.

Josea en vier voormalige direkteure van Avid – die voormalige sekretaris van Swapo se jeugliga en adjunkminister Paulus Kapia, prokureurs Sharon Blaauw en Otniel Podewiltz, en 'n Swapo-kollega van Kapia, Ralph Blaauw - asook afgetrede brigadier van die Namibiese weermag en Avid-aandeelhouer, Mathias Shiweda, se verhoor het in Mei 2014 voor Liebenberg begin.

Kapia, /Gâses, die Blaauw-egpaar en Podewiltz staar klagte van bedrog en die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid in die gesig. Josea staan tereg op klagte van diefstal en die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid, terwyl Shiweda aangekla word van die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid.

Die verhoor sal op Woensdag 22 Maart voortgesit word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!