Namcol-registrasies 'n miernes

Maria Eiseb
Chrismarie Siebert en Maria Eiseb



Ofskoon voornemende graad 10- en 12-studente aan die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig (Namcol) nou aanlyn kan registreer, wag hulle steeds ure lank in rye om dit te kan doen.

In Windhoek is 12 sentrums waar dié registrasies gedoen word, asook by 25 streekskantore van die 139 sentrums elders in die land.

'n Horde gretige studente het Maandag by sentrums in die hoofstad opgedaag om hulself van plek te verseker.

Sommige het middernag reeds in rye begin staan, het dr. Heroldt Murangi, Namcol se direkteur, gesê.

Onder die voornemende ­studente was swanger vroue, middeljariges, mense met babas en selfs bejaardes. Voorkeur is aan bejaardes en swanger vroue gegee.

Ouers met klein kinders moes egter gedwee in die ry wag, aangesien party mense misbruik van kinders gemaak het deur hulle te “leen” met die verwagting om voorkeur te kry en vinniger gehelp te word.

Die kollege registreer net sowat 120 studente per dag, maar daar is altyd mense wat agterbly en weier om die perseel te verlaat voor hulle nie geregistreer is nie, sê Murangi.

“Dit is maar hoe die registrasieproses altyd verloop,” het hy gesê.

Gewoonlik los voornemende studente registrasie tot op die laaste nippertjie, maar omdat al 12 Namcol-sentrums in Windhoek by die kollege se hoofkantoor moet registreer, is die proses vanjaar vroeg reeds bedrywig.

Personeel is 05:00 soggens reeds beskikbaar om studente te help.

Mnr. Conny Samaria, Namcol-woordvoerder, het gesê die eerste dag van die registrasieproses was vol uitdagings.

“Ons moet die studente tegemoetkom, daarom het personeel nommers uitgedeel en vroeg­oggend reeds met die proses begin,” het hy gesê.

Volgens Samaria sal die registrasieproses drie weke lank voortduur en indien studiemateriaal opraak, sal die kollege seker maak dit word later wel aan studente besorg.

Registrasiefooie het met 10% gestyg, sê hy.

Graad 10's betaal N$170 per vak en graad 12's N$290 per vak. Ekstra inskrywings beloop 'n bykomende N$90.

'n Student wat ingeskryf het, het gesê aanlyn registrasies sou makliker tuis gedoen kon word, maar hy was nietemin bewus daarvan dat dit van Namcol se hoofkantoor af gedoen moet word.

Dié registrasies kan ook by Namcol-sentrums op Keetmanshoop, Ongwediva, Otjiwarongo, Walvisbaai en Rundu gedoen word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!