Namgomar se geld vind glo pad na Dubai

Gustavo ontken hy het 75% van Namgomar se inkomste aan sy medebeskuldigde, mnr. James Hatuikulipi, se entiteit in Dubai oorbetaal.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die staat het gister in mnr. Ricardo Gustavo se voortgesette borgaansoek aangevoer die drie Namgomar-entiteite het sowat N$150 miljoen vir 50 metrieke ton viskwotas ontvang.

Volgens die staatsaanklaer, mnr. Cliff Lutibezi, is die bedrag gebaseer op 'n verkoopsprys van N$3 000 per metrieke ton.

Gustavo se regsverteenwoordiger, mnr. Trevor Brockerhoff, het hom tydens herondervraging gevra om op die bewerings te reageer.

“'n Bedrag van N$150 miljoen het nooit deur Namgomar Pesca Namibia se rekening gegaan nie. Ek weerlê dat ek vir N$150 miljoen verantwoordelik is,” het Gustavo geantwoord.

Boonop beweer die staat dat Namgomar Pesca Namibia 'n mondelingse ooreenkoms aangegaan het om sowat 75% van hul inkomste aan 'n entiteit in Dubai, wat aan die medebeskuldigde mnr. James Hatuikilipi behoort, oor te betaal.

Slegs die oorblywende 25% is as inkomstebelasting verklaar en beloop volgens die staat slegs N$9,6 miljoen van die totale bedrag van N$40 miljoen oor 'n tydperk van vyf jaar.

Die staat beweer verder die geld wat James op dié manier ontvang het, is weer aan die entiteite van sy medebeskuldigdes oorbetaal.

“Ek was nie deel hiervan nie; die regte persoon om hieroor te vra, is die eienaar van die maatskappy. Ek kan nie namens James praat nie,” het Gustavo gesê.

Die staat beweer die betrokke Namibiërs en Angolese was in 'n gesamentlike onderneming betrokke, maar Gustavo het dit hewig ontken. Volgens sy getuienis is die aandeelhouers in Namgomar almal Angolese.

Die staat het 'n dokument aan die hof getoon waarin Gustavo in 2013 die entiteit Namgomar Pesca SA voorstel en aandui dat dit deur Namibiërs en Angolese besit word.

“Die aanvanklike plan was vir Namibiërs om ook aandele te hê, maar dit het op die ou einde nie so uitgewerk nie en Namgomar se aandeelhouers is almal Angolese,” het hy aangevoer.

Volgens Lutibezi was Gustavo nie net 'n direkteur van Namgomar Pesca Namibia nie, maar hy het glo op ver­skeie geleenthede ook dokumente as 'n direkteur van Namgomar Pesca SA onderteken. “Alle kommunikasie was as die direkteur van die plaaslike eenheid,” het Gustavo egter gesê.



STAAT ROEP EERSTE GETUIE

Nadat die aansoekers hul saak gistermiddag gesluit het, het die staat sy eerste getuie geroep: adj.komm. Veikko Armas, die hoof van die Windhoek Sentrale Gevangenis.

Armas het getuig elke gevangene is in sy eie sel; daar is mediese personeel op die perseel en gevangenes word gereeld vir Covid-19 getoets en indien hulle positief toets, word hulle onmiddellik in isolasie geplaas.

Lutibezi het hom gevra of hy van Gustavo se gesondheidsprobleme kennis dra.

“Ek het nog nooit gehoor hy kla dat hy siek is nie. Ek weet hy was vir 'n rukkie in die hospitaal, maar vandat hy terug is, wil dit voorkom asof hy baie gesond is.”

Hy het verder getuig Gustavo het nooit by hom gekla dat hy Covid-19 opgedoen het nie.

Lutibezi sê die staat gaan net twee getuies roep.
[email protected]

FOTO’s
Die Fishrot-beskuldigde mnr. Ricardo Gustavo (links) is gister deur staatsaanklaer, mnr. Cliff Lutibezi, kruisondervra en die aansoekers het daarna hul saak gesluit. Foto Facebook

Adj.komm Veikko Armas is die eerste van twee getuies wat die staat beplan om te roep. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer