Namibiu00eb loof geskiedkundige Koreaanse beraad
Namibiu00eb loof geskiedkundige Koreaanse beraad

Namibië loof geskiedkundige Koreaanse beraad

Die leiers van Noord- en Suid-Korea het Vrydag ’n belofte onderteken om hul skiereiland in ’n kernwapenvrye gebied te omskep.
NAMPA
Namibië het die naweek die geskiedkundige beraad tussen die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen en sy Suid-Koreaanse ampsgenoot, Moon Jae-in.

Netumbo Nandi-Ndaitwah, Namibië se adjunk eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Vrydag kort ná dié twee staatsleiers se ontmoeting in ‘n verklaring gesê dié geskiedkundige beraad was die hoogste vlak van ontmoeting tussen dié twee lande in sowat ‘n dekade.

“Namibië geniet goeie bilaterale betrekkinge en samewerking met beide lande en hoop en vertrou daarom dat hierdie geskiedkundige beraad en die Panmoenjom-deklarasie vir vrede, voorspoed en hereniging van die Koreaanse skiereiland betrekkinge sal normaliseer,” sê die minister.

Sy het verder die hoop uitgespreek dat die ondertekening van hierdie deklarasie tot durende vrede en die bevordering van voorspoed, ‘n kernwapenvrye gebied en die uiteindelike hereniging van dié skiereiland sal lei.

Namibië het ook ‘n beroep op buitelandse magte gedoen om nie met die inisiatiewe van die twee Korea’s in te mang nie.

Intussen word berig ‘n spioen het ’n sleutelrol gespeel in die geskiedkundige ontmoeting tussen twee van die wêreld se oudste aartsvyande – die leiers van Noord- en Suid-Korea.

Suid-Korea se intelligensiehoof, Soeh Hoon, het twee dekades lank gewerk om die uitsonderlike ontmoeting te laat gebeur.

Tot verlede jaar nog het Suid-Korea en sy bondgenote Amerika en Japan gevrees Kim is kapabel en lanseer ’n interkontinentale missiel na Seoel, Tokio of selfs die Amerikaanse weskus nadat Noord-Korea in 2017 altesame 23 missieltoetse uitgevoer en gesê het sy missiele kan nou die VSA bereik, berig die BBC.

Verlede week reeds was daar beduidende vordering toe Kim aangekondig het Noord-Korea skort alle kerntoetse op.

Vrydag, met die eerste ontmoeting tussen leiers van noord en suid in meer as tien jaar, het die twee staatshoofde hande vasgehou, ’n boom geplant en ’n belofte onderteken om hul skiereiland in ’n kernwapenvrye gebied te omskep. Hulle het ook ’n banket bygewoon in die vredesnedersetting Panmoenjom in die gedemilitariseerde gebied wat die Koreas sedert die vroeë jare 50 skei toe die Koreaanse oorlog in ’n skietstilstand geëindig het. ’n Vredesverdrag is nou nog nie onderteken nie.

Die Noord-Koreaanse staatsnuusagentskap het berig dat ’n gemoedelike atmosfeer by die aandete geheers het, waar sentimente soos dié tussen “bloedfamilie” oorheers het.

Die spioen, Soeh, het bykans 18 jaar gelede al na Noord-Korea gegaan om die destydse leier, Kim Jong-il, wat in 2011 dood is, te oorreed om die eerste beraad in 2000 in Noord-Korea te hou. Soeh het Vrydag betraand toegekyk toe Kim Jong-il se seun vrede beloof.

Dit was die eerste keer dat enige Noord-Koreaanse leier sy voete op Suid-Koreaanse bodem gesit het sedert die Koreaanse oorlog van 1950 tot 1953.

Noord-Korea se staatsnuusagentskap het Saterdag die beraad as ’n keerpunt bestempel.

Pres. Donald Trump van Amerika het egter gesê hy sal druk op Noord-Korea volhou om ten volle van kernwapens ontslae te raak.

Die verklaring Vrydag het nie ’n uitdruklike belofte bevat dat Pjongjang bereid is om van sy arsenaal kernwapens en missiele af te sien nie.

Malcolm Turnbull, Australiese premier, het Trump se rol in die onderhandelinge oor Noord-Korea geprys en gesê dit het gehelp om die twee leiers bymekaar uit te bring.

Die China Daily het Saterdag berig die kernontwapening kan vyandskap tussen die twee bure beëindig en ’n nuwe era van ontwikkeling op die skiereiland inlei.

Die fokus verskuif nou na ’n beoogde spitsberaad tussen Trump en Kim, wat vir laat Mei of vroeg in Junie beplan word.

Die Koreas het intussen ooreengekom om ’n skakelkantoor te open, propaganda-uitsendings op die grens te staak en verdeelde families toe te laat om te herenig.

Moon beplan om Pjongjang later vanjaar te besoek. – Eie berig/Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!