Namibiu00eb moet mu00e9u00e9r teen marteling doen
Namibiu00eb moet mu00e9u00e9r teen marteling doen

Namibië moet méér teen marteling doen

Die land se tweede verslag ná 16 jaar is 'n aanduiding dat alles nie rooskleurig is.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die Namibiese regering is deur die internasionale komitee teen marteling oor die vingers getik omdat dit blykbaar nie genoeg doen om dié euwel uit te roei nie.

Ten eerste sê die komitee, omskryf die land se konsepwetsontwerp op die voorkoming en bekamping van marteling nie wat marteling behels nie. Voorts sê dit word wrede, onmens­like en vernederende behandeling nie volledig in die konsepwetsontwerp gedek nie.

Ook is die wetlike beskermingsmaatreëls in wetgewing gefragmenteerd en onvolledig en dit maak te veel staat op standaarde wat deur regsuitsprake gevestig is.

Die komitee sê Namibië moet uit die staanspoor verseker dat aangehoudenes in die praktyk alle fundamentele regsvoorsorgmaatreëls kragtens die reg gegun word.

Dit beteken dat aangehoudenes van die begin van hul aanhouding in 'n taal wat hulle verstaan van hul regte en klagte teen hulle ingelig moet word. Hulle moet die reg hê om familielede of ander van hul inhegtenisneming in te lig. Hulle moet ook toegang tot 'n gekwalifiseerde en onafhanklike prokureur óf gratis regsadvies wanneer nodig hê.

Aangehoudenes moet binne 48 uur ná hul inhegtenisneming in 'n hof verskyn.



OMBUDSMAN HET TE MIN REGTE

Volgens die komitee het die kantoor van die ombudsman slegs 'n beperkte mandaat, veral ten opsigte van sy vermoë om voldoende, gereelde en ­onaangekondigde besoeke aan “plekke van ontneming van vryheid” te bring en om sy eie personeel te

werf.

Dit stel voor dat die 1990 Wet op die Ombudsman gewysig moet word om meer onafhanklikheid aan dié kantoor te gee en te verseker dat die kantoor voldoende gefinansier is om sy werk behoorlik uit te voer.



VOOR-VERHOOR INHEGTENISNEMING

Met die instelling van twee spesiale howe in Windhoek en opleiding van 52 landdroste en staatsaanklaers gedurende 2008 en 2012, het die staat 'n poging aangewend om die tyd vir voor-verhoor inhegtenisnemings te verkort.

Die komitee sê hierdie pogings is nie genoeg nie, aangesien die howe steeds teen 'n slakkepas werk.

Dit is ook bekommerd oor die feit dat minderjariges saam met volwassenes in tronke aangehou word terwyl hulle vir hul verhore wag.



TOESTANDE VAN AANHOUDING

Die komitee is bekommerd oor oorvol tronke en die feit dat gevangenes wat reeds skuldig bevind is, saam met verhoorafwagtendes in selle sit.

Namibië se huiwering om daadwerk­like stappe teen die verspreiding van MIV/vigs te doen, is ook gekritiseer.

Hoewel die Namibiese polisie 'n interne direktoraat van ondersoeke (IID) het, is dié liggaam nie onafhanklik genoeg om ondersoeke van stapel te stuur teen polisiebeamptes wat van marteling of ander onmens­like of neerhalende behandeling be­skuldig word nie.

Die komitee sê die staat moet sorg dat dit alle sterfgevalle in aanhouding en beweringe van marteling stiptelik ondersoek word deur onpartydige en onafhanklike liggame wat geen institusionele of hiërargiese verband met die ondersoekers en vermeende oortreders het nie.



CAPRIVI-HOOGVERRAADVERHOOR

Die komitee het sy kommer uitgespreek oor die feit dat aangehoudenes in die Caprivi-hoogverraadsaak gemartel is, en sê die staat het nie ondersoek ingestel om vas te stel of bewyse wat in die hofsake gebruik is, by wyse van marteling bekom is nie.

Die feit dat van die verhoorafwagtendes tot 15 jaar in die tronk gesit het, is ook onaanvaarbaar.

Die komitee sê voorts dat ernstige beweringe van marteling gedurende die vryheidstryd en die 1999-noodtoestand ná die Caprivi-afskeidingspoging wat nog nooit ondersoek of tot vervolgings gelei het nie, moet ondersoek word en dat die skuldiges vervolg en gestraf word.

“Geen regverdiging vir marteling bestaan nie,” sê die komitee.



SEKSUELE MINDERHEIDSGROEPE

Die regering is ook aangesê om homoseksuele en transgeslagtelike minderheidsgroepe teen dreigemente en enige vorm van geweld, veral in tronke, te beskerm.

Die komitee stel voor dat Namibië seksuele omgang tussen instemmende volwasse mans moet dekriminaliseer.



OLUFUKO

Die Olufuko- en ander skadelike tradisionele rituele teen kinders is ten sterkste gekritiseer en die regering is gevra om alles in sy vermoë te doen om sulke praktyke te staak en te kriminaliseer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!