Namibië gasheer van Steps2Walk

Sowat 20 Namibiërs sal tydens 'n uitreikingsprogram gratis chirurgiese behandeling by die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek ontvang.
Namibië was onlangs die gasheer van gerekende voet- en enkelchirurge van Europa, Brittanje en die Amerikas tydens die jaarlikse wêreldwye Steps2Walk Voet- en Enkeluitreiking en Konferensie wat vir die tweede agtereenvolgende jaar plaaslik aangebied is.

Sowat 20 Namibiërs het tydens die uitreikingsprogram gratis chirurgiese behandeling by die Lady Pohamba Private Hospitaal (LPPH) in Windhoek ontvang.

Steps2Walk (https://steps2walk.org/) is ’n nie-winsgewende organisasie wat uitreik na pasiënte in minderbevoorregte gemeenskappe wat voet- en enkelprobleme het. Sedert 2018 is Namibië ’n jaarlikse vaste instelling op die program wat chirurge oraloor die wêreld byeen bring.

Volgens die uitvoerende direkteur en stigter van Steps2Walk, dr. Mark Myerson, is 18 Namibiese staatspasiënte danksy chirurgie en met die hulp van plaaslike mediese beamptes verlede jaar in die LPPH gehelp.

“Al die pasiënte het ingewikkelde probleme gehad en is deel van die staat se gesondheidstelsel wat onder normale omstandighede nie toegang tot die tipe behandeling sou hê nie,” het hy gesê.

Die program het vanaf 9 tot 13 Desember geduur.

Deel van die program was die bemagtiging en onderrig van deelnemende chirurge oor die behandeling. Dié chirurge was van Suid-Afrika, Angola, Zimbabwe en Namibië. Volgens die ortopediese chirurg en plaaslike gasheer dr. Jacques Heinrich Jonck is 40 pasiënte vanjaar met komplekse voet- en enkelprobleme geïdentifiseer wat chirurgiese behandeling vereis.

“Ons het net die kapasiteit om 20 pasiënte met chirurgie tydens vanjaar se program te behandel. Die res van die pasiënte sal tot aanstaande jaar moet wag. Met die hulp van plaaslike implantaat-maatskappye en die ondersteuning van die LPPH, gaan ek probeer om ten minste een pasiënt per maand van die oorblywende 20 pasiënte aanstaande jaar te behandel,” het hy gesê.

Volgens Jonck het hy verlede jaar se pasiënte ná hul onderskeie operasies tot en met hul volledige herstel ondersteun en het dit ’n positiewe verskil in hul lewe gemaak.

Tydens verlede jaar se uitreikingsprogram het 15 ortopediese chirurge akademiese en praktiese opleiding tydens die program ontvang. Hulle kon met waardevolle nuwe vaardighede en hernude passie na hul onderskeie lande terugkeer om ook pasiënte daar te help.

Volgens Jonck word dié chirurge met die hand uitgesoek en het almal spesiale vaardighede wat hulle bereid is om gratis aan die plaaslike gemeenskap te bied.

Op haar beurt het Olthaver & List (O&L) se groepbestuurder vir korporatiewe betrekkinge, me. Patricia Hoeksema, gesê die groep ondersteun met trots die program.

“Ons vier die sukses van verlede jaar se program en sien uit na nog meer lewens wat deur middel van die lewensveranderende program in die toekoms verander word,” het sy gesê. Ander borge van vanjaar se program sluit in die Lady Pohamba Private Hospitaal, NAMRAD, Killian Orthopaedics, Gecka Pharma, Smith and Nephew Orthopaedic Division, Paragon28 Orthopaedic Implant Company en Gondwana.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!