Namibiu00eb se slagpale moet val!
Namibiu00eb se slagpale moet val!

Namibië se slagpale moet val!

Maria Eiseb
Hoekom moet mense sommer net so besluit om iemand anders se kind se lewe net so te beëindig? Wie gee hulle die reg?

Hierdie ding wat nou hier aangaan, moet miskien meer aandag kry en sommer onmiddellik gestop word.

Besef die mense wat nou die eienaars van Namibië se “slagpale” is hoeveel seer hulle veroorsaak?

Kinders word wees gelaat en die oumas en oupas by wie hulle agtergelaat word, is ook nie meer sterk genoeg om na die kinders te kyk nie.

Nee man, ek wil nie meer in ’n plek wees waar mense ’n grap van alles maak nie!

Wie moet praat of watter organisasie moet gestig word dat die manne besef vroue is nie gemaak om geslag te word nie, hulle is as helpers gemaak - wat gaan aan?

Etsê, besef niemand almal wil net lewe nie? Wie is wie se eienaar?

Almal wil in die tydjie wat die Gewer hom op die aarde gegun het iets daarvan maak!

Waarnatoe lei alles? Sal dit nie eendag skielik net draai na “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand” nie?

Ek raak baie bang, want ek kan sommer sien hoe chaos sal uitbreek.

Ek dink nou kan die grootkoppe ten minste nog iets doen en kyk hoe dit bietjie getem kan word. Kinders raak wees, oumas en oupas verloor mense wat na hulle omsien, en die land verloor sterk jongmense wat tot die ekonomie kan bydra.

Die vroue wat sommer net so vermoor word, is die leiers van môre se ekonomie, presidente, dokters en onderwysers - selfs polisiemanne.

Ouers speel ’n baie belangrike rol in ’n kind se opvoeding, en as die kind nie die voorreg gegun word om by sy ma groot te word nie, wat gaan van daardie kind word?

Dit is goed as die ouma en die oupa, oom, tannie en niggie daar is en liefde gee, maar die liefde wat ’n kind van ’n ouer kry, kan nie vervang word nie.

Dit is een ding as die Here in die akker kom pluk, maar weer ’n heel ander een as die ouer vermoor word.

Ek sou verkies dat daar wedersydse respek vir ander se lewens is.

As jy nie lewe kan gee nie, moet ook nie lewe neem nie.

Los, laat die mense op die Here se vasgestelde tyd doodgaan.

Moenie alles voorspring en mense se lewens kortknip nie.

Besef mense hoe ’n swaar saak dit is?

As jy baie kwaad is in ’n stryery, loop liewer weg - die tyd sal kalmte bring.

Ek verstaan 99% van die land se inwoners is kamma Christene.

Maar Christenskap word omtrent nie hier beoefen nie.

As daar ’n snaakse stem is, luister eers wat die stem vir jou sê - dan het jy nog die voorreg om te weier as die duiwel in jou oor kom fluister!

Namibië se slagpale moet rêrig val!

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer