‘Namibië kan mees vinnig groeiende ekonomie ter wêreld word’
‘n Optimistiese prentjie van Afrika en die potensiaal vir ekonomiese groei is in Londen deur pres. Hage Geingob geskilder.
Estelle de Bruyn - “Namibië is hier om sake te doen.
“Ons is gereed om voordeel te trek uit die nuwe golf van globale optimisme oor Afrika ten einde nuwe sakegeleenthede te ontdek sodat u een van die dae ‘n verslag van die Wêreldbank of ‘n artikel in Business Insider kan optel en sien dat Namibië die mees vinnig groeiende ekonomie in Afrika, en selfs die wêreld is. Hoekom nie?” het pres. Hage Geingob in Londen gesê.
Hy het die Koninklike Instituut vir Internasionale Aangeleenthede by Chatham House toegespreek tydens sy pas afgelope besoek aan Brittanje.
Hy het daarop gewys dat ses van die mees vinnig groeiende ekonomieë in die wêreld Afrikalande is, toe hy ‘n lesing onder die opskrif “Die filosofie van die Nuwe Afrika” gegee het.
Geingob sê sy eie drieledige teorie berus op prosesse, stelsels en instansies. Al drie hierdie aspekte moet terselfdertyd teenwoordig wees, aanvullend tot mekaar en wedersyds versterkend werk.
Onder die opskrif "Die argitektuur van demokratiese staatsbestuur” het Geingob op die vordering in Afrika gewys, waar vrye en regverdige verkiesings die norm eerder as die uitsondering geword het. Die regstaat en onafhanklike regsbank is een van die sake wat as Namibiese prestasies uitgelig is.
Hy het ook op die feit gewys dat die media in Namibië, wat die vryste in Afrika is en die 17de vryste ter wêreld, beter vaar as die Britse media, wat maar die 33ste posisie op die ranglys van Verslaggewers Sonder Grense beklee.
Die belangrikheid van deursigtigheid is ook deur hom beklemtoon toe hy gesê het Botswana, die Kaap Verdiese-eilande, Rwanda en Namibië is onder die top 50 mees deursigtige globale lande volgens die jongste indeks oor die persepsie van korrupsie.
“Dit is teleurstellend dat ontwikkelde lande nie te volle die openheid, vertroue en regverdigheid erken nie, en voortgaan om selektiewe moraliteit toe te pas wanneer dit by ontwikkelende lande en Afrika-nasies in die besonder kom,” het hy gesê.
Lidmaatskap van ICC
Wat die omstrede debat oor uittrede of voortgesette lidmaatskap van die Internasionale Strafhof (ICC) betref, sê Geingob ‘n debat oor die besluit moet plaasvind deur prosesse, stelsels en instansies in ag te neem.
“Kortliks, Afrikalande het by die ICC aangesluit toe die binnelandse prosesse in baie Afrikalande foutief was, stelsels swak en instansies nie onafhanklik was nie. Op dieselfde tyd het lande soos Amerika, wat vertroue in hul eie prosesse, stelsels in instansies gehad het, nie by die ICC aangesluit nie. Ná ‘n paar dekades is ek van mening dat die omstandighede verander het en dat baie Afrikalande vandag prosesse, stelsels en instansies ingestel het wat gelykstaande is aan dié van ontwikkelde ekonomieë en vanuit daardie perspektief geregverdig is om ‘n beëindiging van hul lidmaatskap aan die ICC te oorweeg,” het hy gesê.
Oor die makro-ekonomiese argitektuur sê Geingob dit het meer gunstig geword met ‘n afname in skuldvlakke, omsigtige fiskale en monetêre beleide en gesonde finansiële instansies ingestel.
Hy sê die bankstelsels in sommige Afrikalande, insluitende Namibië, is beter gekapitaliseer as sommige ontwikkelde lande s’n.
“Ongelukkig het die Nuwe Afrika nog ‘n lang pad om te gaan wat die maatskaplike argitektuur betref. Ondanks ‘n afname in armoede, is daar steeds in sommige gebiede agterstande.”
Hy sê armoede in Namibië het van 70 persent in 1993 afgeneem na 18 persent in 2015. “Gedurende dieselfde tyd het honger-armoede afgeneem tot 5,8 persent. Gegewe die aanvanklike toestande wat gekenmerk is deur reuse-ongelykheid en rasse-segregasie, is dit nie ‘n onbeduidende prestasie nie,” het die president gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie