‘Namibië nié ’n taksoord’

Swak kommunikasie en ’n verpaste sperdatum het Namibië op die Europese Unie se swartlys van belastingtoevlugsoorde laat beland.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en Jo-Maré Duddy - Namibië is nié ’n toevlugsoord vir belastingontduikers nie.

Inteendeel, geld vloei eerder onregmatig uit Namibië as dat multinasionale maatskappye en rykes hul geld hier kom versteek.

Só het die regering gister by monde van die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, teruggekap oor die Europese Unie (EU) se aankondiging dat Namibië op die swartlys van 17 lande geplaas is wat gebruik word om Jan Taks in te loop.

Die EU se ministers van finansies het Dinsdag in Brussel ’n swartlys oor toevlugsoorde vir belastingontduikers aanvaar met 17 lande wat daarvan beskuldig word dat hulle nie hul samewerking gee nie.

Die ander lande is Amerikaans-Samoa, Bahrain, Barbados, Guam, Suid-Korea, Makau, die Marshall-eilande, Mongolië, Palau, Panama, Saint Lucia, Samoa, Trinidad, Tubago, Tunisië en die Verenigde Arabiese Emirate, berig Reuters.

“Die besluit om ons te swartlys, is eensydig geneem. Dit is onregverdig, bevooroordeeld, partydig en diskriminerend. Ons is nie daaroor ingelig nie,” het Schlettwein gesê.

Sanksies is een van die stappe wat moontlik as strafmaatreël kan volg.

Die EU is nie net Namibië se tweede grootste handelsvennoot nie, maar is ook een van die min lande of ekonomiese blokke waarmee Namibië ’n gunstige handelsbalans geniet.

In die eerste ses maande van 2017 was bykans ’n kwart van al Namibië se uitvoere vir EU-markte bestem. Sodoende is sowat N$6,8 miljard aan buitelandse valuta verdien.

Invoere van dié handelsreus het bykans N$4,5 miljard of sowat 11% van Namibië se totale invoere in die afgelope halfjaar beloop. Dit het Namibië met ’n handelsbalanssurplus van sowat N$2,3 miljard met die EU gelaat.

VERGADERING

Schlettwein en sy span sou gister in Windhoek met die EU-ambassadeur in Namibië, me. Jana Hybaskova, hieroor vergader het.

Hy het aan joernaliste in Windhoek gesê Namibië het op 17 November ’n brief ontvang waarin hy meegedeel is die EU is besig om ’n swartlys van lande saam te stel wat nie wil saamwerk om belastingvermyding te bekamp nie.

“Daar is ooreengekom op verdere gesprekvoering oor die kwessie, maar toe mis ons die sperdatum vanweë ’n misverstand. Dit beteken nie ons het nie ons samewerking gegee nie.”

Volgens die minister is die sperdatum verkeerdelik as die 12de Desember gekommunikeer, terwyl dit die 5de was.

Hy sê Namibië het vier eensydige ooreenkomste nie onderteken nie omdat die kwessies daarin reeds deur die Namibiese belastingstelsel getakel word. “Verder beskou die EU ons belastingaansporingskema vir die bevordering van vervaardiging in die land, as skadelik,” het die minister verduidelik.

Volgens Financial Times moet lande aan drie kriteria voldoen, of onderneem om hul belastingstelsels te hervorm.

“Lande moet billike belastingreëls hê, wat die EU definieer as synde dit nie voorkeurmaatstawwe of -reëlings het wat lande in staat stel om winste te skuif om heffings vry te spring nie. Lande moet ook aan deursitgheidstandaarde voldoen en maatreëls teen die verskuiwing van winste hê.”

Mnr. Cameron Kotze, belastingvennoot by Ernst & Young, het Schlettwein ondersteun en gesê Namibië kan nie as 'n taksoord beskou word nie. “Ons belastingkoerse is betreklik hoog in vergelyking met ander lande. En verder is ons belastingwetgewing al vir jare in werking.”

GELEKTE DOKUMENTE

Onthullings wat in 2016 en 2017 in die sogenaamde Panama en Paradise Papers gemaak is, toon maatskappye beweeg van een belastinghawe na die volgende om geld vir die taksman weg te steek.

Die dokumente het lig gewerp op die belastingvermyding deur bekende internasionale sakelui asook maatskappye, verskansingsfondse en beleggers.

Dit was die beweegrede agter die EU se besluit om lande te brandmerk wat nie wil saamwerk om dit te bekamp nie.

“Ons is ’n slagoffer van belastingvermyding eerder as wat ons daarby baat. Die feite in die Panama en Paradise Papers staaf dit,” het Schlettwein gister gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!