Namibië se dapperste klein Hanna

'n Dogtertjie van Windhoek het vroeër vanjaar op 'n baie jong ouderdom 'n nier van haar ma ontvang.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Op 11 Julie vanjaar het sy op die skrale ouderdom van twee jaar en ses maande ’n nier van haar ma ontvang, terwyl haar lyfie skaars 9 kg weeg.

Tans is die kleine, fyne Hanna Treurnicht van Windhoek een van die ligste kinders, wat gewig betref, om ’n nieroorplanting in Suid-Afrika te ontvang.

Hanna is op drie maande met oorerflike nefrotiese sindroom gediagnoseer en is op vier maande met ’n noodvlug na Johannesburg, Suid-Afrika, gevlieg om in die buurland met nooddialise te begin.

Mamma Danél vertel sy moes haar dogtertjie vir twee jaar lank peritoneale dialise gee. Dit het vyf sessies per dag behels, wat elk twee en ’n halwe uur geduur het. Dit het veroorsaak dat klein Hanna meer tyd in ’n hospitaal as by die huis deurgebring het.

Die afgelope twee jaar was haar tuiste vir byna nege maande die Morningside Mediclinic waar haar dokter, dr. Errol Gottlich, ’n pediatriese nefroloog, gebaseer is. Dit was ook hier waar die Treurnichts personeel van die Kidney Beanz-trust ontmoet het wat hulle en hul dogtertjie emosioneel ondersteun het.

Een van Suid-Afrika se voorste ultramarathonatlete en goue medaljewenner by beide vanjaar se Two Oceans- en Comrades-marathonne, het vroeër vandeesmaand op plaaslike bodem deelgeneem vir Hanna en al die ander kinders wat by die trust baat.

Me. Stephanie Smith is ’n ambassadeur van dié trust en afgesien van Smith, wat op die koop toe die Hangana Hake Run & Ride gewen het, het Danél nog vriende en ondersteuners gevra om die marathon ook in die Kidney Beanz-trust se kleurvolle, oranje hemde aan te pak.

Die doel was om ook op plaaslike bodem bewustheid vir die organisasie en vir kinders met lewensbedreigende niersiektes te skep.

Die trust is gestig om omvattende ondersteuningsdienste aan dié kinders en hul gesinne te bied en is by die Morningside Mediclinic in Johannesburg, Suid-Afrika, gebaseer. Dit ondersteun nie net gesinne en pasiënte in Suid-Afrika nie, maar ook uit Namibië wat behandeling by die Morningside Children’s Kidney Treatment Centre ontvang.

Dié kinders ontvang drie keer per week vier ure lank dialise by die sentrum, terwyl hulle op ’n nieroorplanting wag.

Die trust is ’n nieregeringsorganisasie wat meer as vier jaar gelede deur Hanna se pediatriese nefroloog, dr. Gottlich, in die lewe geroep is. Gottlich het besef finansiële en psigomaatskaplike ondersteuning is vir die jong lyers en hul gesinne in dié moeilike omstandighede broodnodig.

Die Kidney Beanz-trust maak staat op skenkings van maatskappye en individue. Sonder dié skenkings is enige dienste wat die trust aan kinders en hul gesinne bied, onmoontlik. Die dienste sluit in finansiële ondersteuning vir mediese sorg en medikasie, terapie, vervoer, opvoedkundige hulp, asook kos en klere. Ook word onderrig, ondersteuning en vaardigheidsopleiding aan beide ouers en kinders ter voorbereiding op ’n oorplanting aangebied, asook opleiding in die hantering van dialise.

Die trust ondersteun sedert 2007 kinders met niersiektes en hul langtermyndoelwit is om hul ondersteuning na ander eenhede vir kinderoorplantings en -dialise uit te brei. Vir meer besonderhede oor die Kidney Beanz Trust en om 'n skenking te maak, besoek hul webtuiste by www.kidneybeanztrust.co.za of www.givengain.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!