Namibiu00eb gaan 2017 nat binne
Namibiu00eb gaan 2017 nat binne

Namibië gaan 2017 nat binne

Namibiërs jubel nadat baie plekke in die land die Nuwejaarsnaweek die eerste noemenswaardige reën gekry het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die reën is hier!

Wydverspreide neerslae het veral Sondag oor groot dele van die land voorgekom en op plekke is tot digby 100 mm reën gemeet.

Mnr. Odillo Kgobetsi, hoofvoorspeller by die Namibië Metereologiese Diens, het gister aan Republikein gesê matige tot swaar neerslae van vandag tot 18 Januarie oor die binneland verwag. ’n Weerwaak is uitgereik oor wydverspreide donderbuie môre en Donderdag oor die sentrale en suidelike streke, met enkele buie wat ook oor die westelike dele verwag word.

Die reën is te danke aan ’n laagdrukstelsel in die laer- en middelvlakke en volgens Kgobetsi sal tropiese lug uit die Kongo reëntoestande gunstig hou. Die westelike, verre noordwestelike en verre suidwestelike dele sal egter nie so gelukkig wees soos die noordelike, sentrale en oostelike dele nie en mooiweerstoestande met net enkele buie word verwag.

Sigi Heimstädt van die plaas Haartebeespoort suid van Summerdown het gister op Namibië Boere se Facebook-blad gesê 95 mm reën het Sondag by een van die poste op sy plaas uitgesak. “Watter heerlike Nuwejaarsgeskenk! Baie, baie dankbaar.”

Gert Jacobie het op Facebook gesê berigte van rëen kom van so ver as Keetmanshoop, Ai-Ais en Rosh Pinah. “Dit word ook beweer dat dit in die Noorde en Noordooste in die omgewing van Eenhana tot Katima Mulilo gereën het,” het hy in sy plasing gesê.

Oor die 60 mm wat Rolf Heiser by Hochfeld gemeet het, sê Jacobie: “Dis nou ’n belangrike syfer uit die voor-Kalahari.”

Die Vreugde Gasteplaas naby Outjo in die Kunenestreek kon nie vir 'n beter manier gevra het om die nuwe jaar te begin nie. Daar is Sondag in net een uur 65 mm reën gemeet. Dit is byna die helfte van die totale hoeveelheid reën wat dié plaas tydens die vorige reënseisoen gehad het, word op Facebook berig.

René van Wyk-Viljoen van Suiderhof in Windhoek sê hulle het vanaf 22 Desember tot 2 Januarie 50 mm reën ontvang.

Sondag se neerslae oor die hoofstad het gewissel van 20 mm tot sowat 45 mm.

“Ons reënmeter in Avis, Windhoek, het vanoggend bol gestaan met 34 mm stroopsoet reënwater daarin. Ek het dit toe maar uitgegooi om plek te maak vir laatmiddag se oes,” het Philip Deetlefs gesê.

Cornelius Zondagh sê hy het 39 mm in Pionierspark gemeet en Mari Terblanche het in Klein Windhoek 32 mm uit die reënmeter gegooi.

Antonio Simoes van Rehoboth sê die Oanobdam het Sondag 17 mm ontvang.

Leigh Zandberg sê hulle het 5 mm op hul kleinhoewe buite Omaruru ontvang.

Volgens sasscalweathernet.org is die volgende neerslae op 1 Januarie gerapporteer:

Tsumke 27,5 mm;bSachinga (Katima Mulilo) 21,5 mm; Mashare (Kavango-Oos) 15,5 mm;

Kalahari Sandveld 14,5 mm; John Pandeni (Grootfontein) 9,5 mm; Plaas Kaoko-Otavi 6,5 mm; Plaas Erich Field (tussen Okahandja en Otjiwarongo) 5 mm en

Plaas Clara Valley (suidwes van Windhoek) 3,5 mm.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!