Namibië bekamp mensehandel suksesvol
In 2019 is 20 inhegtenisnemings in Namibië met dwangarbeid en 11 met sekshandel verbind.
Jana-Mari Smith – Die plaaslike regering se pogings om handel- en seksslawerny te bekamp en slagoffers van mensehandel te ondersteun, het 'n topposisie op die jaarlikse United States Trafficking in Persons (TIP)-verslag ingepalm.
Namibië is een van 34 uit 188 lande wat vanjaar 'n vlak 1-gradering behaal het. Dít nadat daar aan die minimumvereistes voldoen is om mensehandel volgens nasionale riglyne uit te wis. Namibië is ook een van 22 lande wat met een vlak opgeskuif het. Dertien van die laasgenoemde lande is van Afrika suid van die Sahara.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, mnr. Michael Pompeo, het tydens die bekendstelling van die verslag verlede week Namibië se prestasie geloof en gesê dit is die “eerste en enigste Afrikaland wat dit sedert 2012 reggekry het”.
Namibië het tussen 2016 en 2019 'n vlak 2-posisie beklee. Voor dit het Namibië vir vier opeenvolgende jare 'n posisie op 'n “vlak 2-waaklys” beklee.
GROOT TREE
Die prestasie het lof uit verskeie oorde ingepalm, onder meer van die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, me. Lisa Johnson. Sy het gesê Namibië het die afgelope jaar groot vordering in die stryd teen mensehandel gemaak.
Sy het verwys na verskeie sleutelprestasies, waaronder die implementering van die Wet op die Bestryding van Mensehandel van 2018, die verwysing van al 30 slagoffers wat oorleef het na skuilings waar hulle versorg word en die groot aantal hofsake wat tans onderweg is, sowel as dié wat reeds suksesvol afgehandel is.
Johnson het gesê alhoewel die werk van die afgelope jaar noodsaaklik was vir die opgradering, dien die vlak 1-gradering “nie net as 'n aanduiding van die laaste jaar se vordering nie, maar ook as 'n weerspieëling van hoe ver Namibië gekom het – vanaf 'n tyd toe dit nie as 'n misdaad erken is nie en Namibië nie gedink het hulle het 'n probleem met mensehandel nie.”
Van die 31 inhegtenisnemings in 2019 wat met mensehandel verband hou, word 20 met dwangarbeid en 11 met sekshandel verbind. Namibië het ook sewe arbeids- en agt sekshandelsake in die howe aanhangig gemaak.
Johnson het beklemtoon die takeling van mensehandel is spanwerk en Namibië se sukses kan grotendeels toegeskryf word aan die regering se toewyding, asook aan die samewerking tussen private en openbare amptenare en organisasies.
VOLWASSENHEID
Tydens 'n eksklusiewe onderhoud met Namibia Media Holdings (NMH) het die Amerikaanse ambassadeur met spesiale opdragte, mnr. John Cotton Richmond, gesê die wet teen mensehandel van 2018 het Namibië “op die huidige koers van sukses geplaas”.
Hy is hoof van die kantoor van die Amerikaanse departement van buitelandse sake wat mensehandel in Washington DC monitor en bekamp.
Hy beskryf die vordering wat oor die afgelope jaar gemaak is as “'n ongelooflike inspirerende verhaal”.
Anders as baie ander lande fokus Namibië se pogings om mensehandel hok te slaan, op seks- én arbeidshandel. Volgens Richmond is dit as erkenning van die verskeie vorms wat slawerny kan aanneem en 'n “teken van volwassenheid binne 'n program teen mensehandel”.
Hy het bygevoeg die ander sleutel tot Namibië se sukses was die effektiewe gebruik van die omvattende wetsraamwerk.
'TRONKSTRAF IS DIE SLEUTEL'
“Dié wette word té gereeld nie gebruik nie. Hulle word nie aan die mense gekommunikeer wat veronderstel is om daardeur beskerm te word nie,” het hy gesê.
Een van die belangrikste minimumstandaarde wat elke jaar deur die TIP-spanne geëvalueer word, is die mate waartoe 'n land wette in die stryd teen moderne slawerny toepas, het hy verduidelik.
Ambassadeurs Richmond en Johnson het gesê streng boetes vir mensehandelmisdade is uiters belangrik in die moderne wêreldwye stryd teen slawerny.
Richmond het gesê 'n kommerwekkende tendens het op verskeie plekke kop uitgesteek. Mensehandelaars word skuldig bevind, maar word vrygelaat of kry slegs 'n boete.
Hy sê behalwe vir die aanspreeklikheid vir 'n wrede misdaad, is gevangenisstraf die sleutel vir slagoffers om te weet hul martelaars is agter tralies.
Johnson het gesê mensehandel kan vergelyk word met gewelddadige misdaad soos moord en verkragting en het gesê “die straf moet gepas wees vir die misdaad.”
RUIMTE VIR VERBETERING
Johnson het beklemtoon dat alle vlak 1-lande nog ruimte vir verbetering het en alle regerings, insluitend “dié van die VSA en Namibië moet voortgaan met hul pogings om mensehandel hok te slaan”.
Sy het beklemtoon die fokusareas is die opleiding van respondente en beamptes aan die voorpunt van die bekamping van mensehandel, die nasionale verwysingsmeganisme en standaardbedryfsprosedures.
Namibië moet fokus op die versterking van samewerking en kommunikasie tussen regeringskantore en ander rolspelers. “Nou is nie die tyd om stil te staan nie. Dit is nou die tyd om selfs meer te doen, terwyl daar momentum is,” sê Richmond.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie