Namibiu00eb hou see skoon
Namibiu00eb hou see skoon

Namibië hou see skoon

Oliestorting en ander bedreigings vir skoon seewater moet deur elke Namibiër bekamp word, sê die minister van inligting en kommunikasietegnologie.
Augetto Graig
Augetto Graig - Namibië se kabinet het besluit om die internasionale konvensie vir die bekamping van besoedeling deur skepe in beginsel te ondersteun.

Die land se toetrede tot bylae vier en ses van die 1973-konvensie, soos aangepas deur die protokol van 1978 en die protokol van 1977 – ook bekend as Marpol – is na die kabinetskomitee vir wetgewing verwys vóór dit na die nasionale raad vir bekragtiging sal gaan.

Verder is Namibië se toetrede tot die internasionale konvensie op burgerlike aanspreeklikheid vir oliebesoedelingskade van 2001 ook in beginsel goedgekeur en na dieselfde komitee verwys voor dit aan die parlement voorgelê word.

Deur middel van dié stappe sal die land se bekamping van en reaksie op seewaterbesoedeling heelwat kan verbeter.

Dié aankondiging is Donderdag deur die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa, in die hoofstad gedoen.

Mnr. Pinehas Auene, adjunkdirekteur van mariene besoedelingsbeheer, was ook ten tyde van dié aankondiging teenwoordig.

Simataa sê die bekragtiging van die 2001-konvensie sal Namibië in staat stel om verantwoordelike partye wat olie in Namibiese waters stort, aanspreeklik te hou.

Auene het gesê die Marpol-konvensie hanteer die voorkoming van dié soort besoedeling, terwyl die ander konvensie optrede teen skuldiges vir Namibië sal vergemaklik.

“Sou ’n storting plaasvind, wat sal gebeur, watter toevlug sal Namibië hê? Wie sal aanspreeklik daarvoor wees?” het hy gevra.

Hoewel ander konvensies spesifiek die moontlikheid van oliestortings van brandstoftenkskepe hanteer, is die meerderheid skepe wat Namibiese waters besoek nie tenkskepe nie, het Auene gesê.

Die 2001-konvensie is dus spesifiek gemik op stortings deur skepe, wat tenkskepe uitsluit, het hy gesê.

Dit sluit in passasierskepe, visvangskepe en droë goedere-skepe, waarvan baie meer Namibiese hawens soos Walvisbaai besoek.

Met die bekragtiging van dié konvensie sal Namibië nie die oortreding hoef te bewys nie, maar slegs dat storting van ’n spesifieke skip afkomstig is.

Dit vereis ook dat skepe derdepartyversekering moet uitneem.

Die versekeraars sal dan volle verantwoordelikheid vir die storting moet neem, sonder dat Namibië eienaarskap moet bewys.

“Ons sou in so ’n geval die versekeraars dus direk kan dagvaar,” het hy gesê.

Auene het gesê die konvensie beteken ook Namibië sou nie belastinggeld in reaksie op ’n storting hoef te gebruik nie, wat volgens hom van belang is omdat die opklaar van oliestortings baie duur is.

Hy noem die voorval in Maart verlede jaar naby Afroditestrand.

Dié oliestorting was redelik klein, maar het die land byna N$1 miljoen gekos.

Nuwe wetgewing, wat tot die vestiging van die Namibië mariene-owerheid sal lei, is nog ’n belangrike stap wat tans gedoen word, het Auene gesê.

Dié owerheid sal sy direktoraat in die visseryeministerie vervang en deur die toepassing van tariewe op skeepsvaart- en oliemaatskappye die belegging in en behou van skaars vaardighede in die sektor finansier.

“Ons vaar baie goed, en van al die buurlande stel Namibië ’n goeie voorbeeld. Ons het die mannekrag, maar ongelukkig is baie van ons toerusting uitgedien. Ons werk nou ook aan ’n formele ooreenkoms met die betrokke plaaslike owerhede om te verseker hulle verskaf toerusting so vinnig en maklik moontlik wanneer nodig,” het hy gesê.

“Daar is ’n groot behoefte daaraan dat ons werklik voorbereid moet wees,” het hy gesê oor die kwesbaarheid van die mariene lewe langs die Namibiese kus.

“Ons moet nou ontwikkelings by ons hawes, aan ons kus, in die oliebedryf en wat seeverkeer betref, dophou,” het hy benadruk.

Simataa het gesê alle Namibiërs moet hul kant bring, insluitend handelskepe, die vloot, die ministerie, Namibiese skepe, ontspanningsbote en selfs hengelaars, om besoedeling vinnig aan te meld en die skuldiges aan die pen te laat ry.

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer