Namibië op koers met uitwissing van MIV/vigs
Plaaslike vroue is meer geneig as mans om hulle vir MIV/vigs te laat toets en vir behandeling aan te klop.
Henriette Lamprecht
Namibië het deur middel van sy MIV-voorkomings- en behandelingsprogramme reusesukses behaal in die beheer van die land se MIV/vigs-epidemie.
Volgens die jongste uitslae van die Namibië Bevolkingsgebaseerde MIV Impak-evaluering (Namphia) is Namibië nóg 'n stap nader aan die verwesenliking van sy 90:90:90-doelwitte.
Dít behels dat 90% van inwoners wat MIV-positief is, teen 2020 geïdentifiseer is, dat 90% van hierdie individue antiretrovirale behandeling ontvang, en dat in 90% van dié wat behandel word, die virus onderdruk is.
Tans staan die land op 86:96:91, wat beteken Namibië het reeds twee van die drie doelwitte behaal en is baie naby daaraan om ook die derde te bereik.
Algehele virale onderdrukking is ook hoër as die internasionale doelwit vir volwassenes.
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) sê by monde van die waarnemende permanente sekretaris, me. Petronella Masabane, vroue het egter reeds die 90:90:90-doelwit bereik.
“Dit beteken selfs al is vroue in Namibië meer geneig as mans om met die virus geïnfekteer te word, is MIV-positiewe vroue ook meer geneig om vir die siekte getoets te word en om behandeling te ontvang,” het Masabane gesê.
Volgens haar is dit goeie nuus vir vroue se gesondheid, asook vir kinders van MIV-positiewe ma's.
Volgens Namphia is die MIV-koers by volwassenes in die ouderdomsgroep 15 tot 64 jaar 12,6%.
Dit is 'n verdere afname sedert 2013 se Demografiese en Gesondheidsopname (DHIS) toe dié syfer op 14% vir mense van 15 tot 49 jaar en op 16,4% vir mense van 50 tot 64 jaar gestaan het.
Die MIV-koers onder vroue is ook hoër as onder mans – onderskeidelik 15,7% en 9,3%.
Die voorkoms van nuwe MIV-infekterings onder Namibiese volwassenes het volgens Masabane met die helfte afgeneem teenoor syfers van vyf jaar gelede.
Die Namphia-uitslae verskaf die nodige inligting aan die ministerie, wat die tasbare sukses in die beheer van die epidemie by gesondheidsgeriewe bevestig.
Intussen het die Amerikaanse ambassadeur, me. Lisa Johnson, die ministerie vir dié suksesse geloof.
“Die afgelope 14 jaar het Amerikaanse President se Noodplan vir MIV/vigs-verligting (Pepfar) hande met die ministerie gevat in sy stryd teen die siekte. Pepfar fokus nou op die identifisering van en hulp aan dié wat nog nie bereik is nie, soos mans wat nog nie getoets is nie, sowel as jong vroue wat die las van nuwe MIV-infekterings buite verhouding dra,” het Johnson gesê.
Namphia was 'n opname wat van Junie tot Desember 2017 onder huishoudings oraloor Namibië gedoen is.
Dit was die eerste keer wat so 'n uitgebreide MIV-opname onder inwoners onder 60 jaar gedoen is. Sowat 24 000 mense het hieraan deelgeneem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie