Namibië se Olimpiese medaljekans aan flarde

Die wêreldbeheerliggaam se optrede het die jong naelloopsensasies skerp in die kollig geplaas.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Wêreldatletiek se onttrekking van Namibië se liefling-naellopers Beatrice Masilingi en Christine Mboma aan die 400 meter-naelloop by die naderende 2021 Olimpiese Spele in Tokio het nie net Namibiërs diep geskok nie, maar het internasionaal groeiende steun agter die twee geskaar – onder meer met 'n petisie op Change.org.

Mediese toetsuitslae het uitgewys beide atlete se natuurlike testosteroonvlakke is hoër as die vasgestelde norm en hulle is summier deur Wêreldatletiek (WA) van die 400-kwalifiseringslys vir Tokio verwyder.

Totdat die twee tieners – wat eensklaps ongevraagd deur die beheerliggaam as Atlete met Verskille in Seksuele Ontwikkeling (DSD) geklassifiseer word – met toetsuitslae kan wys dat hul natuurlike testosteroonvlakke aan WA se vereistes voldoen, mag hulle vir die volgende drie maande aan geen 400 by 'n amptelike kompetisie deelneem nie.

Die twee 18-jariges het vanjaar skouspelagtige opgang oor dié afstand gemaak en na vore getree as werklike medaljekandidate in Tokio. Veral Mboma het die wêreld aan die brand gehardloop en was vir 2021 vinniger as enige senior vrou in die 400, met Masilingi derde op die wêreldlys vanjaar.

Nadat Mboma Woensdagaand op sensasionele wyse haar eie o.20-wêreldrekord in Bydgoszcz, Pole, tot 48.54 sekondes verbeter het, het die bom egter laat Donderdagaand gebars.

Dié wêreldrekord kan glo ook in gedrang kom en moontlik deur WA geskrap word.

Vroue-atlete wie se testosteroonvlakke te hoog is, mag volgens WA se omstrede reël aan geen baanafstand van 400 (insluitend hekkies) tot 1600 meter meeding nie. Dit is dieselfde reël wat Caster Semenya van Suid-Afrika verhoed om aan die 800 deel te neem.



'MET MINAGTING BEHANDEL'

Dr. Payoshni Mitra, 'n kampvegter vir vroue-atlete van die Sportsakesentrum by die Birbeck-universiteit in Londen, is 'n kenner op die gebied. Sy het tydens Semenya se hofsaak in Luzern namens haar getuig. Mitra sê sonder om te skroom daar word teen Afrika-atlete gediskrimineer.

“Ek glo sterk daaraan dat beide die Namibiese atlete beter behandeling van WA moes gekry het. Hulle is jong vroue met drome. Hulle is fantastiese atlete en Nami­biërs kyk op na hulle as rolmodelle,” het Mitra aan Republikein gesê.

“Dis nie die eerste keer dat atlete van die globale Suide met minagting hanteer word nie. Hul reg op privaatheid word geskend en hulle word blootgestel aan onnodige vernedering in die internasionale atletiekwêreld en in hul eie gemeenskap.

“Wêreldatletiek het 'n plig om na atlete van Afrika om te sien. Die organisasie het beslis klaaglik hierin misluk en herhaaldelik word onnodige skade aan atlete berokken.

“Ek staan by beide Beatrice en Christine en onderneem om hulle te ondersteun.”

Wat verstommend is, is dat die Internasionale Olimpiese Komitee die deelname van 'n transgender atleet aan die Tokio-spele aan die gewigoptel goedkeur. Laurel Hubberd het Nieu-Seeland tevore as 'n man by die 2017 wêreldkampioenskap en 2019 Pasifiese Spele verteenwoordig.

Hubberd sal in Tokio aan die vroue 87 kg gewigsklas deelneem, ondanks haar mededingers se beduidende agterstand. Die Kiwi se toelating tot die Spele het wêreldwyd vir omstredenheid gesorg.

Mnr. Henk Botha, afrigter van Masilingi en Mboma, sê sy atlete mag wel aan die 100 en 200 deelneem en verskuif vir nou hul fokus.

“Dit is die reëls van WA en ons gaan nie daarteen baklei nie. Ons sal totdat die Spele op 23 Julie begin op die 200 konsentreer. Die 200 is Beatrice se sterkpunt, terwyl Christine die 400-spesialis is.

“Die nuus is bitter teleurstellend, want die meisies het baie hard gewerk. Beide is geweldig teleurgesteld dat hulle nie meer in Japan aan hul gunsteling item kan deelneem nie. Hulle aanvaar dit egter en is tans geestelik gereed om Namibië met eer en trots by die Spele in die 200 te verteenwoordig.”

Kyle Knight van Human Rights Watch in die VSA het Saterdag ook 'n omvattende reaksie ter ondersteuning van die Namibiërs getwiet.

Aan Republikein het Knight gesê: “Die twee tieners se skorsing en die openbaarmaking van hul name wys hoe vernietigend Wêreldatletiek se beloftes van privaarheid ons sy geslagstoetsregulasies werklik is.
“Eerder as om oor vroue-atlete besorg te wees of hulle te beskerm, word vroue verneder en skade aangedoen deur die beheerliggame wat sulke regulasies toepas. Hierdie twee talentvolle Namibiërs moet nou in Tokio meeding met hierdie storie wat oor hul koppe hang – nie die storie van hul talent of harde werk nie. Dit is presies hoekom geslagstoetsregulasies geskrap behoort te word.”
[email protected]

FOTO’s
Beatrice Masilingi op pad na ’n onlangse oorwinning in Pole in die 200.

Wêreldatletiek het skaars ’n dag ná Christine Mboma se o.20-wêreldrekord die mat onder haar voete uitgepluk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!