Namibiu00eb betower tweeling
Namibiu00eb betower tweeling

Namibië betower tweeling

’n Avontuurlustige tweeling het met hul TV-program The Adventures of The Twins In Africa ’n draai in Namibië kom maak.
Emmanuel Koro - Die projek waarmee hulle stories vertel oor Afrika se asemrowende wildernis en diverse kulturele skoonheid, het onlangs die Vincent-tweeling, Lily en Lara, na Namibië gelok. Hulle het ongeveer ’n week gelede in die hoofstad aangekom en van daar af na die land se gewildste toeristebestemmings gereis.

Hulle het kennis met plaaslike gemeenskappe soos die Nama-, Oshiwambo- en Umbukushu-mense gemaak. Die tweeling was glo beïndruk met die ryk kultuur van dié groepe wat oorleef het en steeds floreer ten spyte van moderne invloede.

Lily en Lara het ’n heel ander wêreld in Namibië ontdek. Veral die sandduine van Swakopmund was vir hulle ’n belewenis.

“Die voëllewe in Namibië was wonderlik en ons kon geel- en blou papegaaie in hulle natuurlike habitat aanskou,” het die tweeling gesê.

“Die Skedelkus was ook opwindend, ons het so baie robbe gesien!”

Swakopmund was weer ’n heel ander ervaring met die skeepswrakke en walvisbene wat al langs die kus gestrooi is.

Nie alles het egter volgens plan verloop nie. Toe hulle voertuig onverwags naby Swakopmund die gees gegee het, kon die tweeling met ’n verklikker gaan rondsnuffel vir edel- en halfedelgesteentes. Hulle beskryf dit as ’n onverwagse avontuur.

“Ons moes uit ons gemaksone beweeg,” het Lily en Lara gesê. “Ons bly nie meer in ’n baksteenhuis nie, maar in ’n huis op vier wiele in ’n tent.”

Soos hulle Afrika-avontuur voortduur, wat hulle al na Windhoek, Swakopmund, die Visrivier-canyon en die Mahango-wildreservaat geneem het, sê die tweeling daar is nog baie avonture wat hulle in die toekoms wil deel. Hulle wil nog bestemmings soos Botswana en Zimbabwe verken.

Behalwe vir die tweeling se kennismaking met meerkaaie en belewenis van die land se soutpanne, lê daar nog ’n paar weke van ontdekking in Namibië vir die tweeling voor. Woestynolifante, groot katte soos leeus, luiperds en jagluiperds, asook renosters, sebras en gemsbokke is nog op die moet-sien-lys.

Hulle sal graag nog met die Himba-mense wil kennis maak. As gevolg van dié inheemse groep se waarde vir plaaslike toerisme word hulle ál meer vergelyk met die Masai-mense van Kenia.

Dié jong pioniers sal binnekort op televisieskerms wees. Net die tyd sal leer waar die avontuur hulle volgende sal neem.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer