Namibiu00eb: Gemiddeld 3 kinders per vrou
Namibiu00eb: Gemiddeld 3 kinders per vrou

Namibië: Gemiddeld 3 kinders per vrou

Byna 60% van Namibiese vroue het toegang tot 'n vorm van voorbehoeding.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die vermoë om te kies hoeveel kinders jy het, wanneer jy hulle het, en hoeveel tyd tussen kinders verloop, kan ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling 'n hupstoot gee.

In Namibië het die gemiddelde vrou drie kinders en het 59% van vroue tussen 15 en 49 jaar toegang tot 'n vorm van voorbehoeding.

Van 2016 tot 2017 het 82 uit elke 1 000 tienermeisies tussen 15 en 19 'n baba gehad.

Volgens die jongste verslag oor die huidige stand van die wêreldbevolking, wat deur die Verenigde Nasies (VN) se bevolkingsfonds (UNFPA) vrygestel is, is daar 'n wêreldwye neiging tot kleiner gesinne.

Dit is 'n weerspieëling van mense wat keuses rondom voortplanting uitoefen.

“Wanneer mense nie 'n keuse hieroor het nie, kan dit 'n langtermyn impak op vrugbaarheidskoerse hê en is dit dikwels laer of hoër as wat die meeste begeer,” lui die verslag.

Die verslag sê voorts die grootte van gesinne is nou verbind met voortplantingsregte, wat ook met baie ander regte verbind word.

Dit sluit die reg op voldoende gesondheid, opvoeding en werk in.

In Namibië is die sterftesyfer onder swanger vroue tydens geboorte 265 sterftes uit elke 100 000 geboortes. Van 2006 tot 2017 is 88% van geboortes in die land deur geskoolde gesondheidspersoneel hanteer.

“Waar mense hul regte kan uitoefen, is hulle geneig om te floreer. Waar hierdie regte egter onderdruk word, misluk mense dikwels daarin om hul volle potensiaal te bereik, wat weer ekonomiese en maatskaplike vooruitgang belemmer,” sê die verslag.

Opsies kan die wêreld verander, beaam UNFPA se uitvoerende direkteur, dr. Natalia Kanem.

“Dit kan vroue en meisies se welstand baie vinnig verbeter, gesinne verander en wêreldwye ontwikkeling versnel,” sê Kanem.

Wanneer 'n vrou die vermoë en die middele het om 'n swangerskap te voorkom of te vertraag, het sy meer beheer oor haar gesondheid, en kan sy werk of nié, en haar volle ekonomiese potensiaal bereik, sê die verslag.

Volgens die verslag is daar geen land waarvan die inwoners te alle tye voortplantingsregte geniet nie.

“Die meeste paartjies kan nie die getal kinders hê wat hulle wil nie, omdat hulle óf nie ekonomiese en maatskaplike ondersteuning het om hul familiegrootte van voorkeur te hê nie, óf nie die middele om hul vrugbaarheid te beheer nie.”

Die verslag waarsku die gebrek aan moderne voorbehoeding verhoed “honderde miljoene vroue” om kleiner gesinne te kies.

Sedert 1994 se internasionale konferensie vir bevolkings en ontwikkeling het voortplantingsgesondheid en -regte daadwerklik oraloor die wêreld verbeter, lui die verslag.

Mense het meer inligting oor dié regte, asook keuses en meer ver­moëns om hul regte uit te oefen.

“Die oorgang na minder vrugbaarheid is die gevolg van mense wat hul regte uitoefen en die regte besluite oor voortplanting neem om min of soveel kinders te hê as wat hulle wil.”

Die verslag maak verskeie aanbevelings om vryheid van keuse 'n werklikheid te maak. Dit sluit voorkeur aan universele toegang tot gehalte voortplantingsorg, soos hedendaagse voorbehoedmiddels, in.

Voorts moet onderrig verbeter, wat insluit ouderdomstoepaslike seksvoorligting en 'n verandering in mans se houding jeens vroueregte.

Ook moet dit makliker vir paartjies gemaak word om meer kinders te hê sou hulle dit verkies, deur 'n groter balans tussen werk en ontspanning deur middel van byvoorbeeld bekostigbare kindersorg te skep.

“Die pad vorentoe is die volle verwesenliking van voortplantingsregte, vir elke individu en paartjie, ongeag waar en hoe hulle leef of hoeveel hulle verdien,” sê Kanem.

“Dit sluit die verwydering van alle struikelblokke in, hetsy ekonomies of maatskaplik, asook instellings wat vrye en ingeligte keuses beperk.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!