Namibië klop besoekers lag-lag

Hengel
Tielman van Lill
Die jaarlikse Gus Kollner-hengeltoernooi tussen Namibiese President- en Suid-Afrikaanse Presidentspanne het van 9 tot 11 Oktober naby Hentiesbaai plaasgevind.

Die spanne wat deelgeneem het, was Namibië President A en B-, veterane-, die vroueontwikkelingspan en 'n meesterspan.

Vir Suid-Afrika het 'n President A en B-, meesters-, vroue-, 'n binnelandse span, asook 'n ontwikkelingspan aas uitgegooi.

Die eerste dag word van 08:00 tot 15:00 naby Winston se wrak ingegooi met Weerligklippe en Blare as grense met die water, wat nie sleg lyk nie, en sommer heelwat vis kom aan die hoek. Die vroue hengel noord van die Lighter af tot by die noordelike draad.

Ná die eerste dag is Namibië Pres. A met 29 visse (368 kg) voor, maar die SA Pres. A-span hap-hap aan die Namibiërs se eerste plek met 29 visse wat net 'n kilogram ligter weeg. Derde is Namibië Pres. B met 19 visse wat die skaal op 354 kg laat kreun en die SA Pres. vroue vierde met 314.7 kg.

Dag twee kom die hengelaars by Blackrock bymekaar en hengel van 07:30 tot 15:00 van die Zeilia se wrak tot by Stokkieskroeg in Hentiesbaai, terwyl die vroue mekaar suid van die seewaterontsoutingsaanleg af tot by Myl 34 pak.

Die SA Pres. A-span wys sy ware kleure en weeg 238,1 kg (30 visse) in om eerste te lê, terwyl Namibië Pres, B-span met heelwat minder vis (160,4 kg, 17 visse) die tweede posisie inneem.

Derde is die Namibiese Pres. B-span met 157, 5 kg wat 20 visse aan die hoek gekry het. Die vroue uit Suid-Afrika kraai opnuut koning met 20 visse (149,1 kg) teenoor hul Namibiese eweknieë wat net 12 vangste van 63 kg oplewer.



Dag drie

Die laaste dag maak die hengelaars halfsewe al hul eerste ingooie van Pomstasie af tot by Myl 14 en die vroue vang weer van Wlotzkabaken af tot by die ontsoutingswerke. Met die koue en nat weer verdwyn die vis, maar tog is die spanne suksesvol met die Namibiese Pres. A-span (24 visse, 256,8 kg), SA Pres. vroue (21 visse, 159,9 kg) en die Namibiese Pres. Ontwikkelingsspan (11 visse, 130,98 kg) wat die suksesvolste vir die dag is.



Uitslae

Spanne: Namibië Pres. A met 73 vis en massa van 883,1kg (goud). SA Pres. A met 69 vis (725,3 kg). SA Pres. vroue met 79 vis (623,7 kg, goud). Namibië Pres. B met 43 vis (572,9 kg, goud). Namibibië Pres. veterane met 40 vis (489,1 kg, goud). Namibië Pres. ontwikkelingsspan met 51 vis (485,2 kg, goud).



Voorste drie hengelaars per afdeling

1 Namibië Pres. A, Gelhar Slabbert (151 kg). SA Pres. A, Denver Tesmer (148 kg). Namibië Pres. A, Riaan Tap (139 kg).

1 Namibië Pres. B, André van Zyl (184 kg). 2 Namibië Pres. B, Corné Kruger (128 kg). SA Pres. B, Abe van der Poel (98,7 kg).

1 Namibië Pres. veterane, Grant Knight (109,2 kg). 2 SA Pres. binnelands, Riaan Coetzee (102,6 kg). 3 Namibië Pres. veterane, Martin Cordier (97,4 kg).

Namibië Pres. ontwikkeling, 1 Lurock Viljoen (106,2 kg), 2 Tersius Potgieter (86,6 kg) en Johan Kotze met (85,7 kg).

1 SA Pres. meesters, Roy Martin (131,1 kg). Namibië Pres. meesters, 2 Simen Anderson (123,3 kg) en 3 Andries Burger (87,4 kg).

SA Pres. vroue, 1 Michelle Soekoes (144,9 kg) en 2 Shelly Daniels (124,3 kg). 3 Namibië Pres. vroue, 3 Melany Lotter (107,9 kg).

Die drie tophengelaars van die kompetsie is André van Zyl (Namibië Pres. B met 184,8 kg), 2 Gelhar Slabbert (Namibië Pres. A met 151 kg) en 3 Denver Tesmer (SA Pres. A met 148,5 kg).

Die swaarste oneetbare vis is 'n bronshaai van 85,3 kg wat deur Roy Martin van die SA Pres. meesters uitgetrek is. Die swaarste eetbare vis is 'n kabeljou van 16,1 kg wat Abe van der Poel van die SA Pres. B-pan gelok is. 'n Totaal van 446 oneetbare vis met 'n massa van 4 501,3 kg is geland en alles is weer vrygelaat. Slegs 30 eetbare visse van 97,5 kg is uitgetrek.

Belangstellendes kan www.nsaa.na vir meer inligting besoek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer