Namibiu00eb, wees gewaarsku!
Namibiu00eb, wees gewaarsku!

Namibië, wees gewaarsku!

Ná die jongste Noord-Koreaanse missieltoets is lande met handelsbetrekkinge met dié land ernstig gewaarsku.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - In die sterkste boodskap nóg in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) het die Amerikaanse ambassadeur na die VN, me. Nikki Haley, 'n ernstige waarskuwing gerig aan lande wat met ekonomiese betrekkinge met Noord-Korea voortgaan.

“Daar is lande wat handel met Noord-Korea toelaat en selfs aanmoedig en die VN se veiligheidsraadresolusies skend. Daardie lande wil ook voortgaan met hul eie handelsooreenkomste met Amerika. Dit gaan nie gebeur nie,” het sy gesê.

Haley het daarop gewys dat Amerika 'n groot kapasiteit op handelsgebied het, iets waaroor pres. Donald Trump herhaaldelik gepraat het.

“Ons gesindheid oor handel verander wanneer lande nie internasionale veiligheidsbedreigings ernstig opneem nie,” het sy gewaarsku.

Haley het gepraat tydens 'n nood­sitting van die veiligheidsraad wat belê is om Noord-Korea se jongste missieltoets te bespreek.

Noord-Korea het Maandag vir die eerste keer daarin geslaag om 'n inter­kontinentale ballistiese missiel te toets.

Dit het die potensiaal om die Noord-Amerikaanse vasteland te bereik.

Namibië het, ongeag VN-sanksies wat vir die eerste keer in 2006 teen Noord-Korea ingestel is, voortgegaan om sake met die land te doen en reuse­konstruksieprojekte, veral in die verdedigingsektor, aan Noord-Korea toegeken.

Die uitbreiding van die Luiperds­vallei- militêre basis, 'n ammunisie­fabriek by Oamites, 'n militêre museum op Okahandja en 'n nuwe hoofkantoor vir die ministerie van verdediging by Suiderhof se militêre basis is voorbeelde hiervan.

Die adjunk eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het verlede jaar aangekondig dat Namibië sy ekonomiese betrekkinge met Noord-Korea beëindig.

Hierdie versekering is ook aan die internasionale gemeenskap gegee, maar sedertdien was daar geen ­aanduiding dat dit wel die geval is nie.

Amerika het sedert 2003 altesaam US$1,9 miljard (N$24,7 miljard) in ontwikkelingshulp aan Namibië beskikbaar gestel, waarvan US$1,3 miljard (N$16,7 miljard) vir die bekamping van MIV/vigs was.

Washington het verlede jaar ook vir die eerste keer goedgekeur dat ­Namibiese beesvleis na die winsgewende Amerikaanse mark uitgevoer word. Volgens die Amerikaanse sensusburo se webtuiste het Namibië verlede jaar goedere ter waarde van US$91,8 miljoen (N$1,194 miljard) na Amerika uitgevoer.

Volgens die jongste statistiek vir vanjaar het Namibië reeds US$43,7 miljoen (N$568,1 miljoen) se goedere na Amerika uitgevoer en US$33,4 miljoen (N$434,2 miljoen) se goedere van Amerika af ingevoer.

Dit kon nie bevestig word of 'n interministeriële vergadering onlangs gehou is om te besluit hoe om die oorblywende Noord-Koreane wat in Namibië aan regeringsprojekte werk op 'n diplomatiese manier uit die land te kry nie.

Politieke ontleders wys daarop dat Namibië, met verlede jaar se aankondiging dat ekonomiese betrekkinge met Noord-Korea gestaak word, veel verder as ander lande in Afrika gegaan het om gehoor aan VN-resolusies te gee.

Noord-Korea is ook aktief in onder meer die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Angola en Senegal.

Uganda het in Mei verlede jaar aangekondig dat die land alle militêre- en polisiebande met Noord-Korea verbreek. Sodoende het hulle 'n strategiese deurgangsroete vir Pjongjang se wapen- en ander uitvoere na Afrika gesluit.

Diplomatieke bronne waarsku reeds sedert pres. Donald Trump in Amerika aan bewind gekom het dat lande wat voortgaan om noue bande met Noord-Korea te handhaaf, moet ligloop vir streng optrede uit ­Washington.

Hulle wys ook daarop dat, al was Haley se opmerkings in die veiligheidsraad eerstens op China gemik, wat Noord-Korea se grootste en belangrikste handelsvennoot is, ander lande nie uitgesluit is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!