Namibië staan sy man in Bergkoninkryk

Tafeltennis
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die 2019 Streekvyfkampioenskappe van die Afrika Unie-sportraad (AUSC) is vanaf 8 tot 11 Desember in Maseru, Lesotho, aangebied.

Die tafeltennistoernooi vir senior spelers het uit sewe verskillende afdelings bestaan waar man- en vrouespanne deelgeneem het. Gemengde pare, mans en vroue kon sake in die dubbelspelafdeling uitspook terwyl individue mekaar in die enkelspel gepak het.

Suid-Afrika was sterk by dié kompetisie verteenwoordig en dit was gou duidelik dat hulle ’n dominante rol gaan speel. Dus was dit geen verrassing toe hulle met al die goue medaljes veilig in hul besit huiswaarts gekeer het nie.

Die jeugdige Namibiese span was nie deur die groot name by die toernooi geïntimideer nie en kon goeie rekenskap van hulself gee. Delton Dreyer, Ewan Orlam en Ronaldo Vogel het met passie gespeel en groot belofte vir die toekoms getoon. Delton, Dreyer en ook Rudi Saunderson teken oorwinnings in die enkelspelkompetisie aan.

Die gesoute Heiko Fleidl het seker gemaak hy word ernstig deur sy teenstanders opgeneem en bereik die kwarteindronde. Fleidl het van die Namibiërs die beste in die enkelspel gevaar, maar word in die kwarteindronde uitgeskakel.

Drie van die spelers in die vrouespan is nog juniors, maar dit het die viertal nie gekeer om besonder goed in Maseru te vaar waar hulle die bronsmedalje in die vroueafdeling opgeraap het nie. Net Suid-Afrika en Botswana kon die jeugdige aanslag van Michelle de Koker, Kaitlyn Beukes, Alicia Aebes en Reese Saunderson tem.

De Koker bereik die kwarteindstryd in die enkelspelafdeling terwyl Saunderson Botswana uitskakel om ook na die kwarteindronde deur te dring. Saunderson word deur Musfiquh Kalam van Suid-Afrika uitgeskakel om die vroue-enkelspeltitel te wen.

Orlam vertel die Namibiese span was twee weke voor hul vertrek na Lesotho deur Mu Zhixiang, ’n professionele afrigter van China, bygestaan.

“Baie dankie aan die Chinese ambassade wat gereël het dat Zhixiang ons kon bystaan. Dit sou nie vir ons moontlik gewees het om sonder die hulp van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOC) en die Frankie Fredericks-stigting (FFF) deel te neem nie.

“Die NNOC en die FFF het dit vir ons moontlik gemaak om na die Bergkoninkryk te reis waar ons in die elite toernooi kon kompeteer. Baie dankie aan die instellings wat ons drome help bewaarheid het,” het Orlam gesê.

Namibië sal volgende jaar in Maart afrigtingsprogramme van die Internasionale Tafeltennisfederasie (ITTF), asook die junior AUSC-streekvyfkampioenskappe aanbied. Skole wat in die ITTF se programme belang stel, kan Jonathon Sam by 081 128 0599 skakel of ’n e-pos stuur na [email protected].

Mense wat tafeltennis wil speel, kan die Namibiese Tafeltennisvereniging (NTTA) se kuberkantoor by http://namtta.leaguerepublic.com/ besoek of ’n e-pos na [email protected] stuur.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!