Namibië se toegang tot Dubai Expo beperk
Staatsbesteding van miljoene kan ongedaan gemaak word.
Ellanie Smit – Met inwoners van Suider-Afrikaanse lande wat steeds verbied word om die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) binne te gaan, is Namibië se deelname aan die Dubai World Expo in wanorde gedompel.
Die algehele begroting vir Namibië se deelname aan die ekspo is N$20 miljoen, het die dagblad New Era laat verlede jaar berig. Dit sluit die N$15 miljoen in wat uit die fiskus voorgeskiet is en N$5 miljoen wat uit bykomende finansiering verkry is – insluitend kontantbydraes wat van verskeie instellings ontvang is.
Die begroting van N$20 miljoen is om voorsiening te maak vir onder meer die onderhoud van 19 permanente personeellede – hul lewenskoste, vlugte, verblyf en mediese versekering.
Mnr. Digu //Naobeb, die uitvoerende hoof van die Namibiese Toerismeraad (NTB), het die beperking bevestig tydens die bekendstelling van die toerismebedryf se Covid-19-inentingsveldtog verlede week.
Die wêreldwye toerismebedryf moet verenig in sy veroordeling van die buitensporige Covid-19-reisbeperkings wat die reisbedryf op sy knieë gedwing het, het hy gesê.
“Aanvanklik is toegewings gemaak dat diegene wat aan die ekspo deelneem met spesiale permitte kon ingaan, maar dié is ook onlangs vir ’n onbepaalde tyd opgeskort, behalwe vir nasionale dag-geleenthede van verskeie lande.”
//Naobeb het gesê Namibië se planne om sy toerismeweek by die ekspo van Januarie na die tweede week van Februarie aan te skuif, blyk ’n onrealistiese droom te wees indien hierdie saak nie dringend opgelos word nie.
“Dis net ’n bohaai en dit laat al die energie en beplanning verlore gaan,” het hy gesê.
Die ekspo het op 1 Oktober 2021 afgeskop en sal op 31 Maart eindig.
INENTING IS NOODSAAKLIK
Ongeag verskillende menings oor Covid-19-entstowwe, sal ’n land se inentingskoers ’n deurslaggewende rol speel in die herstel van sy reisbedryf, reisigers se vertroue en die posisionering van die land as ’n veilige toerismebestemming, het die NTB-hoof gesê.
Hy het bygevoeg sommige operateurs in die bedryf het reeds begin om hul eie beleide in te stel wat verpligte inentings ondersteun – wat hulle met voornemende reisigers deel as ’n manier om besoekers te lok.
“Ons kan hulle nie kwalik neem dat hulle proaktief optree met so ’n beleid nie, want vele kliënte vra oor hul inentingsbeleid en sommige ingeënte reisigers wil versekering hê dat almal wat hulle tydens ’n reis sal teëkom, ook ingeënt is.”
//Naobeb sê selfs al maak Namibië nooit inentings verpligtend nie en vereis nie dat toeriste ten volle ingeënt moet wees om die land binne te kom nie, is dit hoogs waarskynlik dat inentingsbeleide van individuele toerismemaatskappye ’n belangrike onderskeidende faktor in reisigers se koopbesluite sal word.
BEMARKING
Hy sê geen twyfel bestaan dat om ingeënt te word en om personeel te vra om hulle te laat inent, sal die herstel van die toerismebedryf ’n hupstoot gee nie.
“Om frontlinie-toerismepersoneel te hê wat ten volle ingeënt is, skep vertroue onder reisigers en sal goed wees vir Namibië as ’n reisbestemming. Dit word ’n verkoopspunt en sal ons bemarking help.”
Op nasionale vlak is dit belangrik vir die regering om met die bedryf en sy belanghebbendes saam te werk sodat almal die maatstawwe verstaan wat bereik moet word om die opheffing van reisbeperkings te vergemaklik, het //Naobeb gesê.
“Sulke maatstawwe of regulasies moet egter konsekwent toegepas word sonder enige onduidelikheid om verwarring in die mark te voorkom.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie