Namibiu00eb knip (ook) Max 8 se vlerke
Namibiu00eb knip (ook) Max 8 se vlerke

Namibië knip (ook) Max 8 se vlerke

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibië is een van 43 lande in die wêreld wat die nou omstrede Boeing 737 Max 8-vliegtuie se vlerke ná Sondag se vliegramp geknip het. (Sien die infografiek.)

Die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA) het laat Dinsdag ’n tydelike verbod op die landing en vertrek van Boeing 737 Max 8-vliegtuie by Namibiese lughawens geplaas. Die verbod geld nie die gebruik van die Namibiese lugruim vir vliegtuie wat oor die land vlieg nie.

Die uitvoerende direkteur, me. Angelina Simana, sê die besluit is geneem “om passasiers en lugvaartpersoneel by lughawens teen enige lugvaartveiligheid- en sekuriteitsinsident” te beskerm.

Comair, wat British Airways se vlugte in die streek bedryf, was glo voornemens om sy nuwe Max 8 tussen Johannesburg en Windhoek in te span.

Simana het by navraag gesê dié Suid-Afrikaanse redery is die enigste wat deur die NCAA se verbod geraak word.

“In hierdie stadium raak dit Comair wat onlangs een in gebruik geneem het, en soos ek verstaan hulle op die roete Johannesburg-Windhoek-Johannesburg wou gebruik,” het sy in ’n e-pos gesê.

Comair het Maandag nog met hierdie vliegtuig tussen Johannesburg en Kaapstad gevlieg, maar kort daarna aangekondig dat hy dit van sy roetes in Suid-Afrika gaan onttrek.

Me. Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur van Comair se lugdiens-afdeling, het volgens Business Insider gesê nóg die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa), nóg Boeing het gevra dat hierdie vliegtuig onttrek word.

Paniek oor die veiligheid van hierdie spesifieke Boeing heers ná Sondag se Ethiopian Airlines-vliegramp waarin 157 mense kort ná opstyging naby Addis Abeba gesterf het.

Dit volg sowat vier maande nadat ’n Boeing 737 Max 8-vliegtuig van Lion Air naby Djakarta in Indonesië geval het en 189 mense dood is.

Bloomberg berig die grootskaalse onttrekking van hierdie vliegtuie uit gebruik het meegebring dat sowat ’n derde van die wêreldwye vloot van 350 tans nie vlieg nie.

Ethiopian Airlines se uitvoerende hoof, mnr. Tewolde Gebre-Mariam, het in ’n onderhoud aan CNN gesê vlieënier van die Boeing 737 Max 8 wat Sondag neergestort het, het gesukkel om die vliegtuig te beheer.

“Hy (die kaptein) het probleme gehad om die vliegtuig te beheer en het gevra om terug te keer na die lughawe,” het Gebre-Mariam vertel.

Hy het toestemming gekry, maar die vliegtuig het teen daardie tyd reeds van die radar verdwyn.

“Ons glo die ooreenkomste tussen die twee voorvalle is substansieel. Ek glo daar is vrae oor die vliegtuig wat nie beantwoord is nie,” meen Grebre-Mariam.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer