Namibië is ongelooflik; van geel mat tot sprinkaanhappies
Tanja Bause – Dit was langnaweek en weer tyd om ons besonderse mooi land in te vaar en te gaan kamp. Dié keer het ons besluit om die wêreld naby Khorixas te gaan verken.
Ons was altesaam 18 mense van verskillende dorpe in die land en selfs een Suid-Afrikaner wat besluit het om te gaan toer. Die oudste was 75 en die jongste 24.
Ek is seker daar is van julle wat dink dit is net moeilikheid soek om so baie mense van verskillende ouderdomme bymekaar te gooi en te gaan kamp. Dit is malligheid.
Ek weet nie of dit was omdat die ouer mense jonk van gees was en die jongelinge ouer siele nie, óf dit die ongelooflike mooi natuurtonele of die vriendelike mense was nie, maar alles het seepglad verloop.
Die gebied waar ons getoer het, het vir die eerste keer in sewe jaar behoorlik reën ontvang. Dit was grasgroen en oortrek met geel duwweltjies. Die mense van die omgewing was ongelooflik dankbaar.
“Ek het dié jaar 74 mm reën gekry wat die meeste vir die afgelope sewe jaar is. Ek is dankbaar, geseënd en sal die jaar goed oor die weg kom met my gras,” het Eddie van die Petrified Coffee Shop gesê.
Die riviere het geloop en plek-plek is daar nog poele water te sien. Jenny was 'n bietjie teleurgesteld dat sy nie haar tjoep kon opblaas nie, omdat die watervlak te laag was.
Die goeie reën het natuurlik ook daarvoor gesorg dat talle insekte wie se eiers dormant in die grond gelê het, uitgebroei het. Die koringkrieke en sprinkane wat die wêreld vol was, was nie vir almal 'n plesier nie.
Ek gril my dood vir 'n sprinkaan. Daar is baie min goggas wat my so kan laat skree en daar was baie van hulle. Elke aand het hulle net groter en meer geword.
Rozanne, ons entomoloog, het beweer sodra 'n mens iets eet, is jy nie meer daarvoor bang nie en ons besluit toe om die aand sprinkane te eet.
Ons mag egter nie die kleintjies eet nie, want hulle vlerke is pienk en dit beteken hulle is giftig. Niemand weet of dit waar is en of sy net wou hê ons moet die grotes eet nie, maar ons het die kenner geglo.
Sy het hulle gevang en voorberei en ja, ek het hom geëet. Ek glo daaraan dat jy alles in die lewe een keer moet probeer om 'n ingeligte besluit te kan neem.
So sprinkaan is in die mond en groot was die verbasing by 'n ieder en 'n elk. Hulle proe 'n bietjie soos neute en is lekker krakerig en glad nie te sleg nie. Net solank jy jou oë toe hou wanneer jy hom in jou mond druk.
Sy was ook reg – die volgende dag het ek net kos sien rondvlieg en hulle het my glad nie meer so erg laat gril nie. Ek moet egter byvoeg ek is baie dankbaar dat ek nie bang of grillerig vir 'n koringkriek is nie.
So van hulle gepraat, Michelle ons besoeker van oorkant die grens kom van Johannesburg af en soos julle kan dink is daar nie goggas in 'n groot stad soos daardie nie, of so beweer sy.
Sy ken nie Abrahamboepense nie en hulle het haar laat skree en trippel tot ek vir haar 'n piepkleintjie gebring het. Hy was nog grasgroen en het seker twee dae terug uitgebroei. Pietie kon op haar vinger sit terwyl sy vir hom 'n veilige groen mopanieboompie gaan soek het. Pietie se ma en pa moes egter ver weg bly.
Dit was 'n prettige naweek, met 'n goeie groep mense, met vriendelike mense wat ons langs ons pad teëgekom het, lekker kos bo en behalwe die onverwagse sprinkaanversnaperings en ongelooflike mooi natuurtonele. Die ou Damaraland het nog altyd en sal altyd 'n sagte plek in my hart hê en nou ook in 17 ander mense s'n.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie