Namibiu00eb: Gee ons krag
Namibiu00eb: Gee ons krag

Namibië: Gee ons krag

Tot 73% van Namibië se elektrisiteit is in 2018 ingevoer.
Augetto Graig
Augetto Graig - Namibië is meer as ooit van ingevoerde krag afhanklik.

Die adjunkminister van myne en energie, me. Kornelia Shilunga, het Dinsdag ter motivering van die ministerie se 2019-'20-begroting gesê Namibië het in 2018 sowat 73% van die land se elektrisiteit ingevoer. “Dit is sedert onafhanklikwording die hoogste invoersyfers op rekord,” het sy gesê.

Tussen 1990 en 2009 was die invoersyfer ongeveer 48%, en tussen 2010 en 2017 was dit 38%, volgens die adjunkminister. “Dit beteken ons raak al hoe meer van beskikbare en betroubare kragopwekkers in die streek, insluitend dié in buurlande, afhanklik.”

Ten einde die kwessie te takel, het die ministerie sy nasionale, geïntegreerde hulpbronneplan (NIRP) ingestel om toevoer oor 20 jaar, vanaf 2016 tot 2035, te verbeter.

Die plan sluit die toepas van die gewysigde enkelkopermodel in. Daarvolgens sal NamPower nie meer die enigste koper en verspreider van elektriese krag in die land wees nie.

Die nuwe model maak voorsiening vir die direkte verkoop van elektrisiteit deur onafhanklike kragopwekkers aan elektrisiteitsverspreiders in streke (REDs), plaaslike owerhede, munisipaliteite, groot nywerhede en myne.

Die model het ten doel om: Beleggings van die privaat sektor in kragopwekking in Namibië te bevorder, mededinging aan te moedig ten einde kragpryse af te dwing, en groter plaaslike kragvoorsiening te vergemaklik.

Die ministerie hersien tans die elektrisiteitswet en werk aan nuwe wetgewing vir die opstel van 'n nuwe kragreguleerder. Met die NIRP beoog die ministerie om teen 2025 kraginvoere tot 20% te verminder.

Die ministerie bevorder ook die gebruik van hernubare kragbronne in Namibië deur NamPower se REFIT-program. Hiermee is sonkragstasies van 10MW op Trekkopje en Outapi in die 2018-'19-boekjaar voltooi. Tans verskaf die REFIT-projekte 55MW uit 'n mikpunt van 70MW, met nog drie 5MW-sonkragstasies wat gebou word. Daar is ook op Mariental 'n 37MW-sonkragaanleg en 'n 10MW-sonkragstasie opgerig, asook 'n 10MW-sonkragstasie naby Keetmanshoop, het Shilunga gesê.

Met die nuwe begroting van sowat N$286,2 miljoen wil die ministerie N$81,3 miljoen aan kragsekerheid en -voorsiening bestee. Hiervan sal N$54 miljoen gebruik word vir plattelandse elektrifisering, hoofsaaklik van skole en regeringsgeboue. In die vorige boekjaar is N$49,5 miljoen hiervoor gebruik, wat kragkoppeling na 35 plekke behels het.

Die ministerie beplan ook om N$5,3 miljoen vir die nasionale energiefonds te gee en N$13,6 miljoen op versekering van brandstofvoorraad te bestee. Die nasionale oliebergingsaanleg is reeds 97% voltooi, het Shilunga gesê.

Die ministerie het verlede jaar twee studies oor die Baynes-hidrokragprojek gedoen. Die studies oor tegniese en omgewingsimpakkwessies het N$21,5 miljoen gekos en sal na verwagting teen September voltooi wees.

Die grootste deel van die begroting sal op mynbouverwante projekte bestee word. Volgens die adjunkminister is in 2018-’19 altesaam N$1,4 miljard uit mynboubronne ingesamel. Dit sluit in sowat N$20 miljoen uit olie-eksplorasieregte en produksiehuurkontrakte, asook N$3,3 miljoen uit mineraleregte.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer