Namibiu00eb wil aan Cites onttrek
Namibiu00eb wil aan Cites onttrek

Namibië wil aan Cites onttrek

Suider-Afrikaanse lande het bloedneus op die 18de beraad van die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies gekry.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê hy gaan ’n vergadering met ander lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) belê om die onttrekking aan die Konvensie vir die Handel in Bedreigde (Cites) te oorweeg.

Dit volg ná verskeie voorstelle van SADC-lande met die wêreld se grootste renoster- en olifantbevolkings by Cites se 18de beraad (Cop18) afgekeur is, wat gister in Genève, Switserland, ten einde geloop het.

Namibië het veral bloedneus gekry toe sy voorstel om sy witrenosters van Aanhangsel I na Aanhangsel II af te gradeer Dinsdag afgekeur is.

Beperkings op handel in dié bedreigde spesie bly dus steeds van krag.

Suid-Afrika en eSwatini (voormalige Swaziland) se witrenosters is reeds op Cites se Aanhangsel II gelys.

Namibië wou hê die trofeejag van witrenosters en die uitvoer van lewende diere moes goedgekeur word sodat die inkomste hieruit vir die bewaring en beskerming van dié spesie aangewend kan word.



Shifeta het Dinsdag sy teleurstelling oor Cites se afkeuring uitgespreek en gesê sommige lande meen Namibië se witrenosterbevoking is steeds klein. Hy sê Namibië beskik oor die tweede grootste witrenosterbevolking ter wêreld.

“Hierdie lande het menings wat nie op wetenskap gegrond is nie. In plaas van om wetenskap toe te pas, verpolitiseer hulle die hele kwessie,” het Shifeta gesê.

“As die streek met die grootste renosterbevolking sal SADC-lande ’n vergadering hou om te besluit of ons in Cites gaan bly.”

Shifeta het gesê die lande wat besluit of spesies op die Cites-lys op- of afgegradeer word, “is vermetel en het nie eens meer hierdie spesies in hul lande nie”.

“Cites help ons nie regtig om ons wilde diere te bewaar nie en dit frustreer ons – die lande wat goeie goed doen. Ek dink daar is geen rede vir ons om deel van Cites te bly nie,” het Shifeta gesê.

RENOSTEREIENAARS

Namibiese witrenostereienaars is ook teleurgesteld oor die Cites-besluit, en ondersteun Shifeta ten volle om uit Cites te onttrek.

“Suid-Afrika en Namibië beskik oor 98% van die wêreld se renosterbevolking en is teleurgesteld in Cites,” het mnr. Jaco Muller van Help our Rhinos Now Namibia (HoRN.Nam) en die Rhino Momma Project gesê.

“Ons as witrenostereienaars sê al lankal dit moet stop dat die res van die wêreld, wat nie eens renosters in hul lande het nie, vir ons voorskryf wat ons met ons renosters moet doen,” het hy gister aan Republikein gesê.

“As Europa en Amerika renosters gehad het, sou hulle beslis daarin handel wou dryf. Ons ondersteun die minister om Namibië uit Cites te onttrek,” het hy beklemtoon.



SADC-LANDE GEGRIEF

Nóg ’n Cites-besluit wat SADC-lande gegrief het, is dat beheer oor die verkoop van Namibië, Botswana en Zimbabwe se opgepotte ivoor nie verslap is nie.

Dié lande het die grootste olifantbevolkings.

Die versoek om lewende Afrika-olifante uit te voer, is ook met ’n tweederdemeerderheid by Cites afgekeur. Geen wilde olifant mag meer uit sy trop verwyder word en na dieretuine, safariparke of vermaaksentrums uitgevoer word nie.

Zimbabwe was die grootste uitvoerder van olifantjies – veral na dieretuine in China.

Gister het kameelperde ook amptelike internasionale beskerming op Cites se Aanhangsel II gekry, wat beteken die beperkte handel in langnekke sal voortaan gereguleer en gemonitor word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!