Namibië se onontginde waterpotensiaal
'n Kenner meen veral die water in standhoudende riviere op die landsgrense behoort beter benut te word.
Elvira Hattingh
Daar is ruimte om bykans 300 Mm³ (miljoen kubieke meter) méér water per jaar vir besproeiingsdoeleindes in Namibië in te span.
Boonop is vir die groter Namibië potensiaal jaarliks tot 'n miljard kubieke meter water in totaal beskikbaar, maar die nodige ontwikkeling en infrastruktuur moet eers aangebring word om dit te kan benut.
Tans is die nasionale vraag na water sowat 334,100 Mm³ per jaar.
Me. Maria Amakali, die ministerie van landbou, water en grondhervorming se direkteur van waterbestuur en die waarnemende adjunk- uitvoerende direkteur in die afdeling vir waterwese het Donderdag gesê water is 'n sleuteldryfkrag binne 'n voedselstelsel.
Sy is van mening dat veral water in standhoudende riviere op ons grense benut moet word.
Sy het die opmerkings tydens 'n nasionale gesprek oor die voedselstelsel in Namibië gemaak, wat ter voorbereiding van die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselstelselberaad in September begin het.
BESPROEIING
Sowat 33% van die beskikbare water in Namibië (135,275 Mm³) gaan vir besproeiingsdoeleindes, terwyl tot 415,028 Mm³ daarvoor toegestaan is.
Alhoewel gebiede soos die Nossob-Auob, die Omaruru-Swakop en die Ugab-Huab reeds hul potensiaal vir besproeiing bykans ten volle benut, is daar groot ruimte vir uitbreiding, het sy verduidelik.
Veral die Kunene-, Kavango-Omatako-, die Oranje-Visrivier asook die Zambezi-Kwando-Linyanti-gebied bied sterk potensiaal vir uitbreiding as dit by besproeiing kom. Die meeste groenskemas kan ook nog uitbrei en veel groter gebiede onder besproeiing plaas.
Dit sluit in die Neckartalskema, waar tans tot 5000 hektaar onder besproeiing geplaas kan word. Groenskemas het tot dusver net besproeiingsinfrastruktuur ontwikkel op 3 392 hektaar (29%), terwyl in totaal 11 531 hektaar beskikbaar is.
Sy is van mening dat ontwikkeling van stapel gestuur moet word om water uit standhoudende riviere op ons grense te benut – iets waaroor daar dringend met buurlande onderhandel moet word en wat andersins 'n verlore geleentheid sal wees.
Sy sê kitsvloede in binnelandse riviere wat kortstondig vloei as dit reën, moet ook ten volle benut word. Baie van die water word reeds in damme opgegaar.
Die riviere dra egter ook heelwat water. Die Visrivier asook sy dreineringstakke na die Oranjerivier is die grootste en voer jaarliks die meeste water weg – gemiddeld 660 Mm³.
Die grootste standhoudende rivier op Namibië se grense is die Zambezirivier, wat sowat 40 000 Mm³ per jaar dra. Daarnaas dra die Oranjerivierstelsel, wat die Visrivier insluit, sowat 11 000 Mm³ water per jaar.
In Namibië kom 60% van die water wat gebruik word, van ondergrondse bronne. Dit sluit in water van akwifers in die Karst-gebied, Ohangwena II, die laer Kuiseb, Omdel, Koichab, by Otjiwarongo, Windhoek en Stampriet. Namibië se ondergrondse water is oor die algemeen van goeie gehalte, buiten dat dit brak of sout in die sentrale noorde en verre suide is.
Amakali sê Namibië se reënneerslae is egter baie oneweredig en onvoorspelbaar, terwyl verdampingsyfers uitsonderlik hoog is. “Boonop word voorspel dat klimaatsverandering Namibië se weer nog meer onvoorspelbaar gaan maak,” het sy gesê.
TOEKOMS
Amakali het verduidelik die landbousektor gebruik tans tot 66% van die beskikbare water in die land – vir beide lewende hawe en besproeiingsdoeleindes. Dorpsgebiede, wat vervaardigers insluit, slurp sowat 19,7% van beskikbare water op, terwyl die toerisme- en mynbedryf onderskeidelik net 5,9% en 4,8% water gebruik.
In 2008 het die besproeiingsbedryf ongeveer 135,300 Mm³ gebruik. Na verwagting sal dié aanvraag verdriedubbel teen 2030, wanneer die bedryf na verwagting tot 497,200 Mm³ water sal benodig.
Amakali sê vir die toekoms sal koördinering in die besproeiingsektor baie belangrik wees.
“Daar is steeds baie water wat ontwikkel moet word – ook vir voerproduksie – maar in gebiede waar water volop is,” het sy gesê.
In 'n nuusvrystelling Woensdag het die ministerie van landbou, water en grondhervorming, met die Wêreldvoedselprogram (WFP) en die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), aangekondig dat dié gesprekke nog tot 16 Augustus sal voortduur.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie