Namibiu00eb se behuisingskrisis neem toe
Namibiu00eb se behuisingskrisis neem toe

Namibië se behuisingskrisis neem toe

Meer as ‘n kwart van die nasie woon in sinkhuise, ‘n toename van 10% sedert 2011.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die bestaande formele behuisingsmark maak, vanweë hemelhoë pryse wat sowel lae- as middelinkomstegesinne raak, nie voorsiening vir die meerderheid Namibiërs nie.

“Die sentrale regering en plaaslike owerhede is in die algemeen nie in staat nie en soms onwillig om die nasionale behuisingskrisis doeltreffend te takel,” is die slotsom van ‘n onlangse studie deur die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) oor behuising in Namibië.

Wat die situasie volgens die studie vererger, is reguleringsraamwerke rakende behuising, asook swak landelike en stedelike beplanning.

Hoewel die regering en die behuisingsektor die oorsake van die behuisingskrisis verstaan, is daar geen ooreenstemming oor hoe om die probleem op te los nie, is bevind.

Afgesien hiervan is dit bewys dat die nasionale behuisingsbeleid tot dusver nie daarin kon slaag om spesifieke benaderings tot stedelike beplanning en die verskaffing van behuising te bevorder nie.

Namibië het volgens die studie boonop “te min” gedoen om innoverende tegnologie in die konstruksiebedryf te ondersoek.

Sulke tegnologie sluit alternatiewe boumateriaal en metodes in wat die potensiaal het om koste te verlaag en buigsame behuisingsopsies te bied.

Die behoefte om meer aandag te skenk aan “groen” konstruksie en stedelike ontwerpkonsepte wat gemik is op die skepping van volhoubare ontwikkeling met voordelige sosioëkonomiese byvoordele, is in die studie benadruk.

Die regering se jongste reaksie was die massabehuisingsprojek en pogings deur plaaslike owerhede om die stedelike groei van informele nedersettings te beheer of om hierdie nedersettings te formaliseer.

Die regering het ook ‘n nuwe wetsontwerp op stedelike en landelike beplanning opgestel wat die geleentheid bied om ruimtelike beplanning te verbeter en ‘n regulerende raamwerk te skep wat stedelike beplanning sal bevorder.

Die IPPR se opname het op informele nedersettings by Walvisbaai, Otjiwarongo en Windhoek gefokus.

Die meeste respondente sê hulle sou eerder stedelike grond as huise koop, sou hulle die keuse gebied word. Stygende eiendomspryse maak dit egter vir die meerderheid inwoners onbekostigbaar om erwe of eiendom te koop.

Nietemin sê die meeste respondente in die studie hulle oorweeg om in eiendom te belê wat eienaarskap sal waarborg.

Baie sê ook hulle sal oorweeg om in ‘n huis uit alternatiewe boumateriaal te woon.

Informele nedersetters op Walvisbaai sê hulle verkies om behuising te huur.

SYFERS

‘n Sensusopname het in 2016 getoon ongeveer 40% van stedelinge woon in sinkhuise.

Daar is ongeveer 140 000 sinkhuise in stedelike gebiede landswyd.

Tog bestaan die besef dat behoorlike dorps- en stadsbeplanning en behoorlike behuising ‘n integrale deel van menseregte en oorhoofse sosioëkonomiese ontwikkeling is.

Volgens die vierde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP4) behels die behuisingsagterstand 300 000 eenhede.

Teen 2016 het 26,6% van Namibiese huishoudings in sinkhuise gewoon.

Dit is ‘n toename in vergelyking met 2011 se 16%.

In Windhoek alleen is sowat 15 000 nuwe sinkhuise tussen 2012 en 2016 opgerig.

In dieselfde tyd het sinkhuise in Hardap van 24,7 % tot ‘n verstommende 52,8% gestyg.

Teen 2009 was daar 398 individuele krotbuurte en dit sal na verwagting teen 2030 – die jaar waarin Visie 2030 ten volle bereik moet wees – tot meer as 500 000 styg.

HUISMARK

Namibië se behuisingsmark word gekenmerk deur minder huise, huise wat nie aan die behoeftes voldoen nie en ‘n styging in grond- en huispryse, wat oënskynlik veroorsaak word deur ’n gebrek aan grond wat gediens is.

Die probleem word vererger deur duur boumateriaal, arbeid, die hoë koste van landmeting en die diens van grond in groot maat, asook onvoldoende finansieringsopsies.

Boonop laat die mark heelwat ruimte vir spekulasie, oligopolistiese en korrupte praktyke vir maksimum winste.

Plaaslike owerhede maak dinge net erger.

Baie word daarvan beskuldig dat hulle grond aan die hoogste bieërs verkoop, wat pryse opjaag.

NASIONALE BEGROTING

Die feit dat die regering die verskaffing van behuising as prioriteit verklaar het, word nie noodwendig in die nasionale begroting weerspieël nie, het die IPPR-opname bevind.

In 2013 het die regering ‘n skamele 0,3% aan behuising bestee.

Die 2016-’17-begroting en die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTEF) dui “relatief klein toekennings” vir behuising aan wat nóg die skaal van die probleem, nóg die dikwels verklaarde prioriteitstatus” van behuising weerspieël.

Die MTEF reflekteer groot ontwikkelingsprojekte wat op die diensinfrastruktuur in sekere plaaslike owerhede fokus.

Navorsers sê egter te min word gedoen om behuisingsbehoeftes aan te spreek, wat met die diens van grond begin.

BANKWESE

In 2011 het slegs 14,2% van Namibiërs in hul eie huise gewoon.

Teen 2016 het net 12% in hul eie huise gewoon. In stedelike gebiede het die hoeveelheid huiseienaars met verbande van 23% in 2011 tot 18,5% in 2016 gedaal.

Meer as 70% Namibiërs kry nie huislenings by kommersiële banke nie en kan dus nie die formele eiendomsmark betree nie.

Laeinkomstegroepe het geen behuisingsopsies nie, behalwe vir sinkhuise wat dikwels onwettig opgerig word.

NABETRAGTING

Volgens die IPPR-opname bestaan ‘n algemene gebrek aan ‘n omvattende, praktiese en realistiese visie vir die behuisingsektor.

Daarvolgens het beleidmakers en belanghebbendes te min aandag geskenk aan hoe Namibië se stedelike nedersettings behoort te lyk om sosioëkonomiese ontwikkeling en welstand in omgewingsvriendelike habitatte vir inwoners te optimaliseer.

Boonop is “sinvolle elemente”, soos vervat in Namibië se behuisingsbeleid, óf nie geïmplementeer nie óf nie genoeg ondersteun nie.

“Dit mag gevolglik vir die sentrale regering nodig wees om die implementering van spesifieke elemente van ‘n oorkoepelende nasionale behuisingsvisie voor te skryf,” stel die verslag voor.

Voorts moet voorskriftelike opdragte met tasbare bystand en bronne gepaard gaan.

Die verslag waarsku oorkoepelende regulering moet ‘n balans tussen maatskaplike, ekonomiese en omgewingsaspekte van behuising en stedelike grondontwikkeling handhaaf.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!