Namibië se eie Stevie Wonder
Gesiggestremde musikant droom van radioaanbieder wees.
Tanja Bause – “My grootste droom was nog altyd om ’n radioaanbieder te word. Ek wil stories oor die radio vertel en mense vermaak,” sê Harry Rheeder (33).
Rheeder is een van ses kinders en is op Usakos gebore.
By geboorte het hy reeds retinitis pigmentosa gehad – die oorerflike, toenemende degenerasie van die retina wat uiteindelik blindheid veroorsaak.
“Die meeste mense met die siekte word eers in hul twintigs blind. Die dokters het beweer ek is nie blind gebore nie, maar het blind geword. Maar ek kan nie onthou dat ek ooit kon sien nie,” sê hy.
Rheeder se ma het volgens hom toe hy nege maande oud was, agtergekom daar is fout met sy oë.
Sy het hom dokter toe geneem en hy is met gesiggestremdheid gediagnoseer.
“In daai jare was daar net een skool vir blinde kinders in die Noorde en een in Suid-Afrika. Beide skole was te ver van Usakos af en my ouers kon nie bekostig om my weg te stuur nie.”
Windhoek se skool vir gesiggestremdes het geopen en Rheeder was een van die eerste leerlinge om op die ouderdom van nege daar in te skryf.
“My ma, wat absoluut my rots is, was ’n skoonmaker by die skool op Usakos en op ‘uit’-naweke het sy Donderdag op die trein op Usakos geklim, dan was sy Vrydag by die skool om my te kom haal. Ons het nie baie geld gehad nie en sy het gespaar sodat sy my kon kom haal,” sê Rheeder.
“Elke einde van die jaar het my ma Windhoek toe gekom om my in die skool se jaarlikse Kersopvoering te sien. Sy is en was my grootste ondersteuner,” sê hy.
Volgens Rheeder het hy nog altyd in musiek belang gestel en het hy een vakansie by die huis op ’n klawerbord begin speel. Ná die vakansie het hy vir die skool gesê hy wil graag leer hoe om die instrument te speel.
’n Onderwyser, mnr. Raymond Platt, het die 10-jarige Rheeder toe geleer om klavier te speel.
Hy het nooit geleer om note te lees nie.
“Ek luister na liedjies op die radio en dan speel ek dit. Ek oefen dit tot dit soos die liedjie op die radio klink.”
Rheeder het sy skoolloopbaan aan die Hoër Tegniese Skool Windhoek (HTS) voltooi.
Ná skool het Rheeder as ’n braille-proefleser by die dienssentrum vir gesiggestremdes begin werk.
“Dit was ’n tweejaarkontrak en toe dit verstryk, was ek werkloos. Dit is baie moeilik vir iemand met ’n gestremdheid om werk in Namibië te kry. Ek het toe begin om elke Sondag by die kerk klavier te speel en hulle het my huur betaal.”
In 2015 het Rheeder drie keer ’n week die vleuelklavier in die Hilton-hotel in die hoofstad se ontvangsafdeling gespeel.
“Dit was die eerste keer dat ek betaal is om musiek te maak,” sê hy.
In November dieselfde jaar het hy die geleentheid gekry om uitsaaiwese in Botswana te gaan studeer.
“Omdat dit nog altyd my droom was om op die radio te wees, het ek die geleentheid met beide hande aangegryp. Tog moes ek weer op musiek terugval,” sê hy.
Rheeder speel steeds elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag van 17:00 tot 19:00 die vleuelklavier by die Hilton Hotel.
“Ek speel musiek wat mense ken. Ek speel Lionel Richie se musiek of nuwe musiek van One Direction.
“Ek hoop om werk te kry. Ek wil graag werk en ook met ander kunstenaars saamwerk. Om met iemand soos Tequila te werk, sal ’n droom wees.”
Om Rheeder vir private of korporatiewe funksies te huur, kontak hom by 081 689 5881.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie