Namib-sandsee nou wêrelderfenisgebied

Die minister van onderwys, kuns en kultuur het toeriste gevra om die waarde van erfenisgebiede te respekteer en waardeer.
NAMPA
Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het Vrydag die Namib-sandsee by Sossusvlei as 'n wêrelderfenisgebied ingehuldig.

Die Verenigde Nasies se agentskap vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) het die Namib-sandsee in die Namib-Naukluftpark in 2013 as wêrelderfenisgebied gelys.

Hanse-Himarwa het gesê die inhuldiging van die Namib-sandsee as wêrelderfenisgebied sal toerismevloei na die gebied 'n hupstoot gee, maar sy het 'n beroep op toeriste gedoen om die waarde van erfenisgebiede te respekteer en te waardeer sodat "ons die trots vir baie jare kan bewaar".

Sy het haar teleurstelling uitgespreek met toeriste wat reëls en regulasies van toeristegebiede oortree.

"Dit gaan nie altyd oor geld nie. Dit is belangrik vir toeriste om plaaslike reëls te respekteer, want ons moet ons erfenis vir toekomstige geslagte bewaar."

Die Namib-sandsee is die enigste kuswoestyngebied in die wêreld en is die tweede gelyste wêrelderfenisgebied in Namibië ná Twyfelfontein in die Kunenestreek as tuiste van die wêreld se grootste konsentrasie van rotskuns in 2007 as 'n wêrelderfenisgebied verklaar is.

Die Namib-sandsee is drie miljoen hektaar groot en is aan die ministerie van die omgewing en toerisme oorhandig om dié omgewing te beskerm en bewaar.

"Ek verseker dat my ministerie sal voortgaan om die gebied te bestuur," het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, gesê.

Hy het gesê die Namibiese regering is daartoe verbind om sy verpligtinge na te kom deur te verseker dat aktiwiteite wat nie met wêrelderfenisgebiede ooreenstem nie, nie in hierdie belangrike gebied mag plaasvind nie.

"Vir hierdie doel het my ministerie saam met ander belanghebbendes gewerk om te verseker geen ontginning van minerale vind binne die wêrelderfenisgebied van die Namib-sandsee plaas nie," het Shifeta gesê.

"Al die eksklusiewe mynontginningslisensies wat in die gebied bestaan het, is nie hernu nie nadat dit op 21 Junie 2013 as wêrelderfenisgebied verklaar is."

Shifeta het gesê slegs twee ontginningslisensies vir myne is in die gebied uitgereik, maar dit het verstryk en kon nie hernu word nie weens die erfenisgebied se status.

Unesco se verteenwoordiger in Namibië, dr. Jean Pierre Ilboudo, het gesê die organisasie identifiseer gebiede wat van spesiale kulturele of fisieke betekenis is.

Hy het gesê die Namib-sandsee het aan alle kriteria as wêrelderfenisgebied voldoen. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!