Namibiu00eb en Zim staan saam
Namibiu00eb en Zim staan saam

Namibië en Zim staan saam

Samewerking is verklaar op gebiede soos beesvleisuitvoere, die Trans-Kalahari-spoorlyn en die benutting van 'n droëhawe.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namibië en Zimbabwe het amptelik ooreengekom om saam te werk om handel, vervoer en gesondheid te bevorder en om 'n verenigde standpunt rakende wêreldverwikkelinge in te neem.

Afvaardigings van die twee lande het Woensdag en Donderdag vir die sesde ronde van Namibië-Zimbabwe politieke en diplomatiese konsultasies ontmoet.

In haar afsluitingstoespraak het die minister van internasionale betrekkinge en samewerking en Namibië se adjunk- eerste minister, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, die verdieping van samewerking tussen die twee lande verwelkom.

“Ek is tevrede dat ons die ooreenkoms onderteken het om die Namibië-Zimbabe bilaterale kommissie te vestig, wat effektief die gesamentlike kommissie-meganisme, soos ons dit ken, tot 'n einde bring,” het sy gesê.

Namibië sal gasheer wees vir die eerste sessie van die nuwe kommissie, wat deur die twee staatshoofde as medevoorsitters gelei sal word. Die datum moet nog vasgestel word.

Intussen werk die twee lande reeds om die uitvoer van Namibiese beesvleis na Zimbabwe te vergemaklik en om die gebruik van Zimbabwe se droëhawe, deur roetes langs die Trans-Kalahari snelweg, te bevorder. Die twee wil ook met Botswana onderhandel oor die spoedige voltooiing van die Trans-Kalahari spoorlyn.

Beide lande streef ook om hul inwoners teen Covid-19 in te ent. Namibië het Zimbabwe bedank vir die kostelose lugbesending van entstowwe geskenk deur China in Maart.

Die gesamentlike handel- en ekonomiese komitee tussen Namibië en Zimbabwe sal meer gereeld vergader om spesiale aandag aan die versterking van ekonomiese samewerking te gee.

Namibië het opnuut 'n beroep gedoen vir die opskorting van alle sanksies teen Zimbabwe. Namibië en Zimbabwe veroordeel die onlangse geweld in Palma in die Mosambiekse provinsie Cabo Delgado en steun die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se ingryping om veiligheid en vrede daar te herstel.

Beide lande veroordeel die geweld deur alle faksies in die Demokratiese Republiek die Kongo.

Albei lande ondersteun die Afrika-unie en SADC se besluit om volledige dekolonisering van Mauritius en Madagaskar te bevorder, en was albei omgekrap dat die uitvoering van Verenigde Nasies-resolusies oor Westelike Sahara nie vorder nie.

Hulle ondersteun ook onafhanklikheid vir Palestina en neem kennis van erge gewelddade wat die Israeliese regime in die besette gebiede teen die Palestynse volk pleeg. Namibië en Zimbabwe moedig die VN Veiligheidsraad aan om 'n tweestaatoplossing te verseker. Verder wil hulle ook hervorming van die VN en die Veiligheidsraad sien.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!