Namibiu00eb wend hom tot die Ooste
Namibiu00eb wend hom tot die Ooste

Namibië wend hom tot die Ooste

China sê die doel is om 'algemene welvaart' te bereik, maar is dit ten koste van gewone burgers?
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die minister van ­internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het onlangs aan 'n saal vol jong Namibiërs gesê om hulself met die inhoud en implikasies van die onlangse Forum vir China-­Afrika Samewerking (Focac) vertroud te maak, omdat dit 'n impak op hul lewens gaan hê.

China staan vas by sy agenda vir Afrika, terwyl dit voorkom of Namibië, soos ander Afrikalande, sloer om sy eie agenda vir die Afrika-China-verhouding op te stel en Namibiërs nie seker is van hul rolle in dié snelgroeiende verhouding nie.

Die politieke wetenskaplike, dr. Henning Melber, sê: “China het 'n Afrika-beleid, maar Afrika het nog nie werklik enige duidelike China-beleid nie.”

In die afwesigheid van 'n duidelike benadering word sake tussen China en Afrika dikwels 'n “elite ooreenkoms”, sê Melber.

“Dit is die enkeles in beheer van die regering en staat, asook van lisensies vir die uitbuiting van ­natuurlike hulpbronne, wat dikwels deel is van die ­wen-wen-situasie ten koste van gewone burgers,” het Melber gesê.

Hy is egter vinnig om by te voeg China kan nie kwalik geneem word dat hy van sy toenemende voorkeurposisie by plaas­like leiers gebruik maak nie.

Melber raai Afrikaleiers aan om die beste ooreenkomste te beding.

Dié ooreenkomste moet gevolglik nie net in hul eie belang wees nie, maar ook in dié van gewone burgers.

Die Swapo-regering en China verwys dikwels trots na 'n ­gedeelde geskiedenis, wat in vriendskaps­terme beskryf word. Dít het behels dat China Namibië se bevrydingsbeweging met wapens en militêre opleiding voor onafhanklikwording ondersteun het.



VERBOD

Min of niks word egter gesê oor China se wapenhandel met Suid-Afrika in die apartheidsjare in die tagtigs nie. Dít ondanks die feit dat China 'n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad is, wat in 1977 'n verpligte verbod op handel met Suid-Afrika geplaas het. Dié verbod het tot 1994 geduur.

Die geheime en donker bedrywighede met Suid-Afrika in die apartheidsjare is onlangs in Hennie van Vuuren se boek Apartheid Guns and Money onthul.

“As 'n openlike vriend van die bevrydingsbewegings oraloor suidelike Afrika was China 'n ver­skaffer van die bomme, wapens en ammunisie wat teen hulle deur die apartheidsweermag en sy gevolmagtigdes gebruik is,” het Van Vuuren geskryf.

Hoewel dit kompleks en selfs 'n verleentheid kan wees, druk China deur met sy planne vir Afrika, wat beskryf word as 'n wen-wen-situasie waarin China 'n houding van geen ingryping teenoor ander lande se buitelandse beleid inneem.

Na afloop van Focac verlede jaar het China US$60 miljard se finansiering vir Afrika aangekondig: US$50 miljard van die Chinese staat – wat US$10 miljard minder is as wat in 2015 beloof is – en die res is van private Chinese beleggings afkomstig. Chinese finansiering wat verlede jaar beloof is, sluit US$20 miljard se nuwe lenings en US$15 miljard se buite­landse hulp in, sowel as 'n verdere US$15 miljard in twee “spesiale fondse”.

Hoewel die 2018 Focac-lenings heelwat minder is as wat in 2015 beloof is, beteken dit 'n afname in die rente op lenings wat toe aangebied is. Buitelandse hulp is teen US$5 miljard per jaar die hoogste wat ooit aan Afrika gebied is, sê me. Deborah Brautigam van die China-Afrika-navorsingsinisiatief-blog.

Dit beteken China verskaf meer rentevrye lenings – 'n skuif wat China gemaak het ná hy daarvan beskuldig is dat hy 'n “skuldstrik” vir Afrika­lande stel.

“Ek deel die kommer dat die Chinese 'rentevrye' beleid enigsins vry van optrede in eie belang is,” sê Melber.

“Hulle is net so min filan­tropies as enige ander buitelandse rolspelers wat met Afrikalande wil saamwerk. Toegang tot hulpbronne is die uiteindelike motief.”

