Namibiu00eb kry moeilike groep vir 2023 WB Rugby
Namibiu00eb kry moeilike groep vir 2023 WB Rugby

Namibië kry moeilike groep vir 2023 WB Rugby

Andrew Poolman
Die Namibiese rugbyspan sal hom opnuut in ’n klipharde groep bevind indien hy vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk kwalifiseer.
Frankryk, die gasheer, is Maandag in Parys in groep A saam met Nieu-Seeland geplaas. Italië, die Afrika-kwalifiseerder (moontlik Namibië) en die topkwalifiseerder van die Amerikas is ook in dié groep.
Suid-Afrika as die heersende Wêreldbekerhouer is saam met twee Sesnasies-spanne, Ierland en Skotland, in groep B geloot.
Wallis en Australië is saam (net soos in 2019) in groep C, terwyl Engeland hom in groep D bevind saam met Japan en Argentinië.
“Baie opgewonde,” het die All Blacks se afrigter Ian Foster oor die loting gesê, nadat hy omstreeks 02:00 Nieu-Seelandse tyd via Zoom by die regstreekse uitsending aangesluit het.
“Die Wêreldbeker is ’n uiters spesiale geleentheid en daar bestaan nie iets soos ’n maklike groep nie.
“Ons het baie geskiedenis met wedstryde teen Italië. By die vorige Wêreldbeker was ons ook saam gegroepeer, maar het vanweë ’n tifoon nie gespeel nie en daarom sal dit opnuut spesiaal wees om teen hulle te speel.
“Om in Frankryk se groep te wees, is ook spesiaal. Dit is ’n land met soveel geskiedenis en ons het met bewondering toegekyk hoe hulle hul span herbou het. Frankryk bou aan iets baie spesiaal vir 2023.”
Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, het in ’n nuusverklaring gesê die loting gee hom ’n einddoelwit om voor te werk.
“Om in dieselfde groep as Ierland en Skotland te wees, is ’n yslike uitdaging, maar om die toernooi te kan wen, moet jy al die spanne kan klop. Ons sal deeglik getoets word in die groepwedstryde,” sê hy.
“As jy kyk na die voorste drie spanne in elke groep, sou ek sê dat enige van daardie spanne ’n ander op enige gegewe dag kan klop. Dit is bewys deur Japan, wat in onlangse jare groot opgang gemaak het.”
• Die WB-groepe is:
Groep A: Frankryk, Nieu-Seeland, Italië, Amerikas 1, Afrika 1.
Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Skotland, Asië/Suidsee 1, Europa 2.
Groep C: Wallis, Australië, Fidji, Europa 1, Finale Kwalifiseerder.
Groep D: Engeland, Japan, Argentinië, Oseanië 1, Amerikas 2.
– Netwerk24 / The Guardian

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer