Namibiu00eb hou asem op oor inperking
Namibiu00eb hou asem op oor inperking

Namibië hou asem op oor inperking

Pres. Hage Geingob en sy kabinet het gister vergader om oor die weg vorentoe te besin, terwyl druk op die regering toeneem om die grendeltydperk op te hef.
Denver Kisting
Denver Kisting – Dit is onseker of Namibië se grendeltydperk weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande hokregulasies volgende Maandag ten einde sal loop.

Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gistermiddag bevestig die kabinet het gisteroggend oor die kwessie beraadslaag.

“Ons het nie ’n besluit geneem om die inperking te verleng of op te hef nie. Ons sal ’n aankondiging in daardie verband maak sodra ’n besluit geneem is,” het sy by navraag aan Republikein gesê.

Volgens die eerste minister is ’n aankondiging oor “die strategie post-hoktydperk” ook op hande.

Op ’n vraag oor wanneer dit sal gebeur, het sy gesê: “Enige tyd van vandag (gister) af.”

Vandag (Dinsdag) is reeds die 32ste dag van die land se 38 dag lange hoktydperk wat ingestel is om die verspreiding van die virus hok te slaan.

‘Hef hoktydperk onmiddellik op’

Intussen doen ’n aanlyn versoekskrif die ronde waarin die regering gevra word om onmiddellik die inperking van Namibië op te hef of ten minste gedeeltelik op te skort.

Dié groep onder leiding van mnr. François Langenhoven sê: “Namibië moet die inperking ophef. Indien dié inperking voortduur, of erger, verleng word, sal die maatskaplike en ekonomiese gevolge rampspoedig wees.”

Die groep benadruk die land se ekonomie was reeds voor Covid-19 sy opwagting gemaak het in ellende gedompel.

Die voortgesette grendeltydperk sal die ekonomie vir jare – selfs dekades – laat tuimel, maan Langenhoven namens die groep.

“Besighede sal sukkel om te herstel ás hulle hoegenaamd herstel.”

Teen gistermiddag het hulle reeds meer as 3 000 handtekeninge ingesamel.

Langenhoven waarsku voorts werkloosheid sal bly toeneem, terwyl misdaad weens armoede hoogty sal vier.

“Dit is onmenslik om slagoffers van huishoudelike geweld tuis met geweldenaars gevange te hou. Polisiegewelddadigheid maak ’n bespotting van Namibië se swaar verdiende vryheid en menseregte ná ’n gruwelike apartheidsregime.”

Hulle mik ook ’n hou in Swapo se rigting oor verlede Sondag se partytjie om die regerende party se 60ste verjaardag te herdenk – ondanks maatreëls wat massavergaderings verbied en die handhawing van sosiale afstand afdwing.

“Dit moet stopgesit word. Die Namibiese regeringsleiers moet aan die pen ry omdat hulle hul eie reëls verontagsaam het. Die inperking moet nóú opgehef word.”

Leiers van twee opposisiepartye, die Popular Democratic Movement (PDM) en die Landless People’s Movement (LPM), het intussen strafregtelike klagte teen Swapo-leiers aanhangig gemaak.

Sedert die nuus oor die eerste twee gevalle van Covid-19 in Namibië op 14 Maart rugbaar geword het, is 14 verdere gevalle aangemeld.

Die helfte van alle gevalle (agt) het intussen herstel en geen sterftes is aangemeld nie.

’n Aanvanklike hoktydperk is vir die Khomas- en Erongostreek ingestel wat 17 April geëindig het.

Dié tydperk is intussen tot 4 Mei om 23:59 verleng en geld oraloor.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!