Volgens Melber is 'n voorbeeld hiervan China se huidige oorheersing in Namibië se uraansektor.

Na afloop van die 2018-beraad is twee ­dokumente aanvaar. Die een heet die Beijing ­Declaration – Towards an Even ­Stronger China-Africa Community with a Shared Future en die ander die Focac Beijing Action Plan (2019 to 2021).

Meer as 'n 100 nuwe maatreëls is hierin vervat om handel en ander samewerking te bespoedig, en dit behels die implementering van agt grootskaalse kernpunte.

Dít sluit die bevordering van nywerhede, aaneen­skakeling van infrastruktuur, fasilitering van handel, “groen” ontwikkeling, kapasiteitsbou, gesondheidsorg, onderlinge uitruiling van mense, asook aangeleenthede wat met vrede en sekuriteit verband hou in.



HANDEL GROEI STERK

“Ons steun Chinese maatskappye wat aan die ontwikkeling van Afrika se infrastruktuur deur middel van beleggings, konstruksie of bestuur deelneem, of dan deur middel van ander modelle wat op die versterking van samewerking op die gebiede van energie, vervoer, inligting, telekommunikasie en oorgrens-waterhulpbronne fokus,” het die Chinese ambassade in Namibië se saakgelastigde, mnr. Yang Jun, onlangs gesê.

Altesaam 28 ­Afrikalande, insluitend Namibië, het tot China se Gordel-en-Pad-inisiatief ingestem, wat verwys na landroetes vir pad- en spoorvervoer en wat as die Silk Road Economic Belt bekend staan.

Volgens syfers verskaf deur die Bank of Namibia (BoN), is dit kommerwekkend dat 'n fraksie minder as N$12 miljard tussen 2014 en 2017 van Namibië na China beweeg het.

In dieselfde tydperk het N$5,5 miljard van China na Namibië beweeg. Die BoN moet nog syfers vir vorige jare verskaf.

Jun sê die dryfkrag agter Namibies-Chinese samewerking is 'n droom van gedeelde welvaart.

Sedert 2015 se Focac-­beraad in Johannesburg is 20 projekte met die hulp van China volgens Jun in Namibië voltooi of steeds voortdurend, met N$2,8 miljard in finansiering en toegekende lenings.

Volgens hom het Chinese maatskappye 11 000 ­werksgeleenthede tot dusver in Namibië geskep en US$34 miljoen in buitelandse direkte beleggings na die land gebring.

Hy sê voorts Chinese maatskappye het sedert 2016 N$250 miljoen in belasting gegenereer.

Volgens hom was daar in 2018 sterk groei in bilaterale handel teen US$800 miljoen. Jun sê voorts China wil in Namibië met tegnologie help, landboukenners stuur, die bou van groot­skaalse infrastruktuurprojekte ondersteun, omgewingsamewerking soos ontsouting implementeer, help met die beskerming van wildlewe en die voorkoming en beheer van verwoestyning, asook met beroepsgerigte opleiding.

Tans studeer meer as 40 Namibiese studente met Chinese regeringsbeurse in China.

Jun het voorts gesê meer as 300 Namibiese “elites uit alle vlakke van die samelewing” het deelgeneem aan opleidings- en navorsingsprojekte in China, terwyl meer as 400 laer- en hoërskoolleerlinge beurse van die Chinese ambassade ontvang het.



TOEKOMSPLANNE

Ook het 10 000 arm Namibiese families Panda Packs ontvang, wat ­skoolsakke en ­skryfbenodighede insluit.

Die Chinese mediese span by die Katutura-staatshospitaal het die afgelope 22 jaar sowat 100 000 Namibiërs behandel.

China wil ook 'n Confucius-instituut plaaslik begin en die implementering van 'n veilige stad-projek ondersteun, wat 'n herhaling is van wat reeds in Pakistan gedoen is.

Die veilige stad-konsep is 'n tegnologiese Huawei-­produkoplossing met kringtelevisiekameras op strate wat met wetstoepassing help.

Kommentaar

Republikein 2024-11-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 38° Rundu: 23° | 38° Eenhana: 23° | 37° Oshakati: 26° | 34° Ruacana: 23° | 33° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 23° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 25° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 24° | 37° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 22° | 35° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 24° | 35° Lubumbashi: 18° | 31° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 13° | 31° Lilongwe: 21° | 32° Maputo: 22° | 31° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 22° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 30° Lusaka: 23° | 33° Harare: 18° | 30° #REF! #REF!