Namibië 'n slagveld in rooshout-oorlog

Die Teenkorrupsiekommissie­ neem die voortou in die stryd teen die stropery van ­beskermde hout.
Augetto Graig
Augetto Graig - 'n Koue oorlog tussen ­korrupte handelaars in Sentraal- en Suidelike-Afrika se beskermde­ Mukula-bome en Namibiese ower­hede speel hom tans in die land af.

Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het Dinsdag sy jongste slag geslaan toe twee vragmotors vol hout op Walvisbaai gekonfiskeer is.

Op dieselfde dag is 'n besending Mukula-hout (ook bekend as roos- of bloedhout) ook op Katima Mulilo afgelewer. Volgens John Grobler, vryskut- ondersoekende joernalis, het die Zambiese vragmotor wat dit die land ingebring het, spoorloos oor die grens verdwyn.

Hy sê die vraghouer is op 'n sleepwa, met registrasiemerk N23985WB, sowat 50 km buite die dorp laat staan.

Volgens Grobler is die druk wat plaas­like owerhede op smokkelary plaas, moontlik waarom die vrag agter­gelaat is.

Die ACC se konfiskering van die vragte hout op Walvisbaai kom ná 'n ondersoek na die Liselo-ontbossingprojek op die plaas by Katima Mulilo.

In Februarie vanjaar het bosbou­beamptes 'n stokkie voor die afkap van Mukula-bome op dié plaas gesteek nadat die kontrakteur versuim het om dokumente te toon wat toestemming aan hom verleen om die beskermde bome te oes.

Mnr. Hou Xuecheng, 'n Chinese sakeman van New Force Logistics en die kontrakteur, is egter in Maart toegelaat om bedrywighede op die plaas te hervat nadat verwarring opgeklaar is oor waar die hout gekap mag word.

Xuecheng het in 2014 skuldig gepleit op 'n klag van ivoorsmokkelary.

Die ACC ondersoek veral hoe die gekapte hout, wat as staatsbates geklassifiseer is, hanteer moet word.

Mnr. Nelius Becker, die ACC se hoof- ondersoekbeampte, sê die jaar lange ondersoek het onlangs 'n hupstoot gekry nadat die ministerie van landbou, water en bosbou inligting met hulle gedeel het.

Hy sê die hout op die vragmotors kan moontlik ook ander hardehoutsoorte­ insluit, buiten die Mukula-hout.

Becker sê die ACC ondersoek nog die hout wat op Katima Mulilo agtergelaat is.

“Daar is baie hout wat van Zambië af deur Walvisbaai inkom.”

Nie al die invoere is noodwendig onwettig nie, sê hy.

Die ACC het die afgelope feesseisoen reeds beslag gelê op vyf lorries vol hout.

Verlede Donderdag het hulle 'n besending Mukula-hout uit die Demokratiese Republiek die Kongo gekonfiskeer wat deur Zambië ingevoer is.

Dié onwettige houtsmokkelary is op Facebook ontbloot.

Berigte oor vragte wat op Walvisbaai gesien is, het ACC-ondersoekers snuf in die neus laat kry.

Beslag is toe gelê op 121 stompe van omtrent 20 kubieke meter. Ondersoek is ook ingestel na die moontlike vervalsing van invoerdokumente.

Die hout was glo vir die Zheijiang Wutong Tree Supply Chain Management Company in China bestem.

Omstreeks 23:00 op 1 Januarie het die ACC die vyfde lorrie vol beskermde hout uit Zambië vasgetrek.

“Hierdie vragmotor het ook vervalste dokumente met dieselfde reeksnommers as twee vragte wat voorheen gekonfiskeer is. Dit word nou duideliker dat 'n netwerk van agente aan die Zambiese en Namibiese kante van die grens die fasiliteerders van hierdie dokumentasie is.

“Die vrag hout, sowel as die vragmotor is gekonfiskeer en die bestuurder word ondervra,” het die ACC op sy Face­book-blad aangekondig.

Die stryd om dié waardevolle hout op die vasteland te beskerm, is veral in Zambië ingewikkeld.

In Maart 2017 het die Zambiese president, mnr. Edgar Lungu, alle vervoer van Mukula-hout deur sy land verbied.

Nogtans moes die Zambiese minister van binnelandse sake, mnr. Stephen Kampyongo, gister vinnig speel om die uitvoer van 21 besendings Mukula-hout goed te keur.

Kampyongo het aan Lusaka Times gesê die hout is eers gekonfiskeer en is toe deur die bosbou- staatsmaat­skappy Zaffico verkoop en die verbod is nie daarop toegepas nie.

Die lorrie met die hout is op Shimabala, op die hoofpad van Kongo na Katima Mulilo en Walvisbaai se hawe, deur vrywilligers voorgekeer.

Die minister beskryf hierdie aksie egter as onwettig.

Die Kongo se woude word al amper 'n dekade lank geplunder vir die hout wat al hoe meer in aanvraag in China is.

Die Chinese nuuswebwerf Sixth Tone sê Chinese handelaars het eers in 2009 meer met Mukula-hout uit Afrika begin handel dryf.

Daarna is dit meestal van Zambië af ingevoer, wat in die Suide aan die Kongo grens.

Die aanvraag na die hout en die prys daarvan het in 2013 die hoogte in geskiet en tans is die groei van dié bedryf in die Kongo buite beheer en sonder regulering.

Mukula-bome neem tot 90 jaar voor dit volwassenheid bereik en is veral in China bekend as bloedhout weens die rooi olie wat uit die boomstamme loop wanneer dit gesny word.

Die olie beskerm die hout en verleen 'n rooierige skynsel daaraan, wat in China baie gesog is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!