Namibiu00eb het lae impak op omgewing
Namibiu00eb het lae impak op omgewing

Namibië het lae impak op omgewing

Volgens 'n Britse studie lê Namibië 13de op die ranglys.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Volgens ’n internasionale studie is Namibië 13de uit 102 lande ter wêreld met 'n lae impak op die omgewing.

'n Nuwe Britse studie van MoneySuperMarket dui aan hoe mense van verskillende lande in die wêreld 'n impak op hul omgewing het.

Volgens die studie is 88,56% van Namibië se energie van groen bronne afkomstig. Namibië se koolstofuitlaatgasse is gelyk aan 1,2 ton per persoon teenoor die topland, Mosambiek, se 0,1 ton per persoon.

Lugbesoedeling word gemeet in mikogram per kubieke meter lug (µg/m3) en Namibië se lugbesoedelingsvlak is net 5 µg/m3.

Energieverbruik is 31,25 Britse eenhede vir termiese energie (BTU) per capita per jaar. Altesaam 6,25% van Namibië se afvalwater word behandel en munisipale soliede afval is 0,5 kg per persoon per dag.

Dié studie toon lande se individuele bydrae tot die wêreld se klimaat en fokus op gebiede waarop elke land kan verbeter.

Die studie help ook om dié lande wat die slegste impak op die omgewing het, te identifiseer.

Die resultate is verrassend. Vyf Afrika-lande is onder die toptien lande met die laagste impak op die omgewing.

Volgens die studie het Mosambiek die minste menslike impak op die omgewing.

Byna al die energie wat hulle produseer, kom van groen energiebronne af (99,87%) en hulle produseer net 0,14 kg afval per persoon per dag teenoor Amerika se 2,58 kg.

Die verskillende maatstawwe waarvolgens die gemiddelde impak van elke land gemeet word, sluit in energieverbruik, lugbesoedeling en steun op nie-herwinbare energie.

Elders in Afrika is Ethiopië tweede, Zambië derde, Kenia vyfde en Ghana sewende op die ranglys.

Afrika as 'n vasteland is hoog op die ranglys en fokus sterk op die gebruik van groen energie, lae koolstofuitlaatgasse en lae vlakke van lugbesoedeling en afvalproduksie.

Namibië se buurland, Suid-Afrika, lê sewende laagste op die ranglys.

Ethiopië se energieverbruik is baie laag met elke persoon wat net 'n gemiddeld van 1,75 BTU per jaar gebruik. In teenstelling gebruik inwoners van Trinidad en Tobago 'n totaal van 757,54 BTU per jaar.

Zambië het die minste koolstofuitlaatgasse met net 0,07 ton per persoon, waar Trinidad en Tobago, die land wat die laagste op die ranglys is, 'n gemiddel van 37,1 ton uitlaatgasse per persoon het.

Kenia het die derde minste lugbesoedelingsvlak met 4.3 µg/m3, terwyl China die ergste lugbesoedelingsvlak het met 47.2 µg/m3.

Ghana lê sewende op die ranglys met die minste munisipale afval per persoon met 0,09 kg per dag, in vergelyking met die Iere se 3,58 kg afval per capita per dag.

Die toptien lande op die ranglys is Mosambiek, Ethiopië, Zambië, Latvië, Kenia, Albanië, Ghana, Tajikistan, Nepal en Colombia. Die 10 lande wat die ergste impak op die omgewing het, is Trinidad en Tobago, Amerika, Sri Lanka, Ierland, Kanada, China, Australië, Suid-Afrika, Ciprus en Maleisië.

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer