'Namibiu00eb moet weer skoonste land word'
'Namibiu00eb moet weer skoonste land word'

'Namibië moet weer skoonste land word'

Die minister sê plattelanders en veral stedelinge moet die natuur en omgewingsbewaring ernstiger opneem.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het Maandag op Wêreldomgewingsdag gesê dit is tyd dat Namibië weer sy beeld as skoonste land in Afrika herstel.

"Dit sal ons beeld by toeriste verbeter. Ons moet die probleem van rommelstrooiery en ondoeltreffende afvalbestuur, veral in stedelike gebiede, takel," het hy gesê.

Shifeta het bygevoeg dat ’n skoonmaakveldtog verlede week op Omuthiya gehou is. Skoonmaakveldtogte gaan ook op ander plekke gehou word.

"Stedelike gebiede kan sentrums word waar die omgewing agteruitgaan as gevolg van lugbesoedeling, rommelstrooiery en ondoeltreffende afvalbestuur. Ek is bekommerd daaroor dat hierdie tendens nou in ons stede en dorpe voorkom."

Shifeta sê omdat 50% van die bevolking in stedelike gebiede leef, moet verseker word dat stedelinge ook by die natuur en omgewingsbewaring betrokke is.

"Ek moedig Namibiërs aan om op te staan en om ons omgewing aktief te beskerm. Ons omgewing word aansienlik bedreig deur onder meer bevolkingsgroei, besoedeling, rommelstrooiery en die verlies aan biodiversiteit as gevolg van wildmisdaad."

Wêreldomgewingsdag word sedert 1972 jaarliks op 5 Junie deur 143 lande gevier.

Die tema vir vanjaar is “Connecting people to nature – in the city and on the land, from the poles to the equator”.

"Die tema is gepas in die huidige konteks van Namibië waar ons ons omgewing en natuurlike hulpbronne as ’n nasionale skat en as deel van ons kulturele erfenis ag. Baie lande het hul omgewing en natuurlike hulpbronne weens ontwikkeling onherstelbaar beskadig.

"In Namibië kan ons dankbaar wees ons omgewing en natuurlike hulpbronne is steeds in ’n relatiewe gesonde toestand. Baie lande in die wêreld is hieroor afgunstig op ons," sê die minister.

"Wildstropery, onwettige handel in en die oorbenutting van ons natuurlike hulpbronne, en mens-dier-konflik herinner ons daaraan dat dit ’n uitdaging is vir die mens om in harmonie met die omgewing te leef. ’n Balans moet tussen sosioekonomiese ontwikkeling en omgewingsbewaring gevind word."

Shifeta sê in Namibië kan ons onsself nie van die natuur losmaak nie - veral met 60% van die bevolking wat van natuurlike hulpbronne afhanklik is vir hul lewensbestaan.

"Dit is belangrik dat ons ekostelsels en die omgewing gesond bly en daartoe in staat is om in ons gemeenskappe se behoeftes te voorsien."

Hy verwys na die gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbron-bestuursprogram wat ’n goeie voorbeeld is van hoe die mens met die omgewing skakel.

"Die sukses van die program lê daarin dat ons verseker dat die voordele van die program swaarder weeg as die koste daarvan om saam met wild te leef."

Shifeta is bly dat die Nasionale Raad die wetsontwerp op die toegang tot biologiese en genetiese hulpbronne en verwante tradisionele kennis goedgekeur het.

Dié wetsontwerp gaan regverdige en gelyke voordele aan plaaslike gemeenskappe gee wat die kommersialisering van natuurlike hulpbronne betref.

"Namibië het ’n ryk verskeidenheid natuurlike hulpbronne en tradisionele kennis. Die kennis van ons mense oor die medisinale, kosmetiese en ander gebruike van hierdie hulpbronne is ’n voorbeeld van hoe ons in landelike gebiede met die natuur verbind is. Dit is nou tyd om munt te slaan uit die kommersialisering van hierdie kennis en hulpbronne."

Ter afsluiting het Shifeta gesê: "Beide landelike en stedelike bevolkings moet met die natuur skakel en bewus wees van die belangrikheid van omgewingsbewaring."

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!