Namibië op hoede vir coronavirus
Laboratoriums is op ’n gereedheidsgrondslag vir vinnige opsporing en diagnose geplaas.
Henriette Lamprecht – Verhoogde monitering is by internasionale grensposte en openbare en private gesondheidsgeriewe ingestel en laboratoriums is op ’n gereedheidsgrondslag vir die vinnige opsporing, diagnose en bestuur van die 2019-nCov-virus geplaas.
Die 2019-nCov-virus is ’n stam van die dodelike groep coronavirusse en het reeds 80 mense se lewens in die buiteland geëis.
Die meeste van die sterftes is in China, die oorsprong van die virus, aangeteken.
Die Namibiese ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) raai enigiemand in Namibië met erge verkoue of griepsimptome wat die afgelope 14 dae na China gereis het, aan om so gou as moontlik ’n dokter te raadpleeg.
China is onder die toptienlande wat Namibië jaarliks as toeristebestemming besoek.
Volgens die jongste toerismestatistieke wat verlede week bekend gemaak is, het die aantal Chinese wat Namibië net in 2016 tot 2017 besoek met 16,7% gestyg.
In 2018 het 14 596 Chinese die land besoek. Namibië het ook noue ekonomiese bande met dié land.
Teen druktyd gister het die aantal bevestigde gevalle van die griepagtige virus in China op 2 744 gestaan, waarvan 1 423 in die Hubei-provinsie was waar die siekte ontstaan het.
Die 2019-nCov-virus het vermoedelik sy oorsprong in ’n seekosmark in Wuhan, wat die vleis van allerlei diere onwettig verkoop.
Die virus het reeds na onder meer Amerika, Taiwan, Japan, Suid-Korea en Kanada versprei.
’n Namibiër wat tans in Jinan skoolgee, me. Minette Brink, sê onderwysers is beveel om tuis te bly en net vir noodsaaklikhede uit te gaan – met ’n masker op.
Jinan is 850 km van Wuhan en 400 km van Beijing af. Sewe gevalle van die siekte is reeds hier aangemeld.
Brink sê die Engelse sentrum vir die sowat 250 drie tot 12-jariges waaraan sy verbonde is, het op 20 Januarie vir Lentefees- en Chinese Nuwejaarsvieringe gesluit en sou op 31 Januarie weer open.
Weens die uitbreking en vinnige verspreiding van die virus is dít egter tot 7 Februarie uitgestel.
Brink sê daar is onlangs besluit om eerder net aanlyn klasse aan te bied.
“Ons word gereeld geva of ons enige simptome soos ’n droë hoes, seer keel en hoë koors het, maar tot dusver was ons almal gelukkig,” sê sy.
“Ek was wel vroeër uit en die strate was maar verlate. Ek merk nêrens paniek nie. By my woonstelkompleks speel kinders buite en oumas en oupas stap met hul honde. Maskers is by omtrent alle winkels te koop. Die sentrum stuur ook vir ons maskers wat by ons woonplekke afgelewer word. Almal wat jy raakloop, het maskers op.”
Volgens Brink het die sentrum waaraan sy verbonde is ook spesiale toerusting aangeskaf en wat gebruik sal word om dit vanaf 31 Januarie af te steriliseer.
“Ons moet ook gereeld hande was en gorrel,” sê sy.
Sy sê die meeste Chinese gaan dié tyd van die jaar huis toe en dit is dikwels die enigste tyd wat hulle hul families kan besoek.
“Jinan doen uiterste moeite om die situasie te beheer. Ek is nie baie bekommerd nie, maar gaan beslis nie probeer dapper wees en kanse vat nie.”
China se kabinet het intussen gesê hy gaan die week lange Chinese Nuwejaarsvakansie met drie dae tot 2 Februarie verleng om die verspreiding van die virus te vertraag. Wuhan, die episentrum van die uitbreking, is feitlik in kwarantyn geplaas, met ernstige bewegingsbeperkings in verskeie ander Chinese stede.
Beijing het ’n beroep op deursigtigheid in die bestuur van die krisis gedoen ná die publiek se vertroue met die verspreiding van die Ears-virus vernietig is – ’n ander coronavirus wat in China ontstaan het en in 2002 en 2003 byna 800 sterftes veroorsaak het.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het verlede week gesê hulle monitor die situasie, maar beskou dit nog nie as ’n wêreldwye gesondheidskrisis nie.
Mnr. Tedros Ghebreyesus, die WGO se direkteur-generaal, het laat Sondag gesê hy is op pad Beijing toe om met Chinese amptenare en gesondheidsdeskundiges oor die uitbreking van 2019-nCov te beraadslaag.
Reuters het vroeër berig aandele het in Oosterse markte geval weens die toenemende vrese onder beleggers oor die ekonomiese impak wat die virus op China gaan hê.
Die vrese het ook die vraag na bates laat toeneem wat as veilige hawe beskou word, soos Japan se yen en Amerikaanse staatseffekte.
China se gesondheidskommissie het Sondag gesê die virus se vermoë om te versprei word sterker en infeksies kan toeneem.
Bloomberg berig die olieprys het gedaal weens vrese dat die virus tot ’n afname in vraag gaan lei.
Termynkontrakte op olie in Londen en New York het met meer as 3% gedaal.
Goldman Sachs verwag die vraag na olie gaan daaronder ly, maar Saoedi-Arabië sê hy glo die virus het tot dusver ’n “baie beperkte invloed”. (Bykomende bron: Netwerk24)
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie